Gebed is nie onderhandelinge met God nie. Gebed gaan immers nie oor myself nie – nie volgens “Die Onse Vader” nie. Gebed gaan heel eerste oor God. Dit fokus op Hom, nie op my en al my behoeftes en versoeke nie. Gebed skuif die soeklig gedurig weg van myself. Dit laat my wegkyk. Dit laat my opkyk. Dit laat my God beter raaksien in geloof.
Beslis mag ek ook bid vir my porsie daaglikse brood. Ek moet! Maar dan gaan dit oor daaglikse brood, nie oor selfsugtige versoeke en behoeftes nie. Ek mag klop aan die hemelse deur. Ek mag vra, smeek en pleit. Dít doen ek egter sonder om die gesprek met God te probeer dikteer. In elk geval het ek niks hier in my hande om mee te onderhandel as ek voor die Here staan nie.
In verwondering en in nederigheid kyk ek op na Hom. Vir elke stukkie genadebrood is ek eindeloos dankbaar. Aan God se voete kom ek regtig tot rus.