Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gebeure in Algerië behoort ANC regop te laat sit

Die ideologie van bevryding is nie genoeg om ’n party vir dekades lank aan bewind te hou nie. Kiesers se geduld raak een of ander tyd op, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Die Algerynse president Abdelaziz Bouteflika (82) is al vir twintig jaar aan bewind en is baie ernstig siek nadat hy in 2013 ’n beroerte gehad het. Foto: Thomas Trutschel/ Getty Images

Die Algerynse Nasionale Bevrydingsfront, oftewel die Front de Libération Nationale (FLN), is een van die oudste en mees gesiene bevrydingsbewegings in Afrika. Dié party se bande met die ANC dateer na die sestigerjare toe FLN-lede vir oud-president Nelson Mandela met wapens en opleiding gehelp het.

Die Algeryne ry al vir dekades op die rug van hulle bevrydingsgeskiedenis – hul sogenaamde liberation credentials – net soos die regerende partye in Zimbabwe, Angola en Mosambiek. Maar die tyd stap aan en daardie ideologiese teruggryp na die geskiedenis kan nie vir ewig hou nie.

Die afgelope paar weke het tienduisende mense in Algerië die strate ingevaar om te protesteer teen ’n poging deur president Abdelaziz Bouteflika om vir ’n vyfde termyn aan bewind te bly. Bouteflika (82) is al vir twintig jaar aan bewind en is baie ernstig siek nadat hy in 2013 ’n beroerte gehad het. Hy is permanent in ’n rolstoel en in Algerië weet mense dat hy nie regtig die een is wat die land regeer nie.

Die werklike bewindhebbers is diegene wat agter hom staan en in die skaduwees dinge manipuleer. Bouteflika se jonger broer Saïd (61) is een van die magtige mense agter die troon.

Die afgelope paar weke het tienduisende mense in Algerië die strate ingevaar om te protesteer teen ’n poging deur pres. Abdelaziz Bouteflika om vir ’n vyfde termyn aan bewind te bly.Foto: Kiran Ridley/Getty Images

’n Nuwe grondwet

Vir gewone Algeryne was dit net eenvoudig een te veel dat Bouteflika op 18 April weer die FLN se presidentskandidaat sou wees.

Volgens hulle kan die FLN nie langer die land in die afgrond bestuur bloot omdat dit in ’n moedige bevrydingstryd teen die Franse koloniale bewind baklei het nie. Algerië het in 1962 onafhanklik geword.

Die bevrydingsgeskiedenis behoort nie net aan een party nie, maar aan alle Algeryne, sê van die jongmense wat met vlae en baniere op ’n vreedsame wyse die afgelope paar weke in Algiers en al die vernaamste dorpe in die land betoog het.

Die FLN het volgens hulle sy geloofwaardigheid verloor deur jare se outoritêre bewind en grootskaalse korrupsie. Die tekens was reeds daar toe die party in 2017 sy dekades-lange meerderheid in die parlement verloor het en net deur ’n koalisie met ’n ander party aan bewind kon bly.

Nadat die protesbewegings einde verlede week ongekende afmetings bereik het, het Bouteflika (of sy spookskrywers) in ’n brief laat weet dat hy die stemme van die duisende jongmense gehoor het en dat hy aanvaar om nie vir ’n vyfde termyn as kandidaat te staan nie.

Die verkiesings word uitgestel en ’n nasionale vergadering gaan gehou word sodat Algerië ’n nuwe grondwet kan opstel. Werklike demokratiese verkiesings sal dan volgens nuwe beginsels gehou word.

Die geskiedenis het geleer dat lande in Noord-Afrika wat uit jare van outoritêre bewind bevry word, groot politieke onstabiliteit kan beleef.

Die brief is wyd verwelkom. Binne ’n paar uur het die eerste minister bedank en ’n nuwe een aangestel – ’n teken dat dinge in Algerië vinnig verander. Die feit dat ’n nuwe datum vir verkiesings nog nie vasgestel is nie, is wel kommerwekkend. Wie gaan die sogenaamde “nasionale dialoog” lei en wie gaan sorg dat demokratiese reëls gerespekteer word?

En hoe lank gaan Bouteflika dan nog aanbly voor die nuwe verkiesings?

Die geskiedenis het geleer dat lande in Noord-Afrika wat uit jare van outoritêre bewind bevry word, groot politieke onstabiliteit kan beleef. Dit was veral die geval in Libië waar die dood van Moeammar Ghaddafi in 2011 die land in chaos en burgeroorlog gedompel het.

Nietemin, vir die massa mense in Algerië is dit ’n belangrike oorwinning. Hulle het dit reggekry om op ’n vreedsame manier te sorg dat ’n korrupte kliek uit magsposisies verwyder word.

Vir die ANC is hier ’n les te leer.

Die ideologie van bevryding is nie genoeg om ’n party vir dekades lank aan bewind te hou nie. Kiesers se geduld raak een of ander tyd op en dan kan slagspreuke en ’n teruggryp na vervloë dae jou niks in die sak bring nie.

Mense wil ekonomiese ontwikkeling sien, werksgeleenthede kry en voel dat hulle eie regering na hulle veiligheid omsien. Foto’s van bevrydingshelde op verkiesingsplakkate doen dit nie meer vir hulle nie.

*Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant vir die Instituut vir Sekerheidstudies. Menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.