Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gebou op die rug van slawe
Hein Willemse

Hoewel 1 Desember nie ’n openbare vakansiedag is nie, behoort dit vir alle Suid-Afrikaners ’n dag van verootmoediging te wees. Op dié dag in 1834 is derduisende slawe vrygestel, selfs al moes hulle ’n verdere vier jaar in diens bly. Suid-Afrika is op velerlei wyses te danke en te wyte aan die koloniale geskiedenis van slawerny.

In die aanhef tot ons Grondwet skryf die opstellers “[o]ns . . . erken die ongeregtighede van ons verlede; [ons] huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het”. Slawevrystellingsdag behoort ’n dag van huldiging te wees. Vanaf die aankoms van die eerste slawe was slawerny deel van ’n samelewing wat sedertdien op die suidpunt van Afrika vorm aangeneem het. Dié gebonde mense is beskou as minder mens, as verhandelbare vrag en hanteer as vervangbare goedere.

Hoewel slawe omstreeks die einde van die 18de eeu in die Kaapse kolonie merendeels in slawerny gebore is, het hul ouers en voorouers uit verre streke gekom. Kenners raam toe wetgewing die invoer van slawe in 1807 stopgesit het (maar handelaars klandestien daarmee voortgegaan het), reeds meer as 60 000 slawe, hoofsaaklik uit die kusstreke van Afrika, Madagaskar, die Indonesiese argipel, die Indiese Koromandelkus en Ceylon na die Kaap verskeep is.

Tydens die pokke-epidemie van 1756 het byna ’n derde van die VOC-slawe gesterf.

Hierdie mense is onder erge omstandighede uit hul gebiede van oorsprong afgevoer, meestal vir weke, selfs maande, geboeid en onder- of tussendeks in bedompige omstandighede met weinig beweegruimte aangehou. Nie almal het die oortog oorleef nie. Tientalle mans en vroue sou tydens uitbrekings van siektes en epidemies sterf. Tydens die pokke-epidemie van 1756 het byna ’n derde van die VOC-slawe gesterf.

Hierdie mense het onontbeerlike bydraes op alle vlakke van die ekonomie gelewer. Hulle het hul lewe vir die land opgeoffer, meesal onder dwang en sonder besoldiging. Die vestiging van die vroeë kolonie en die latere Suid-Afrika is op hul rug gebou.

Die geskiedenis en praktyk van slawerny het nagevolge gehad waarmee ons steeds sukkel. Een daarvan is die vestiging van diensverhoudings wat so diep gewortel is dat dit byna as natuurlik beskou word. Dink maar aan die vanselfsprekendheid van bediendes, nou genoem huishulpe en versorgers, in middelklas-Suid-Afrika.

In ons gesaniteerde wêreld vergeet ons van die wreedhede, maar dit het diep letsels op ons kollektiewe psige nagelaat.

Tot taamlik onlangs het diensbenamings wat herinner aan koloniale verhoudings steeds voorgekom. Gepaardgaande daarmee is die houding en verwagting van superioriteit en ondergesteldheid wat verspreid voorkom, hoewel in opgedateerde verband en toegewikkel in moderne woordeskat. Dis ingesteldhede wat fundamenteel terug te voer is na die outydse meester-slaaf-verhouding.

’n Ander nagevolg is die geweldskultuur wat ons sosiale interaksie kenmerk. Slawe is dermate gestraf dat geringe oortredings dikwels aanleiding tot wrede strawwe gegee het, gesanksioneer en uitgevoer deur die geregtelike owerhede. In ons gesaniteerde wêreld vergeet ons van die wreedhede, maar dit het diep letsels op ons kollektiewe psige nagelaat. In ons land is geweld dikwels die eerste opsie in die beslegting van geskille.

Ons verneem met onrusbarende reëlmaat van individue, groepe en sommige politieke partye wat in vuige taal afkeer teen mede-Suid-Afrikaners en buitelanders aanblaas. Dié nativistiese uitsprake grens aan haatspraak en vreemdelingehaat, maar diegene vergeet dat mense uit talle wêrelddele die land opgebou het. Slawevrystellingsdag wys nie net ’n onreg uit nie, maar behoort ’n grondslag te skep waarop die waardes van ’n oop, vry en verdraagsame samelewing geskep word.

  • Willemse is professor in letterkunde en literêre teorie in die departement van Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Hein Willemse  |  Slawe  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.