Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Gebruik die woede om mekaar te omarm’

Ná die wrede moord op Leon Brits, hotelier en sakeman-boer van Pofadder en Kakamas, rig Anelia Heese uit Nürnberg, Duitsland, ’n pleidooi dat die inwoners van haar geliefde streek mekaar sal dra en dat die dood van Brits nie verpolitiseer moet word nie.

’n Sakkie met grond van Leon Brits (41) se geliefde plaas, Pelladuin naby Pofadder, was deel van sy begrafnisbrief. Hy is Sondag op ’n roudiens in Marchand op die oewer van die Oranjerivier vir oulaas gegroet.Foto: Sonel van As

’n Uur gelede het ek die nuus ontvang van die wrede moord op Leon Brits (41) van Pofadder.

Ek skryf uit ’n koue Duitsland, 12 500 kilometer van my tuisdorp af. Maar wanneer ek my oë toemaak, sien ek Pofadder so voor my. As ek nou huis toe sou kon gaan, sou ek by Kaapstad se lughawe in die pad val. Dis ’n mooi pad, maar hier anderkant Springbok begin jou beendere styf voel.

Die N14 word lank en skraal deur die dorre Boesmanland. Toeriste dink hier gaan niks aan nie, maar as jy dié wêreld ken, wéét jy daar is lewe. ’n Trop dorperskape, ’n versamelnes teen ’n Eskom-paal, ’n windpomp, ’n blommende kokerboom, die ystermyn, ’n donkiekar.

Pofadder is die dorpie waar jy stop vir brandstof, ’n Wilson-toffie en varsgebakte mosbeskuit uit die kontrei. Dis die dorpie waar jy jou mense bel en laat weet dat jy amper tuis is. Tuis . . . ’n uur tot by die Alheit-afdraai, dan Marchand, oor die koppie waar jy moet afslack vir stadige trekkers. Op die horison begin jy die rivier sien.

Anders as die res

Tuis . . . ’n plaashuis sonder diefwering, want hierdie gemeenskap is nie soos die res van Suid-Afrika se plaasdorpe nie. Ons het ons probleme, ja. Ons woonbuurte is vuil, want die munisipaliteite sukkel. Ons sukkel met drankmisbruik. Ons koop nuwe bakkies, maar as die reën nie kom nie, of die rosyntjies reën nat, dan gaan dit swaar.

Ten spyte van die ongelykheid het ons een ding gemeen: Ons werk almal hard. Selfs al bak die son teen ’n helse temperatuur, werk ons sonder verkoeling. Ons sit op warm skoolbanke in ongemaklike skoolklere, ons dra ons hoede in die wingerd, ons ruik die stank van die wynkelder, ons hardloop kaalvoet op die atletiekbaan, ongeag ons velkleur.

Dra mekaar

Hierdie moord is verskriklik. Dis sinneloos, soos alle moorde is. Maar kom ons dra mekaar, ter wille van Suretha en haar kinders. Ons mag kwaad wees, want die onreg is verskriklik. Mag die moordenaars gestraf word. Maar kom ons gebruik hierdie woede om vir mekaar te sê: Hierdie kite gaan nie vlieg nie.

Kom ons kook kerrie-en-rys en lewer dit af by die wat dit nodig het.

Kom ons kook kerrie-en-rys en lewer dit af by die wat dit nodig het.

As jy in die apteek staan, gee ’n geldjie vir melk vir die vrou met die babatjie op haar rug. As jy in Pep is, koop ’n stukkie klere vir ’n skoolkind. As jy in die biblioteek is, vra vir die kinders wat daar wag of jy kan help met skoolwerk. Laat iemand jou kruideniersware in jou voertuig laai vir ’n tip. Groet die mense in die ry in die bank en in die poskantoor – praat oor hierdie jaar se oes.

As jy uit die dorp ry, gee iemand ’n lift van die kliniek af en koop ’n sak mieliemeel vir jou werkers. Wees vriendelik met die polisielede by die polisiekantoor en die mense by binnelandse sake, want hulle werk flippen hard, al is daar nie ondersteuning van die goewerment nie. Ry vanaand versigtig, want daar kan dalk ’n dronk siel op die pad wees. Stop om te check of hy/sy orraait is en bel vir hulp.

My tuiste

Wanneer ek weer in Suid-Afrika kan kom bly, gaan ek huis toe kom, want ek weet dat mense wat ek nie eens herken nie, my gaan groet. Hulle gaan uitvra oor hoe dit met my ouers, my broers en my kinders gaan. Hulle gaan my groet en ek gaan weet ek is welkom hier.

Kom ons wys vir Suid-Afrika dat ons mekaar groet in hierdie gemeenskap. Ons groet mekaar, want ons ken ons respekte.

Eer vir Leon

Leon Brits het só baie gedoen vir ons gemeenskap. Sy hotel is ’n hawe vir elke besoeker in ons omgewing. Kom ons eer sy nagedagtenis en maak seker ons kontrei laat mense altyd welkom voel. Niemand, nie eens die nikswerd moordenaars, mag dit van ons steel nie.

As ek een ding mag vra: Benut jou rol as gemeenskaps­leier om hierdie voorval nie in ’n politieke onding te laat ontaard nie. Ons gun ons gemeenskap dit, want ons weet dit begin by ons.

Kakamas hoef nie deel te wees van die rassistiese gesprekke wat oor die land heers nie. Die Noord-Kaap is nie Noordwes nie. Ek is ’n sosioloog, en ons weet uit die geskiedenis dat ongelykheid tot geweld lei. My ouma het altyd gesê: “ ’n Honger mens is ’n wrede mens.” Daar is arm mense in ons land en as jy elke dag voel asof jy nie raakgesien word nie, dan lei dit tot boosaardigheid.

Kom ons volg Jesus se voorbeeld. My en Suretha se skool, Hoërskool Martin Oosthuizen, dra die leuse: “Bid en werk.”

Bid vir deernis, werk vir ’n beter toekoms.

Baie sterkte daai kant, met baie liefde . . .

Meer oor:  Leon Brits  |  Pofadder  |  Plaasaanval  |  Plaasmoord  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.