Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gedagtes draf oor gewilde buurvroue

Ek is ’n nuuskierige buurvrou. Ons is maar oral.

Ek bly al amper twee jaar in ’n kompleks hier in die stad van onbeskofte bestuurders, Johannesburg.

Piet Matipa

Ek het eers onlangs kennis gemaak met die buurvrou direk langs my hut. Ons het saam gekerm oor ons twee weke van droogte in die kompleks – daar was nie water nie. Verder sê ons nie boe of ba vir mekaar nie. Ons groet mekaar met ’n glimlag soos volbloedige Sandton-tannies.

Die ander bure word gesien, maar nie gehoor nie.

Daar is wel spesifieke buurvroue wat my aandag geprikkel het soos ’n reklamebord langs ’n snelweg.

Ek sien die twee dames altyd wanneer ek verby hulle stap. Ons is nie op oogkontakterme nie. Soms in japon en ander kere uitgevat.

Wat wel vir my opmerklik was, is die besoekers. Miskien is dit my tekort aan besoek wat hik, maar hulle het ’n oorloop daarvan – soos hormone op ’n skoolkamp. Mans besoek hulle graag. Soms word hulle opgelaai. Ander kere word hulle afgelaai – dis op-af-op-af.

Dan is daar die tye dat die mans die woonstel ingegaan het.

Ek staan nie en koekeloer vir hulle nie. Dit gebeur so gereeld dat ek dit sien elke keer as ek toevallig by my kar is. Die mansvriende is ook van elke geur. Die vriendskappe wat die twee smee, is duidelik dié van ’n nuwe Suid-Afrika.

Nou, my kop het dadelik begin oortyd werk, sonder betaling. Dadelik het ek gewonder hoekom is iemand so gewild. Miskien praat die twee oor sport met die mans. Of miskien bied hulle vir die mans ’n diens aan . . . Soos hemde maak met ’n naaimasjien . . . Ek weet nie. Ek wonder en spekuleer.

Kan dit dalk ’n besigheid wees wat orige mans plesier? Ek het dit nie gesê nie. Ek vra maar net die vraag. Ek vra net al die moontlike vrae. Oordeel sonder geldige gronde is nie iets wat ’n mens in die hemel kry nie.

Die oog kan dit net nie help as om te volg wanneer daar ’n oom in ’n karretjie daar stilhou en half verdag na die woonstel toe beweeg nie.

Ek het toe later gesien dat daar ’n kind ook in daardie woonstel bly. Toe voel ek dadelik sleg dat ek vir ’n sekonde skuldig gevoel het oor my vraag of hulle dalk professionele manvermakers kan wees.

My oorfikse kop het my in ’n ander rigting begin stuur. Mens hoor baie van mans met twee stelle gesinne. Pappa sê hy gaan weg vir besigheid, maar dan is dit eintlik familietyd. Ek sê maar net.

Toe my gedagtes in daardie rigting begin draf, het ek myself gekeer.

Miskien dink die bure dat ek ’n uithuurseun is. Ek kom baie aande laat by die huis en ry soms baie vroeg. Of miskien dink hulle ek is deel van ’n misdaadkring. Enigiets lyk mos verdag sonder agtergrond.

’n Deel van my sê ek moenie ’n vrou aan die aantal mans takseer nie, maar die buurvrou in my se gedagtes hardloop wedrenne.

Die oog kan dit net nie help as om te volg wanneer daar ’n oom in ’n karretjie daar stilhou en half verdag na die woonstel toe beweeg nie.

Nee, sies. Ek moet nou ophou.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Rubriek  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.