Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gee Afrikaans staanplek
Vanjaar se eerstejaarstudente aan Maties luister na die rektor, prof. Wim de Villiers, op die verwelkomingseremonie. Foto: lerato maduna

Die Universiteit Stellenbosch (US) behoort bo en behalwe enige klasse wat in Engels aangebied mag word, ook ’n volwaardige voorgraadse aanbod in Afrikaans aan sy studente te bied, skryf Hermann Giliomee.

In 2016 het die feitlik ondenkbare met Afrikaans gebeur.

Afrikaans as doseertaal is by al die universiteite, waar dit eens die enigste of vernaamste doseertaal was, drasties afgeskaal of uitgefaseer.

Dit het ingrypende implikasies vir Afrikaans as onderrigtaal op skole.

Behalwe vir die Potchefstroom-kampus is daar geen plek waar studente wat hulle in die onderwys met Afrikaans as voertaal wil bekwaam hul graad en hul onderwysdiploma kan ontvang nie.

Dit beteken ook dat daar al minder instellings sal wees waar kultuuroordrag van die een geslag na die volgende kan plaasvind. Universeel word dit as een van universiteite en skole se belangrikste funksies beskou.

Sedert 2002 was die US-konvokasie die enigste statutêre liggaam van die universiteit wat op ’n vaste, volwaardige en volhoubare aanbod in Afrikaans bly aandring het. Dit beteken nie die uitsluiting van Engels nie, maar dat die Engelse aanbod nie dié in Afrikaans ondergrawe nie.

  • Die aandrang hang saam met die volgende oorwegings: Afrikaans is onteenseglik die doeltreffendste medium van onderrig vir mense wie se huistaal Afrikaans is.
  • Daar is reeds drie Engelsmedium-universiteite in die Wes-Kaap, waar Afrikaanssprekendes in die meerderheid is. Die US het ’n spesiale bemagtigingstaak om die groot agterstand van bruin Afrikaanssprekendes in deelname aan tersiêre onderrig om te keer.) Die enigste meningspeiling wat die universiteitsraad ooit van ’n onafhanklike instansie gevra het, is die Schlemmer-ondersoek van 2008. Daarvolgens het meer as 80% van die Afrikaanse studente en ongeveer 40% van die Engelssprekende studente oorwegend Afrikaansmedium-onderrig verkies.) Dit lyk na ’n ernstige oordeelsfout van die US om onder ’n ondoeltreffende regime met ernstige fiskale probleme groter internasionale aansien te probeer verwerf deur klasse oorwegend in Engels aan te bied.

Tussen 2005 en 2016 het lede van die US-konvokasie in die een verkiesing ná die ander met groot meerderhede mense gekies om op die universiteitsraad te dien wat uitgesproke daaroor was dat Afrikaans sterk en lewenskragtig as voertaal en kommunikasietaal aan die US voortbestaan.

Verskeie studies voer aan dat die Ivy League van topuniversiteite in die noordooste van die VSA hul sukses grootliks aan die noue bande tussen die besture van die onderskeie inrigtings en hul alumni te danke het. Hulle is grootliks eensgesind oor die wyse waarop die universiteit sy onderrigtaak verrig en hom in die samelewing posisioneer.

In die geval van die US het die verhouding tussen die US en alumni oor die afgelope 20 jaar baie verswak.

Ek wil my vereenselwig met die woorde van wyle prof. Pieter Kapp, voormalige president van die konvokasie. Hy het meer as een keer op die konvokasievergadering die mening uitgespreek dat die universiteit nie werklik oop kaarte met sy alumni oor sy taal-, toelatings- en aanstellingsbeleid speel nie. Heel waarskynlik is dit een van die vernaamste redes waarom skenkings deur die “gewone” oud-Maties sedert 1994 opgedroog het.

Toe die konvokasie in November 2015 sy jaarvergadering gehou het, was die US se taalbeleid nog dat Afrikaans en Engels as voertale gelyke status geniet.

Sedertdien het die US in ’n hofsaak in die Kaapstadse hooggeregshof erken dat hy op groot skaal sy eie taalbeleid ignoreer.

Die taalbeleid wat in middel 2016 aangeneem is, wil grootliks die onwettige posisie soos dit op grondvlak ontwikkel het, probeer sank­sioneer.

Die hele inhoud van alle lesings moet nou in Engels aangebied word. Afrikaans kan gebruik word in tolkdienste of in opsommings aan die einde van die lesings of vir sommige kernpunte. Daar is ook sprake van lesings in Afrikaans mits daar ’n groot genoeg aanvraag is.

In Europa is dit juis op hierdie punt waar sprekers van kleiner tale, wat in instellings soos universiteite teen ’n wêreldtaal moet meeding, vasskop.

As jy ’n taal as literêre taal en wetenskapstaal wil laat voortleef, mag jy dit nie as voertaal op skool en universiteit aan markaanvraag onderwerp nie.

In die geval van die jongste US-beleid kan tolkdienste (van Engels na Afrikaans) gestaak word indien dit blyk dat studente al minder daarvan gebruik maak en die finansiële middele nie beskikbaar is nie.

Dit lyk of die universiteit daarop uit is om die indruk te wek dat Afrikaanse studente wat van Afrikaanse klasse wegdryf bloot ’n ingeligte “verbruikerskeuse” maak, eerder as wat hy wil erken dat baie van die studente aan groot druk onderwerp word om ter wille van die vrede Engels as voertaal te aanvaar.

Dit lyk of vaardigheid in Afrikaans nie meer ’n vereiste is om as ’n dosent aangestel te word nie. Ongeveer 200 dosente het verlede jaar aangedui dat hulle nie in staat is om in Afrikaans klas te gee nie. Die vermoede is dat baie van hulle wel in staat is, maar nie die moeite wil doen om in Afrikaans klas te gee nie.

Die konvokasie kan nie op die universiteit ’n taalbeleid afdwing nie. Dit het wel die reg om te vra dat die universiteit oop kaarte met sy alumni speel.

Op grondvlak is ’n sterk gevoel dat die US ernstig moet herbesin oor sy besluit om ’n taalbeleid te aanvaar wat gewis tot die stelselmatige en snelle verengelsing van die US sal lei.

  • Die konvokasie vra sedert 2002 – en die vraag word weer wyd deur konvokasielede landwyd gevra – dat die US, bo en behalwe enige klasse wat dit in Engels mag aanbied, ook ’n volwaardige voorgraadse aanbod in Afrikaans aan studente maak. Hierdie is ’n geredigeerde weergawe van ’n brief deur Gillomee aan konvokasielede.

Die konvokasie vergader môreaand om 19:00 en word toegespreek deur sowel die US-rektor, prof. Wim de Villiers, as adv. Jan Heunis SC, president van die US-konvokasie.

Giliomee is ’n historikus en skrywer. Hierdie is ’n geredigeerde weergawe van ’n brief aan konvokasielede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.