Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gee erkenning aan mans wat ook feministe is
Esté Gross

In ’n samelewing waar een geslag ten koste van ’n ander onderdruk word, sal die pot altyd oorkook. En dié drukkoker, wat minstens elke jaar in Augustus lustig op ’n warm plaat sing, is die vroueregte-pot.

Gelukkig is die idee dat vroueregte ’n stryd is wat net vroue raak, aan die taan.

Daarom wil ek, in ’n maand wat daar weer menige ink, woorde, lof en pleidooie oor vroue gaan vloei, vir ’n oomblik erkenning gee aan die manlike feministe in ons midde.

Want al protesteer die manne al lank saam, word hul bydrae selde aan die groot klok gehang.

Een van die eerste manlike feministe was die Britse parlementslid John Stuart Mill. Hy het reeds in 1866 ’n petisie ten gunste van vrouestemreg aan die Britse laerhuis oorhandig.

Die Amerikaner Frederic Douglas (1818-1895) word ook beskou as een van die eerste kampvegters vir stemreg vir alle vroue.

Die beweging #NotInMyName het in 2017 ontstaan en is deur twee Suid-Afrikaanse mans, Siyabulela Jentile en Themba Masango, begin uit protes teen vrouegeweld.

En moenie vergeet van die Men’s League for Women’s Suffrage nie. Dit is in 1907 in Londen gestig, met nog ’n tak wat sommer kort daarna in 1910 in New York gevolg het.

Al het die manne wat saam met vroue aan optogte deelgeneem het, dikwels deurgeloop onder die gespot van ander mans, het die beweging nogtans in 1912 flink tot 20 000 lede gegroei.

Neem ook Malala Yousafzai, wat in 2014 die Nobelprys vir Vrede ontvang het, as voorbeeld. Malala, ’n Pakistanse aktivis wat haar beywer vir onderwys vir vroue en kinders, is nog altyd ondersteun en aangemoedig deur haar pa, Ziauddin, wat self ’n kampvegter vir gelyke onderrig is.

Malala deel die Nobelprys met Kailash Satyarthi van Indië – ’n man wat ook ’n stryd teen die onderdrukking van kinders en jong mense en die gelyke reg op onderrig vir alle kinders voer.

Toe Malala op 12 Julie 2013 die Verenigde Nasies (VN) op haar 16de verjaardag toespreek en die VN die geleentheid Malala-dag gedoop het, het sy gesê: “Malala-dag is nie my dag nie. Vandag is die dag van elke vrou, elke seun en elke meisie wat haar stem laat hoor vir hul regte.”

In 2014 het die VN die #HeForShe-solidariteitsbeweging begin om geslagsgelykheid te bevorder. Nie net vroue word hierby betrek nie, maar veral mans word aangemoedig om standpunt in te neem teen negatiewe geslagstereotipes.

Die beweging #NotInMyName het in 2017 ontstaan en is deur twee Suid-Afrikaanse mans, Siyabulela Jentile en Themba Masango, begin uit protes teen vrouegeweld.

Die idee dat net vroue die pot laat prut en roer in die stryd teen vroueregte en alleen ’n swaar feministiese halssnoer dra, is besig om – genadiglik – geleidelik van vroue se nek af te gly.

Want die stryd om gelykheid en ’n beter samelewing is ’n fakkel wat ons elkeen behoort te dra.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Esté Gross  |  Geweld Teen Vroue  |  Mans  |  Vroueregte  |  Vrouemaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.