Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gee haar ’n stoel, nie ’n rusbank nie
Martie Retief Meiring

Waar is ’n vrou se plek dan? Op ’n stoel of op die rusbank? Was dit arrogansie, vergeetagtigheid of blote manlike mislikheid wat die “sofagate”-furore in wêreld-diplomasie ontketen het?

Toe Ursula von der Leyen, voorsitter van die Europese Unie (EU), vroeër vandeesmaand ’n amptelike en versoenende besoek aan Tayyip Erdogan, die ongewilde Turkse premier, afgelê het, het ’n buffelagtige Erdogan en die ewe buffelagtige Europese minister Charles Michel op die enigste stoele in die amptelike onthaalsaal neergeplof.

Frau Von der Leyen het rondgestaan en rondgekyk en toe wys ’n lakei haar na die lang rusbank ver van die kameras en die twee here.

Wat ’n blaps was dit nie! Immers was sy nommer een in hierdie ontmoeting. En immers was Erdogan haar gasheer. En immers was dit ’n groot diplomatieke vergadering om nouer bande tussen Turkye en die EU te smee.

Maar toe steek daardie ou draak sy kop uit: chauvinisme. Ontkenning van die vrou as ’n gelyke. Meer nog, onbeskoftheid teenoor ’n genooide vrouegas.

Waar was haar stoel? Het hulle gedink sy moes haar soos Cleopatra op die rusbank uitstrek?

Hierdie internasionale flater het die feministe opnuut die ritteltits gegee. Kan ons hier in sonnige Suid-Afrika, waar ons vandeesmaand ons vryheid vier, kla oor die minagting van vroue?

Jessie Duarte het darem wel verskoning gevra nadat sy ongeskik was met adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Ons parlement sit vol vroue, ons sakehoofde is vroue, ons het vroueregters, van ons topwetenskaplikes is vroue en hulle word gehoor. Dit was ’n vrou wat die staat gedwing het om die verterende korrupsie in die land se bestuur te ondersoek. Ons speaker is ’n vrou van formaat, en gewild daarby.

Toegegee, nie al die hoë vrouekokkedore is eerbiedwaardig nie; daar was al ’n Bathabile Dlamini en ons het nog vir Lindiwe Sisulu, wat eerder na Kuba kyk as na haar eie mense.

Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, het darem wel verskoning gevra nadat sy ongeskik was met adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Hoe jy ook daarna wil kyk of daaroor voel, het die glansryke Norma Mngoma Gigaba moontlik huweliksverraad gepleeg teenoor haar man, die gewese onvolprese minister van onder meer binnelandse sake, maar sy hét voor die Zondo-kommissie die aard en omvang van geldknoeiery tussen die Guptas en die staat uitgelap.

Of sy ’n Delila is of nie, sy het dalk meer as enige van die ander fluitjieblasers haar eie veiligheid in gedrang gebring.

Op Vryheidsdag is Charlotte Maxeke gedenk; die hele boekbedryf rou oor die dood van Nadia Goetham, wat stories van ons land ontgin het; mans én vroue betreur en werk teen die verskriklike geweld teen vroue. Ons stry almal vir Caster Semenya se waardigheid.

’n “Sofagate” in Suid-Afrika? Ek dink half nie so nie. Buitendien, wie sal dit waag om ’n Suid-Afrikaanse vrou na ’n rusbank te verwys as sy ’n stoel waardig is?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.