Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Gee jou een stem vir Cyril’
Op 63 reeds oupa van twee kleinkinders en hy en sy vrou Liesbet het reeds ’n derde een oppad.Foto’s: Bianca Smit

Nick Koornhof, ANC-LP, het Afrikaners in ’n onlangse parlementêre toespraak genooi om vir pres. Cyril Ramaphosa in die verkiesing te stem. Barnard Beukman het hom oor die uiteenlopende reaksies hierop gepols.

Waarom sou dit ’n goeie ding vir pres. Cyril Ramaphosa se eie oorlewing wees dat die ANC soveel moontlik stemme kry? Wat is die bewyslas dat dit wel so is?

So val ons sommer met die deur in die huis, aangesien dit ongelukkig – vir ’n profielonderhoud – telefonies moet plaasvind.

Vanuit sy kantoor by die parlement in Kaapstad verduidelik hy  dat alle ontleders – en veral ook Cyril se vyande in die ANC – dadelik sy stembusprestasie met Jacob Zuma se laaste uitslag gaan vergelyk. So, bloot op grond van die uitslag – vergeet vir eers al die ander faktore – gaan hulle dit uitwys as Cyril slegter as Zuma gevaar het.

“Ons demokrasie is relatief jonk. Ons kom deur ’n slegte tyd, ook vir die ANC wat self die skuld daarvoor moet kry.

“Maar ons het nou ’n goeie bestuurder in Cyril Ramaphosa gekry. Hy het genadiglik die ANC-leierskap met 169 stemme by Nasrec gewen. En gedoen wat nog geen voorganger gedoen het nie. Hy het dadelik van Zuma ontslae geraak en nie eers ’n tydelike oorgangspresident aangestel nie. Hy het self die leisels oorgeneem, want hy het besef in hoeveel moeilikheid die land is.”

As ’n mens volgens Koornhof kyk na wat Ramaphosa die afgelope 18 maande “alles reggekry het, is dit eindelik merkwaardig”.

Daarom is dit belangrik dat sy ritme nie nou versteur word nie en het hy regtig ’n goeie uitslag nodig.

Daarom is dit belangrik dat sy ritme nie nou versteur word nie en het hy regtig ’n goeie uitslag nodig.

Dan maak Koornhof ’n interessante aanbod: “As Afrikaners dan ’n keuse het om hul twee stembriewe verskillend te gebruik, kan hulle dit byvoorbeeld in die Wes-Kaap gebruik om te stem vir wie hulle dink die beste party hier is. En in Gauteng dink hulle miskien dit is goed om die ANC daar onder druk te plaas. Maar op nasionale vlak is dit baie belangrik om Ramaphosa te steun.”

As kiesers dit oorweeg om op nasionale vlak vir byvoorbeeld die DA of die VF Plus te stem, weet hulle in elk geval die ANC en Ramaphosa gaan wen, maar moet besluit of hulle ’n sterk Ramaphosa wil hê.

“En die bydrae wat jy kan maak, is om die nasionale stem vir hom te gee. Ek dink dit sal ook baie goed ervaar word in swart geledere en gesien word as ’n hand van versoening wat deur die wit gemeenskap na Rama­phosa uitgereik word. ’n Sterk Ramaphosa is ook in belang van die wit minderheid, dus stem jy eintlik in jou eie belang ook.”

Kyk, ons politiek in Suid-Afrika werk om ’n sterk president. Hoe sterker die president, hoe meer is dit die rigting waarin ons gaan.
Dieselfde vriende kom kuier nog om die tafel.

Volgende vraag: Maar benewens die “good” is daar tog seker ook “the bad and the ugly”. Die melkplaasgeldwasser is jul sekretarisgeneraal, Tito Mboweni sê die regte goed, maar word om elke hoek en draai gerepudieer en internasionaal word geromantiseer oor die staatskapingsmekka Venezuela.

Hoe weet ons die harde sosialiste kry nie ná 8 Mei die oorhand en ’n stem vir die ANC versterk nie net vir Ace (Magashule) nie?

“Kyk, ons politiek in Suid-Afrika werk om ’n sterk president. Hoe sterker die president, hoe meer is dit die rigting waarin ons gaan,” antwoord hy.

“Met ’n sterk Zuma het die land in ’n verkeerde rigting gegaan. ’n Sterk Ramaphosa is daarom nou juis belangrik om ongedaan te maak wat ons in die Zuma-jare ervaar het. As hy sterk is, sal hy soos in gholf die hou dwarsdeur swaai en die bal aan die einde slaan – ondersteuning vir ’n sterk nasionale vervolgingsgesag (NVG) en om hooggeplaastes wat verkeerde goed aangevang het, aan die pen te laat ry. Ramaphosa is op rekord dat hy daarvoor staan.”

Nou jou toespraak. Daarin bring jy jou stem-uitnodiging in verband met ’n meer kollektiewe rol wat wit mense met mede-Suid-Afrikaners moet speel. So asof om te stem vir die ANC die allerheiligste en enigste plek is om ’n bydrae te lewer en versoening te beleef. Dit terwyl reeds hard gewerk, belasting betaal, oeste geplant, werk verskaf word en sommige selfs by versoeningsprojekte betrokke is.

En jou opmerkings is moontlik ervaar as om te stem vir die organisasie wat letterlik en figuurlik die onverwerkte rioolafval in die Vaalrivier laat loop het – is dit die enigste manier om ’n verskil te maak?

“Nee, ek het heeltemal begrip en respek vir Afrikaners se gevoel dat die ekonomie nie is waar dit moet wees nie en wat swaar kry. Ek het dit nog nooit misken dat die Afrikaner nie ook sy rol gespeel het nie en dit in my toespraak gesê.

Ek het in my hele politieke loopbaan by min mense gekom wat wil hê Suid-Afrika moet nie ’n wenland word nie.

“Ek het in my hele politieke loopbaan by min mense gekom wat wil hê Suid-Afrika moet nie ’n wenland word nie. Net diegene wat baie ryk is, kan hul kinders oorsee stuur. Die res moet hul lot hier in die land bepaal.”

Dit is wel ook so dat daar sedert 1994 ongebreidelde welvaart in die land geskep is onder ’n swart regering – volgens Koos Bekker meer as in die vorige 300 jaar. Dis nie altyd goed verdeel na alle Afrikaners nie.

“Maar dit is ook my ervaring dat Afrikaners sedert die demokrasie 25 jaar gelede baie meer uitgesproke geraak het. Ook sonder om te blik of bloos, sal rassistiese uitsprake om braaivleisvure gemaak word. Wanneer jy as ’n minderheid so optree in ’n Afrikaland, is dit vir my ’n gevaarpunt. Dit is hoekom die verkiesing niks anders is as ’n referendum tussen goeies en slegtes is nie en Ramaphosa verteenwoordig die goeies. Dis ’n gulde geleentheid vir Afrikaners om hom as ’n gebaar van versoening te ondersteun en daarom het ek my toespraak gemaak.”

Koornhof was voorheen lid van die Nasionale Party (NP) , DA en Cope. Hy vertel hy is destyds vanaf die ANC, weens sy bande met Mosiuoa Lekota, oor om met Cope te help.

Dit was reaksie teen Zuma en ’n alternatief vir miljoene op die middelgrond. Persoonlikhede het dit vernietig en dit was ’n verspeelde geleentheid om ’n sterk middelgrond te bou wat nou nog nie gebeur het nie.

Oor die DA meen hy hulle word eenvoudig nie deur die swart meerderheid vertrou nie. Mmusi Maimane slaag nie daarin om homself as onafhanklike denker in die DA uit te beeld nie. Daar is te veel dinge in die DA wat op rassedenke dui. “As ek op sosiale media kyk hoe DA-lede op kwessies reageer, dan is daar nog ’n klomp regse Afrikaners by hulle vasgevang. Die DA kan dit nie ontsnap nie.

Oor of die ANC ooit vir so ’n koalisie te vinde sal wees, meen hy geen party wil voor ’n verkiesing oor koalisies praat nie.

“Die party het ook die geleentheid gehad om die middelgrond te bou. Hulle moes alles in hul vermoë gedoen het om in Tshwane en Johannesburg saam met die ANC te gaan. Maar het opportunisties besluit om die ANC ten alle koste te verjaag. Die haat vir die ANC was te groot en hul advies was daarteen.”

Oor of die ANC ooit vir so ’n koalisie te vinde sal wees, meen hy geen party wil voor ’n verkiesing oor koalisies praat nie. Indien die geleentheid van ’n koalisie hom iewers voordoen ná 8 Mei, meen hy in beginsel alle partye sal minstens met alle partye gesprek voer.

“As ek dan moet kies, gaan ek vir die middelgrond. Ek is ’n groot ou daarvoor dat die middelgrond in Suid-Afrika moet bymekaarkom. Enige koalisie met populiste soos die EFF sal nie goed wees vir Suid-Afrika nie.”

Enige herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek gaan net deur geloofwaardige swart leiers plaasvind, “en tans sien ek net een en dit is Ramaphosa”.

Is daar werklik nog enige realistiese hoop vir die land?

“As Ramaphosa ná 8 Mei op sy voete land, met ’n kleiner en doeltreffender regering wat sy planne in werking stel, as die NVG sy werk kan doen en daar teen oortreders opgetree word, dink ek ons kan nie anders as om ’n beter fase te betree nie. Die ekonomie moet draai en die internasionale beleggers wil hê hy moet slaag, dit is ’n soort laaste kans wat hulle ons gee.”

Toe ons in die NP-koukus gesit het, het die Vlakplaas-stories begin en ons wou dit nie glo nie. Ons het eerder vir (Adriaan) Vlok en (Magnus) Malan geglo wat ons eie mense was. Miskien is die politiek nog vandag ’n bietjie so.
Hou baie van rooiwyn, maar nie van duur pryse daarvoor in restaurante nie.

Nog so ’n laaste onderarmbal oor die ANC. Hoe kan mense wat vir die ANC stem sy verteenwoordigers vertrou om uit te kom as iets weer verkeerd loop? Trevor Manuel het voor die Zondo-kommissie getuig hoe daar al in 2011 in die ANC oor die Guptas se invloed gepraat is, maar almal het uiteindelik hul monde gehou? Koornhof kry die bal tog weg vir ’n grenshou met ’n historiese analogie as kinkel in sy antwoord:

“Toe ons in die NP-koukus gesit het, het die Vlakplaas-stories begin en ons wou dit nie glo nie. Ons het eerder vir (Adriaan) Vlok en (Magnus) Malan geglo wat ons eie mense was. Miskien is die politiek nog vandag ’n bietjie so.”

Hy glo tog die demokrasie is nou sterker weens dinge wat Ramaphosa begin doen. Daar is die regstaat, konstitusionele hof, Menseregtekommissie en veral die media om te sorg dat die land ’n goeie plek bly. Die media speel ’n groot rol.

Hoe is jou interaksie met die hoofstroom- Afrikaanse gemeenskap buite die ANC?

“Ek kuier nog by dieselfde vriende aan huis as tien jaar gelede en hulle in my huis. Soms word mens wel met harde vrae gekonfronteer en ek deins nie terug nie. Soms lei dit tot ongemaklikheid en dan is ons binne ’n week weer terug in mekaar sy huis.”

Hy glo hy bring soms ’n alternatiewe perspektief na gesprekke waartoe mense nie altyd toegang het nie.

As mense welvarend is en self kan kies by watter winkelsentrum hulle koop, in Europa kan gaan ski, kykNET kyk en Afrikaanse koerante lees, kan hulle vir hulself ’n wêreld skep waarin hulle dink hulle is nog in die meerderheid.

’n Mens moet hulle heeltyd herinner dat daar ’n ander werklikheid van mense is wat ongedurig en ongeduldig is. Hulle het groter getalle en ons moet in eenheid met hulle saamleef.

“Dis miskien omstrede, maar as jy op die plek is waar jy dink jy is nog in die meerderheid en daar stap net een ou in wat die meerderheid van Suid-Afrika verteenwoordig, dan is hy op daardie oomblik die meerderheid.

“Dan moet hy daarvoor gerespekteer word.”

Barnard Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Nick Koornhof  |  Barnard Beukman  |  Anc  |  Stem Vir Cyril  |  Stem  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.