Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gee ’n mooi nooi en ’n moord ...
Gert Coetzee

Moord, ’n hotelier as slagoffer, ’n verdagte mooi vrou, huurmoordenaars, diamante, Krugerrande, ’n lyfwag met ’n man bun by die hof wat uitroep hy het haar lief, kleindorpse intrige en, les bes, ’n speurder wat al in ’n rolprent deur ’n Hollywood-ster (Arnold Vosloo) gespeel is.

Die Pofadder-moorddrama bevat die bestanddele van ’n sepieverhaal. Die beweerde makabere komplot sê ook iets van die menslike natuur. Als saamgeklits, gryp dit die verbeelding aan. Én dit maak mos vir goeie nuus. Of nie?

Ontstokenes wat goed uit die nuus wil hou, snou my altoos toe: “Julle jaag net sensasie na. Want julle wil net koerante verkoop.”

Asof ons nog koerante verkoop.

’n Ou, universele nuusdefinsie lui tog “If it bleeds, it leads”. In Joernaal van Jorik skryf D.J. Opperman satiries: “Gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord / En stoot die sirkulasiesyfers op.” Terwyl Willem Wepener, redakteur, die rol van die koerantmens juis as “brandsiek-inspekteur van die volk” bestempel.

Verslaggewing oor opspraakwekkende moorde is so oud soos Adam en Eva.

Die onlangse tyd was die sluise in ons land oop, veral met sake waar dit mans (of seuns) is wat hul veronderstelde geliefdes, veral vrouens, vermoor.

Oscar Pistorius, Don Steenkamp in die Griekwastad-moorde (waar leerlingskap van Grey-kollege en Oranje-meisieskool dit vir Volksblad nog meer relevant gemaak het), Henri van Breda in die Kaapse bylmoorde, Jason Rohde, Christopher Panayiotou . . .

Daisy de Melker, Maria Groesbeek, smeulende Sonia Swanepoel (saam met Frans Vontsteen), Marlene Lehnberg met ’n skêr in die hand . . .

Natuurlik het die land oor dekades heen ook sy kwota vrouemoordenaars en kleurvolle beriggewing daaroor gehad: Daisy de Melker, Maria Groesbeek, smeulende Sonia Swanepoel (saam met Frans Vontsteen), Marlene Lehnberg met ’n skêr in die hand . . .

Nie in alle gevalle nie, maar meestal is die manipulasie verbysterend en hoe die moordenaar of moordenaars hulself in hul eie kop verskoon en onskuld pleit. Dit is deel van die bose verhale wat in talle onlangse gevalle ook tot die publikasie van topverkopers gelei het.

Wanneer ’n (mooi) vrou die moord gepleeg het, raak die detail vir verslaggewing sappiger. (Selfs De Melker, arseenmoordenares, was glo onweerstaanbaar vir mans en onder meer getroud met ’n Springbok-rugbyspeler, wat haar derde man was.)

Die “brandpunt” van dié rubriek?

Wie’t gesê iemand wat moord pleeg, moet onaansienlik wees?

Vir ons as verslaggewers bly gebalanseerde beriggewing ’n vereiste, ook om nie ’n moordenaar of moordenares tot ’n glansheld(-in) te verhef nie.

Makliker gesê as gedaan. Met soveel vloeibare elemente (ook mense se aandrang om te wíl weet) is dit ’n wiggeltoer tussen openbare belang en openbare nuuskierigheid. Veral as foto’s van die moordenaar sag op die oog eerder as afstootlik is.

Wie’t gesê iemand wat moord pleeg, moet onaansienlik wees?

Nuus is selektief vanweë die aard daarvan en gerig op ’n spesifieke lesersgroep. Dit sou onmoontlik wees om oor al Suid-Afrika se 58 daaglikse moorde (meer as 21 000 per jaar) te berig.

Tog, in Flat Earth News wys Nick Davies daarop hoe die Britse media in 2002 op Holly Wells en Jessica Chapman gefokus het, terwyl 387 kinders onder 14 daardie jaar verdwyn het. Davies se tien reëls waarin hy teen “plataarde-nuus” (wat mense wil glo, omdat hulle dit glo of wil hê) en churnalism maan, geld ook ons moord-beriggewing.

En ’n bisar verweefde saak, soos die Pofadder-moord, maak ons net meer bedag op relevante, alkantige, nugtere verslaggewing sodat maksimum inligting (solank dit waar is) teen minimum skade opgeweeg word.

Flirtasie met risiko is deel van bedrewe joernalistiek. Hofverslaggewing, wat bedrieglik maklik lyk, is ’n kuns. En moord bly moord, ongeag die gesig.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Moord  |  Mooi Nooi  |  Slagoffers  |  Koerante  |  Pofadder-Moorddrama  |  Moordenaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.