Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gee Ramaphosa-regering ’n kans, maar . . .

Suid-Afrikaners moet pres. Cyril Ramaphosa se regering kans gee om homself te bewys. Maar die onteiening van grond sonder vergoeding stuur op ’n ramp af, skryf Theuns Eloff.

’n Groot oomblik? Pres. Cyril Ramaphosa kondig verlede week sy kabinet aan. Foto: Felix Dlangamandla

Die nuwe Ramaphosa-kabinet is een van belofte en kompromie.

Die Gordhans, Nenes en Hanekoms wys dat daar iets nuuts aan die ekonomiese front kan gebeur. Die markte het dit ook raakgesien en die rand is sterker as voordat Nene in die pad gesteek is. Aan die ander kant wys die Mabuzas, die Dlamini’s en die Gigabas dat die stryd teen staatskaping, korrupsie en swak bestuur nog lank nie verby is nie.

Ná verlede Dinsdag se mosie oor grondonteiening sonder vergoeding voel baie Suid-Afrikaners moedeloos en verraai. Baie het gedink die ANC-besluit in Desember 2017 sou nooit in werking gestel word nie.

Moet gewone Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaanssprekendes die nuwe regering ’n kans gee?

Ander was van die begin af skepties oor Ramaphosa – hy het immers ’n verdeelde en verrotte ANC geërf.

Die vraag is: Moet gewone Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaanssprekendes die nuwe regering ’n kans gee?

My antwoord is: Ja, MAAR . . .

Die “ja”-deel is maklik. Ramaphosa is ’n groot verbetering op Zuma. Hy is ’n goeie sakeman wat ekonomiese beginsels ken. Hy is welsprekend, presidensieel en kan groot syfers reg uitspreek.

Hy het hom as ’n uitstekende onderhandelaar en strateeg bewys. Hy verdien ’n kans, want hy het lank vir die geleentheid gewag om president te wees.

Zuma-faksie beur terug in verdeelde ANC

Die MAAR-deel (met hoofletters) is egter net so belangrik. Daar is ernstige vrae oor Ramaphosa se vermoë om die ANC reg te ruk en op die goeie spoor te plaas. Selfs voormalige vurige ANC-ondersteuners soos Sipho Pityana meen dit is te laat.

Daarby kom die ANC se verdeeldheid en die vermoë van die Zuma-faksie om nog terug te beur. Die aanstellings van David Mabuza en Bathabile Dlamini is sprekend hiervan.

Soos daar al dikwels gesê is, moet president Ramaphosa sy magsbasis konsolideer en sy werk tussen twee pole doen. Aan die een kant is daar die opdrag van Nasrec ‘17 om eenheid en versoening binne die ANC te bou om ’n oorwinning in 2019 te verseker. Aan die ander kant is daar sy eie oortuiging en die slagspreuk van sy verkiesingsveldtog om goeie regering te verseker en staatskaping en korrupsie uit te roei.

Wanneer die kabinet oor ekonomiese beleid gaan besluit, sal hy ook die sosialistiese en populistiese invloede moet teëwerk wat steeds onder sy kollegas heers.

In byna elke besluit sal hy met hierdie twee teenstrydige doelwitte gekonfronteer word.

Wanneer die kabinet oor ekonomiese beleid gaan besluit, sal hy ook die sosialistiese en populistiese invloede moet teëwerk wat steeds onder sy kollegas heers.

Ekonomiese groei en belegging sal nie deur vae dubbelsinnighede bereik word nie. Wanneer hy en kollegas na aan hom Eskom en ander staatsbeheerde ondernemings wil red, sal hy dapper besluite oor gedeeltelike of algehele privatisering moet neem – en sy vyandige kollegas moet oortuig of ignoreer.

En deur dit alles sal hy moet werk om die noodlottige gevolge van rassetransformasie en kaderontplooiing in die staatsdiens teen te werk. Die gevolge hiervan, soos veral gesien in die byna algehele gebrek aan kapasiteit en integriteit (dink aan Sassa en Esidimeni) lê soos ’n berg tussen hom en sukses.

EFF lei ANC-koukus in lokval

Julius Malema (middel), leier van die EFF. Het hy en sy party die regering in ’n lokval gelei oor grondhervorming? Foto: Felix Dlangamandla

Op die oomblik is grootste MAAR egter grondonteiening sonder vergoeding. Minder as 24 uur ná die kabinet van hoop aangekondig is, volg die mosie van gekheid. Deur die uitgeslape EFF in ’n lokval gelei, stem die ANC-koukus met konsensus dat die grondwetlike hersieningskomitee die opdrag kry om artikel 25 van die Grondwet en enige ander klousule te hersien, en die nodige grondwetlike wysigings moet voorstel sodat die regte toekomstige “land tenure regime” daargestel kan word.

Die mosie haal die staatsrede van Ramaphosa aan wat die oersonde van grondontneming erken en waarin hy hom verbind het dat die regering sal voortgaan met die grondhervormingsprogram wat onteiening sonder vergoeding insluit, terwyl alle meganismes tot die beskikking van die staat gebruik word. Dit moet geïmplementeer word op ’n manier wat landbouproduksie laat toeneem, voedselsekerheid verbeter en verseker dat die grond teruggegee word aan diegene van wie dit onder kolonialisme en apartheid weggeneem is.

Dit word vererger deurdat die hele mosie op ’n emosionele manier aangedryf is, gegrond op die leuens van die regering se sogenaamde grondoudit.

Nou ja, praat van teenstrydighede.

Wie dink dat landbougrond sonder vergoeding op groot skaal onteien kan word (met die gepaardgaande onsekerhede en banke wat miljarde rande se skuld moet afskryf) en dat landbouproduksie dan gaan toeneem en voedselsekerheid verbeter gaan word, lewe in die wonderwêreld van Kammie Kamfer.

Dit word vererger deurdat die hele mosie op ’n emosionele manier aangedryf is, gegrond op die leuens van die regering se sogenaamde grondoudit. Om te glo dat swart mense net 2% van landelike grond en net 7% van stedelike grond besit, moet ’n mens in feëverhale glo en jou greep op die werklikheid verloor het.

Regering moet eers hand in eie boesem steek

Die herverdeling van landbougrond gaan een van pres. Cyril Ramaphosa se grootste probleme wees. Foto: Jaco Marais

Daar is oorvloedige bewyse (ook van die Motlanthe-verslag in die parlement) dat die regering byna alleen die skuld vir gebrekkige grondhervorming moet kry. Hoekom kry daardie gebreke nie eers aandag nie?

Hoe gaan dit beter gaan as die grond sonder vergoeding gevat word? Hoe gaan swart boere ewe skielik dan suksesvoller wees? Daar is in die parlementêre debat aangetoon die regering besit oor die 4 000 plase waarop daar niks aangaan nie.

Die EFF en groot dele van die ANC wil hê alle eiendom moet onteien kan word. Dit sluit huise, motors en aandele in.

Daar kan verder aangetoon word dat daar miljoene hektaar se grond in ANC-beheerde munisipaliteite se besit is wat vir behuising beskikbaar gemaak kan word, maar niks gebeur nie. Daar is miljoene hektaar se grond in kommunale besit wat tradisionele leiers steeds met ’n ysterhand beheer, en waar landbouproduksie nie naastenby optimaal is nie.

Mense wat dink dat onteiening sonder vergoeding slegs op ’n paar boere gemik is, moet weer dink. Die EFF en groot dele van die ANC wil hê alle eiendom moet onteien kan word. Dit sluit huise, motors en aandele in.

Verskanste private eiendomsbesit lê aan die hart van enige suksesvolle ekonomiese stelsel en land. Dis nie ’n wetmatigheid wat deur witmonopoliekapitaal uitgedink is nie; dit word internasionaal aanvaar en deur suksesvolle lande wêreldwyd bewys.

Theuns Eloff.

’n Mens kan nie halfpad swanger wees nie. So kan ’n mens nie eiendomsreg halfpad beskerm nie.

Jou eiendomsreg word óf volledig beskerm, óf dit word glad nie beskerm nie en verdwyn.

Ondanks al hierdie rasionele argumente is die mosie ten gunste van onteiening sonder vergoeding met ’n groot meerderheid aanvaar – ook deur Ramaphosa-ondersteuners.

’n Mens wonder of die president hiervan geweet het en of die EFF die ANC onverhoeds betrap het?

Dit sou tog moontlik gewees het om gewoon te sê “ons laat ons nie deur die EFF voorsê nie, ons sal eers ons eie ondersoeke doen en dan ons eie mosie voorstel”.

Ramaphosa self het reeds voorgestel dat daar ’n ondersoek moet kom na die oorsake van die regering se mislukte grondhervormingspogings.

Dit lyk asof die ANC en sy president hier op ’n EFF-tier geklim het wat hy nie enduit sal kan ry nie.

Die gevolgtrekking is: Gee die Ramaphosa-regering ’n kans, maar as onteiening sonder vergoeding deurgevoer word, gaan al die ander beloftes en voornemens in die (plaas)hek duik.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Theuns Eloff  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.