Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geelbaadjies laat Emmanuel Macron steier

Ná ’n tweede vernederende toegewing aan ’n groep ongeorganiseerde, chaotiese betogers lyk dit of pres. Emmanuel Macron van Frankryk polities steier.

Dié land se strate word nou al weke lank op horings geneem deur ’n groep wat hulself die “gilets jaunes” (geelbaadjies) noem. Die naam kom van die geel glimbaadjies wat elke Franse voertuig vir noodgevalle moet hê.

Dit het alles begin by Jacline Mouraud wat op 18 Oktober ’n oproep op Facebook geplaas het vir protes teen die Macron-regering se beplande verhoging van brandstof-aksyns. Dit het vinnig gegroei tot die grootste protesbeweging sedert 1968, toe die regering van pres. Charles de Gaulle byna tot ’n val gebring is.

Daar is elke naweek grootskaalse betogings in Parys en ander stede, en die laaste twee naweke het dit in geweld ontaard – winkels is geplunder, geparkeerde motors is aan die brand gesteek, selfs die standbeeld van Marianne by die Arc d’Triomphe is stukkend geslaan.

Die ontevredenheid het sy oorsprong in Macron se neo-liberale ekonomiese beleid. Enersyds het die Franse gewoond geraak aan ’n klomp sosialistiese kussings, wat gemaak het dat hulle gerieflik deur staatshulp aan die gang gehou is.

In die proses het die ekonomie ondoeltreffend en internasionaal onmededingend geraak. Macron het aan die bewind gekom met beloftes dat hy die vasgeroeste ratte van die ekonomie weer los sou maak en welvaart meebring, al sou dit pyn beteken.

En inderdaad, van die pyn het baie Franse iets ondervind, maar (nog?) nie van die welvaart nie. Dis nou buiten die boonste 1% van die bevolking, wat nóg ryker geword het.

Dis ’n ope vraag of Macron sy breë sosiaal-ekonomiese benadering gaan verander. Indien wel, gaan dit ongetwyfeld die herstel van die ekonomie kniehalter – en só tree die betogers op die duur teen hul eie belange op.

Bowendien is miljoene Franse, veral dié op die platteland, in die lig van swak openbare vervoer van motors afhanklik. En dus het die verhoging van brandstof-aksyns die simbool geword van protes teen ’n beleid wat as ongevoelig ervaar word.

Die geelbaadjie-beweging is duidelik geradikaliseer. Sowel linkse as regse ekstremiste het die saak dankbaar aangegryp en hits mense op teen ’n jong president – 40 jaar oud – wat ’n besonder arrogante indruk maak.

Macron is nou gedwing om op ’n vernederende wyse toe te gee. Eers is die verhoging van die aksyns met ses maande uitgestel, en ondertussen is dit vir ’n volle jaar van die baan.

Nog ’n aspek wat die aandag trek: Die proteste het met sosiaal-ekonomiese probleme te make en die immigrasie-kwessie speel geen rol nie. Maar dis natuurlik nie te sê dat dit so gaan bly nie; daarvoor is dinge té vloeibaar.

Dis ’n ope vraag of Macron sy breë sosiaal-ekonomiese benadering gaan verander. Indien wel, gaan dit ongetwyfeld die herstel van die ekonomie kniehalter – en só tree die betogers op die duur teen hul eie belange op.

Meer oor:  Emmanuel Macron
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.