Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geen beter plek as berge en dale om weg te kom

As jy op die uitgestrekte, eensame Karoovlaktes jou moedersmelk ingekry het, is jy maar skrikkerig vir berge en dale.

Theronsberg by Ceres, Botterkloof by Clanwilliam, Gannaga in die Roggeveld, en Bloukrans by Calvinia met sy berugte messeldraai, is katvoet benader. In Bainskloof is op pad Kaap toe versigtig oor die gapende afgronde geloer.

Johan van Wyk

In die Swartbergpas buite Oudtshoorn, my pa se hande geklem om die stuurwiel en my ma se een hand op die toeter om aankomende karre in die blinde draaie te waarsku, is nie ’n enkele woord gepraat nie. Die gelyktes is met ’n sug van verligting begroet.

Die Swartbergpas is nie vir kabouters nie, deesdae se uitstekende voertuie ten spyt. Wanneer hy in die wintertye modderig en wit gekapok op jou gewag het, is gewaarsku soos in die oue dae van die Karoopoort in die Theronsberg, toe gesê is “Hoor my woord, die weer word dik, vermy die poort!”

Vandag weet ek dat vrees vir die onbekende ons in die verre verlede van ware waardering vir die indrukwekkende, bedreigende grootsheid en verruklike skoonheid van Suid-Afrika se “ewige gebergtes”, weerhou het. In destyds se onbetroubare karre op swak grondpaaie is dit in jou haas om die gevaar agter die rug te kry nie juis raakgesien nie. Jy wou net heelhuids anderkant uitkom. Wanneer dit verby was, is ’n dankgebedjie opgestuur en “versterking” gesoek.

Vandag weet ek dat vrees vir die onbekende ons in die verre verlede van ware waardering vir die indrukwekkende, bedreigende grootsheid en verruklike skoonheid van Suid-Afrika se “ewige gebergtes”, weerhou het.

Jare gelede, die eerste keer deur die toe nuwe, pasvoltooide Du Toitskloofpas, het my pa anderkant die kort tonneltjie, toe ’n donker, geheimsinnige wonderwerk, afgetrek en ’n tweevinger uit ’n plat bottel Mello-Wood-brandewyn in sy beker swart koffie geskink om sy senuwees te kalmeer. Sy hande het effens gebewe.

In teenstelling het ek glad nie gebewe nie toe Al van der Merwe van Citrusdal se Ford Ranger 4x4 met drie man en genoeg proviand – waaronder ’n boerbokrib, plus versterkwater, kooigoed en vuurmaakgoed om ’n strafkamp te oorleef – die Winterhoekberge en -dale tussen Citrusdal en Tulbagh, waar ’n bobbejaan nie met ’n kierie kan loop nie, na ’n verruklike, geheime bestemming soos ’n vlakhaas uitgehol het.

(“Foute Oral Reparasies Daagliks?” Nee wat, nie meer nie!)

“Om te wat?” soos die boervrou agterdogtig wou weet toe die dokter gesê het: “Tante, trek uit en gaan lê, ek kom nou.” Om wat daar in afgesonderde, ruwe onherbergsaamheid te gaan maak? Hoef ek regtig te sê hoekom?

In hierdie “wye, droewe” land, strompelend buite beheer van die een krisis tot die volgende, bring elke dag mos sy eie sorge. Was die versugting om vir ’n wyle daarvan weg te kom al ooit groter? Kan daar ’n beter plek wees as verlate berge en dale om dit te doen?

Verlate, ja, maar nie van God nie. Gesang 47 onderskryf dit: “Op berge en in dale en oral is my God; waar ons ook telkemale mag swerwe, daar is God!” Wat meer kan ek sê?

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.