Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geen CR-steun, geen Tito-plan

Die minister van finansies, Tito Mboweni, is ’n baie onortodokse politikus wat dikwels teen die prikkels van die partypolitiek skop.

Hy is baie anders as sy twee voorgangers, Trevor Manuel en Pravin Gordhan. Manuel was altyd sjarmant en breedsprakig. Sy aanstelling deur oudpres. Nelson Mandela was aanvanklik beskou as riskant, maar hy het almal verras en vertroue ingeboesem.

Gordhan het naam gemaak as ’n suksesvolle kommissaris van die SA Inkomstediens (SAID). Anders as Manuel, was hy meer teruggetrokke, maar, en dit is wat saak maak, uiters bekwaam. Hy was onverstoorbaar met veilige hande aan die stuur van die SAID en later die ekonomie.

Mboweni was die minister van arbeid wat Suid-Afrika se dikwels omstrede arbeidstelsel ontwerp en toegepas het. Hy was ook ’n suksesvolle president van die Reserwebank. En hy het tyd in die sakewêreld deurgebring, waar hy goed gevaar het.

Met sy aanstelling as finansminister het hy dit duidelik gemaak dat hy nie eintlik die pos nodig het nie. Hy verkies om tyd op sy plaas in Limpopo deur te bring, ver die gewoel van die stadslewe en die burokrasie.

Een ding wat die drie wel in gemeen het, is die argwaan van die vakbonde en die linkse vleuel van die ANC.

Een ding wat die drie wel in gemeen het, is die argwaan van die vakbonde en die linkse vleuel van die ANC.

Dit is dus geen verrassing nie dat die ekonomiese plan wat Mboweni twee weke gelede op die land losgelaat het, onmiddellik in die linkses se spervuur beland het – nes die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) wat grootliks deur Manuel saamgestel en bevorder is.

Mboweni se groot sonde blyk te wees sy gebruik van die p-woord – privatisering. Dit is die spreekwoordelike rooi doek voor ’n omgekrapte bul.

Die ander aanklag teen sy plan is dat hy glo nie behoorlik daaroor gekonsulteer het nie – nie met die vakbonde nie en ook nie met die ANC nie. Sy ander oortreding is dat hy kommentaar van die publiek versoek het. Hoe durf hy!

Mboweni se plan is met versigtige optimisme in sommige kringe in die private sektor verwelkom. Vir die vakbonde is dit natuurlik die kus van die dood en bewys dat Mboweni niks meer as ’n dienaar van die “groot geldmag” is nie.

Van waar ek sit, lyk die plan baie na ’n opregte poging om ons uit ’n ekonomiese skaakmat los te wikkel en terug te kry op die pad na voorspoed.

Dit is duidelik geskryf in die gees van die NOP en gee (uiteindelik!) vlees aan die visie van die NOP. Dalk kan ons nou reg laat geskied aan die NOP, waarvan die meeste mense hou, maar tot dusver net lippetaal bewys het.

Mboweni se plan beklemtoon die belangrikheid van ekonomiese groei om werkskepping te bevorder. Dit is ’n voorvereiste vir ekonomiese herstel, of behoort te wees. Dit is soos die Engelse sal sê “a no brainer”.

Maak geen fout nie. Mboweni se plan is ’n knuppel in die hoenderhok van linkse ekonomiese denkers en beleidmakers – net die regte ding om hulle uit hul slaap te ruk terwyl die land brand.

Ten tyde van hierdie skrywe was Mboweni en die tesourie in gesprek met die ANC se top-leiers en was die ANC se amptelike reaksie op sy plan nog nie bekend nie.

Dit is ook opvallend dat Ramaphosa tot nou nog stil is daaroor. Op die oog af behoort hy nie probleem daarmee te hê nie. Die sentimente in die Mboweni-plan is in pas met Ramaphosa se eie uitsprake oor sy visie vir die ekonomie.

Die vraag is of hy by sy minister van finansies sal staan in die aangesig van die aansienlike en groeiende teenkanting uit linkse geledere teen die plan.

Sonder Ramaphosa se openlike en entoesiastiese ondersteuning sal die minister se plan vir alle praktiese doeleindes dood wees.

Dus, oor na u, Meneer die President.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.