Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geen foto is nodig om dié dag te onthou
Annemarie van der Walt

’n Week of wat gelede moes ek loop soek na ’n foto uit my kindertyd – en dis maklik, so het ek gedag, want daar is net so een dun plakboekie vol daarvan, ingedruk tussen die rye en rye fotoalbums van my eie kinders se kleintyd.

Ek kon toe nie daardie foto opspoor wat ek in gedagte had nie. Miskien bestaan dit wel iewers tussen die ou kiekies in my ouerhuis of tussen dié in my vier susters se versamelings, dit is wel ’n vae moontlikheid.

Maar sedertdien is daar so ’n fluistering in my gedagtes, in Boerneef se woorde: “Wat nooit bestaan het / kan niemand ooit vind . . .”

Is ek werklik oortuig daardie oomblik jare der jare gelede, en wat my steeds so helder voor die gees staan, is ooit gekiek?

Waar is daardie bewys van hoe die sonlig gebokspring het oor die branders van die strand by Port St. Johns, presies waar die Mzimvuburivier se bruin water luiweg uit sy mond see in lek?

Dalk was dit niks anders as ’n ligbeeld vasgevang en ontwikkel deur die onverstaanbare chemie in ’n mens se brein nie.

’n Foto is egter nie nodig om daardie dag te onthou nie. Want maak ek my oë toe, is daar ook die reuk van die kusbos waardeur ’n nou voetpad lei, sketter die voëls steeds iewers in die bloute bo en smaak die lug so sout soos toe.

Op my rekenaar en selfoon wemel dit wel van ons doen en late.

Daar is talle ander foto’s wat ontbreek in my skraal album.

Waar is die een van die wye stoep wat eens die Wayside Inn by Waterval-Onder was en waar dikwels gestop is op ritte van en na die Krugerwildtuin om skons met konfyt en room te eet?

Van al die kere wat ons by Old Joe gestop het, op die ánder roete van en na die Laeveld deur Schoemanskloof, is daar ook net ’n afwesigheid.

Dat daar geen afbeelding is van die plat rotse langs die Nkomatirivier by Komatidraai waar goeters voor my vierjarige voete weggeritsel het nie, is daar ’n verleë dankbaarheid: Liefs dat die presiese tydstip waar ek van aspris ongehoorsaamheid en ’n naamlose gevaar en skuld bewus geword het, nooit vasgelê is tot in der ewigheid nie.

Vanselfsprekend blaai ek deur die dogters se magdom van fotoalbums tydens my soektog; van elke reis en verjaardag en familiesamekoms is daar ritse foto’s, ’n verweer teen vergeet.

Maar iets haper, en dit duur dae voordat die besef wát as’t ware soos ’n kameraflits in my gedagtes afgaan: Tot en met die koms van digitale fotografie is die albums noukeurig bygehou.

Vier, vyf keer ’n jaar is die foto’s laat druk, ingeskuif agter die deursigtige vensters, en na die geheue plek en datum bygeskryf.

Iewers, op ’n dag, het dié klein ritueel agterweë gebly, en is daar selfs ’n leë album waarop een kind se naam reeds geskryf is.

Op my rekenaar en selfoon wemel dit wel van ons doen en late. En tog, ek mis soms die oomblikke waarin ons ’n lewe so presies kan verbeel dat dit ’n mens býbly.

Meer oor:  Menings  |  Foto  |  Rubrieke  |  Herinneringe  |  Album
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.