Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Géén oorlog kan verheerlik word
Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Ek het groot waardering vir Marita van der Vyver as skrywer. Maar ek moet regtig met haar verskil oor haar siening van die Grensoorlog.

Eers dié nuanse: In ’n onderhoud verlede Saterdag se By sê sy sy het ’n broertjie dood aan die verheerliking van die Grensoorlog.

As skrywer van verskeie boeke en artikels oor dié en ander oorloë moet ek byvoeg: Ek het ’n broertjie dood aan die verheerliking van álle oorloë.

As historikus moet ek vasstel dat oorlog – helaas – deur alle tye deel was van die manier waarop ons as mense met mekaar omgaan.

Ek het respek, gróót respek, vir die ouens wat op die front was, maar dit beteken nie dat ek daardie oorloë verheerlik nie. Ek probeer juis in my werk die ervarings van mense opteken wat wys dat oorlog meestal hel is.

Maar deur die intense kameraderie en vriendskap tussen makkers ook soms naby aan die hemel.

Die Amerikaners het geen enkele sent gegee sodat Suid-Afrika in Angola betrokke kon raak nie.

Die kern van haar betoog is dít: “Kuba het probeer om Rusland tevrede te stel. Suid-Afrika het aanvanklik daar ingegaan omdat Amerika geld gegee het en op die ou end maar net die onvermydelike ’n bietjie langer uitgestel. Dit was tog logies dat daar op die een of ander stadium ’n swart regering sou wees – en daar is soveel mense dood om iets uit te stel wat tog moes gebeur.”

Eers die feitefoute: Fidel Castro, ’n onafhanklike, narsistiese gees, het niks gedoen om Rusland tevrede te stel nie; hy het Moskou aanvanklik nie eens in kennis gestel dat hy troepe na Angola gaan stuur nie. Hy wou Kuba ter wille van sy ego op die kaart as invloedryke moondheid plaas, as die heldhaftige Dawid wat sy stert onverskrokke teen die Amerikaanse Goliat lig.

Die Amerikaners het geen enkele sent gegee sodat Suid-Afrika in Angola betrokke kon raak nie.

My rekonstruksie is dat Suid-Afrika se betrokkenheid in 1975 in Angola die resultaat van kommer oor die groeiende Kubaanse aanwesigheid daar was, en omdat sowel Amerika as verskeie Afrikastate die Vorster-regering aangemoedig het.

Ná 1978 was Suid-Afrika se primêre militêr-strategiese doel om Swapo hok te slaan. In die eerste plek suid van die grens, maar verskeie groot operasies is ook suksesvol oor die grens uitgevoer om Swapo te ontwrig voordat sy vegters suidwaarts kon infiltreer.

Wat sou gebeur het as Swapo – soos hy bewysbaar wou – ’n Marxistiese eenparty-diktatuur in Windhoek deur wapengeweld kon afdwing?

In die proses het Unita se besetting van die suidoostelike hoek van Angola belangrik geword. Dit het Swapo gekeer om na die Kavango en Caprivi te infiltreer, wat beteken het dat die SAW se teeninsurgensie-oorlog min of meer tot Ovamboland beperk kon bly.

Fapla se offensiewe teen Unita in 1985, 1986 en 1987 het egter gedreig om Unita uit te skakel. Dus het die SAW in 1987-’88 in Operasies Moduler, Hooper en Packer in Angola ingegaan om Unita te laat oorleef – en geslaag.

Wat sou gebeur het as Swapo – soos hy bewysbaar wou – ’n Marxistiese eenparty-diktatuur in Windhoek deur wapengeweld kon afdwing? Wat sou dit vir die ANC/SAKP (nog méér ortodoks-kommunisties as Swapo) inhou?

Ja, dis waar, die behoud van wit heerskappy was op die duur onhoudbaar. Dis ook waar dat baie mense juis dáárvoor geveg het.

Maar terugkykende kan gekonstateer word dat die offers wat die manne in uniform gebring het, ’n nuttige praktiese gevolg gehad het: Dit het tyd gekoop vir die politici om ’n politieke oplossing te beding, soos genl. Constand Viljoen al in 1982 aangedring het.

Ek het baie van die soldate oor wie ek skryf, as goeie vriende leer ken. Ek weet hoe stukkend hulle dikwels is. Maar ek salueer elkeen van hulle. Ook dié aan die ánder kant.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en krygshistorikus.
Meer oor:  Marita Van Der Vyver  |  Leopold Scholtz  |  Oorlog  |  Kuba  |  Grensoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.