Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geen pleisters vir ANC-wonde
Johann Maarman

’n Ernstige graad van hemofilie, of bloeiersiekte soos dit in die omgangstaal bekend staan, is by die ANC gediagnoseer. Dit is ’n oorerflike siekte gekenmerk deur moeilike beheer van bloed uit ’n wond.

Dat die ANC besig is om vinnig bloed te verloor, word net ontken deur keiharde apologete, maar die harde werklikheid is dat soveel spiese in die lendene van hierdie eens magtige vryheidsbeweging gedruk is dat die wonde al stink.

Die oorgrote meerderheid van hierdie wonde is self toegedien, want faksies het die ANC in soveel dele opgekerf dat eenheid in die party waarskynlik nie maklik weer deel van die ANC-leksikon sal word nie. Die ANC is ’n erg verdeelde huis.

Tot ’n paar jaar gelede het die erfenis van apartheid dikwels die skuld vir mislukkings van die ANC gekry. Dié vyeblaar het egter verkrummel. Die ANC kan nie meer agter apartheid skuil nie, want vir die afgelope 23 jaar het hulle skouspelagtig hierdie land van sy waardigheid en sy staatsbronne gestroop.

Korrupsie, wanbestuur en omgekeerde rassisme is die penne wat die ANC van Jacob Zuma in die grond geslaan het. Onder sy administrasie het verkeerd reg geword, het politieke magsmisbruik soos onkruid begin gedy en gee hulle nie ’n bloue duit om vir die kieser nie. Hulle ontman as’t ware hierdie land van ons.

Zuma en sy rugkrappers is niks anders as ’n misdaadkartel nie. Hulle konkel in donker hoekies en vir hulle gaan dit primêr net oor hulleself en hoeveel bultsakke met geld hulle kan buit. Hulle het geen eerbied vir die Grondwet nie.

Maar dis hoe dit in die wêreld van politieke skurke werk: Hulle stel nie belang in reëls nie. Hulle maak hul eie reëls. Hulle ís die reëls.

Hul mantra is die karavaan gaan voort, al blaf die honde ook hoe hard. En waarmee hulle verskriklik goed is, is om die hekseketel te stook wat rasseverhoudinge polariseer.

Enige party met selfrespek sou al hand in eie boesem gesteek het as sy leier die land se kroonjuwele aan ’n invloedryke familie verkoop. Maar die ANC en sy LP’s het Zuma beskerm en hulle is net so aandadig aan die verval en verrotting van die ANC.

Die emosionele bande wat stoere ANC-mense met die bevrydingsbeweging gehad het, rafel vinnig uit. Die groot ontnugtering het begin intree.

Maar dit is wat mag maak.

Lord Acton se beroemde uitspraak kan hier in herinnering geroep word, naamlik dat mag korrupteer, en dat absolute mag absoluut korrupteer.

Zuma en sy sindikaat se wiele is vinnig besig om af te kom. Die emosionele bande wat stoere ANC-mense met die bevrydingsbeweging gehad het, rafel vinnig uit. Die groot ontnugtering het begin intree.

Cosatu en die SAKP, die bondgenote van die ANC, se geduld met Zuma is op. Net die afgelope week het albei gevra dat Zuma moet skoert. Die dae dat Zuma vir die SAKP en Cosatu kon hiet en gebied, blyk iets van die verlede te wees.

Dit is laat in die dag as jou alliansie-vennote selfs die radikale ekonomiese transformasie of die tweede revolusie wat Zuma as die ANC se nuwe testament verkoop, neerhalend afmaak as net nog ’n truuk van die Man van Nkandla om sy tentakels nog verder in die staatskas in te slaan.

Wanneer is dan genoeg vir Zuma? Hoeveel wil hy en sy politieke struikrowerbende nog buit? Moet ons dan vir altyd sy oordadige leefstyl finansier?

Die ANC kies in Desember ’n nuwe leier. Maar die kiesers het in 2019 ’n afspraak met Zuma én die ANC. Mag die kiesers vir Zuma en die ANC laat bloei. Hulle verdien geen pleisters vir hul wonde nie.

Meer oor:  Politiek  |  Johann Maarman  |  Anc  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.