Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geen plek vir politieke korrektheid in taaldebat
Rudolf Stehle

Skaars was die ink van ’n artikel (“Hou aan veg vir dié vryhede") in Rapport Weekliks droog waarin John Kane-Berman, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, waarsku dat politieke korrektheid besig is om die land te regeer, of Jan Gerber (“Wie dink dié Afrikaners is hulle?”) stuur die jongste politiek korrekte kartetse af in die debat oor Afrikaans aan Maties.

Kort voor hom was dit Piet Croucamp (“Taalbulle maar nes regering”) wat kaalvuis ingeklim het onder “diegene wat Afrikaans se toekoms wil opdwing”. Ook Rozanne Els (“Afrikaans ís spekvet en gesond”) het haar stem by dié koor gevoeg.

Dit is duidelik nie in die huidige bedeling politiek korrek om daarop aan te dring dat Afrikaans as voorgraadse onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch en elders behou word nie. Dis omdat só ’n aandrang duidelik in die weg staan van die regering se ideologie van “transformasie”. Dié ideologie word voorgehou as ’n meganisme om die onregmatighede van die verlede reg te stel, maar soos Kane-Berman uitwys, het dit inderwaarheid ten doel om die nasionale demokratiese revolusie tot stand te bring waarvan die einddoel rassenasionalisme en partypolitieke beheer oor alle openbare instellings is. 

Maar dié werklikheid word klaarblyklik nie eens as ’n moontlikheid oorweeg deur Gerber en Kie. nie. Els herhaal die moeë deuntjie dat Afrikaans mense uitsluit, terwyl Gerber reken dis vermetel van Afrikaners om vir hulself die reg van hoër onderwys in hul moedertaal op te eis omdat dit die meerderheid landsburgers nie beskore is nie, en – bid jou dit aan – omdat Afrikaners reeds meer bevoorreg as hul landsburgers is. Dit is tiperend van die soort drogredenasies waarop diegene staatmaak wat geen politieke aanstoot wil gee nie. Van wanneer af is historiese benadeling ’n voorvereiste vir onderrig in jou moedertaal en historiese bevoorregting ’n outomatiese diskwalifikasie hiervan?

Soos Leopold Scholtz tereg aanvoer, kan ’n universiteit slegs sy rol om kennis en insig te skep en oor te dra behoorlik vervul as hy volledig deel vorm van die gemeenskap wat hy veronderstel is om te dien. En daardie gemeenskap is in die US se geval eerstens dié van die Boland en ook die groter Wes-Kaap waar Afrikaans die huistaal van 50% van die inwoners is en Engels dié van 20%. Deur Afrikaans dus as voertaal naas Engels aan die US te behou, word die universiteit se deur vir meer en ’n groter verskeidenheid studente oopgegooi.

Els vat heeltemal mis wanneer sy aanvoer dat die boodskap van ’n aanlyn referendum oor Afrikaans by Maties – “Klik op hierdie skakel en gaan stem vir die behoud van Afrikaans” ­­–  ’n aanname is “dat jy vanselfsprekend ’n probleem met Engels in Matieland het as jy ’n Afrikaanse alumnus is”. Van waar Gehasi? ’n “Probleem met Engels” was nog nooit ter sprake in die huidige debat nie, maar wel die behoud van Afrikaans as onderrigtaal naas Engels in ’n oorwegend Afrikaanse omgewing. Dit is sekerlik nie ’n verregaande eis nie?

In plaas van logies beredeneerde argumentvoering verlaat sowel Gerber as Croucamp hulle op hoogs gelaaide taalgebruik, growwe veralgemenings en stigmatisering. Ironies genoeg maak dié twee hulle skuldig aan presies dieselfde reaksionêre optrede as die bekrompe Afrikaanse meningsmouse op nuuswebwerwe, in die sosiale media en in koerante se brieweblaaie waarteen Gerber en Croucamp dit het.

’n Fundamentele denkfout wat albei maak, is om die regse alarmiste en laertrekkers, in Croucamp se woorde die taal se “militante vaandeldraers”, gelyk te stel aan die taal. Dit is soos om Engels te verafsku omdat dit die taal was van die Britte wat vroue, kinders en agterryers by die duisende in konsentrasiekampe laat omkom het; Zoeloe te verguis omdat dit die taal was van die oorlogsugtige impi’s van koning Shaka; Duits as taal af te skiet omdat die Nazi's die taal gepraat het; of om Kambodjaans te verdoem omdat dit die taal was van die Khmer Rouge en die moordbeluste Pol Pot. Gelukkig is ’n taal veel meer as die oortuigings van sektore van sy sprekers.

Tot Gerber se krediet gee hy toe daar was ook “sinvolle kritiek, heel sober gelewer, teen prof. Wim de Villiers se plan”, hoewel hy nie noodwendig daarmee saamstem nie. Gerber en Croucamp verkies egter om in hul onderskeie rubrieke te fokus op die jeremiades van ’n randgroep regse Afrikaners eerder as om met dié wat “sinvol” en “sober” kritiek lewer in gesprek te tree. Dié benadering is ’n goedkoop manier om Afrikaans verdag te maak en diegene wat ten gunste is van die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan Maties te stereotipeer.

Soos prof. Wim de Villers in ’n vroeëre onderhoud  met Hanlie Retief (“Wat die Maties kort, is Wim”), hou Gerber en Els ook die voorbeeld van die florerende Afrikaanse boeke-, rolprent- en musiekbedryf voor as bewys van die gesonde posisie waarin die taal hom sou bevind. “Word Afrikaanse boeke verban? Word Afrikaanse musiek gesensor, of van kampusse verbied?” Dit is die retoriese vrae waarmee Gerber probeer aandui dat dit dooddollies gaan met Afrikaans. Els is nóg meer optimisties: “Afrikaans is spekvet en gesond,” skryf sy, “kyk die musiek, kyk die films, kyk die mense om jou wat dit praat.”

Ek het nuus vir dié drie: Afrikaans wat floreer op die kunsfront is nie ondanks die handhawing van die hoër funksies van Afrikaans nie, maar juis danksy die feit dat Afrikaans nog in die verlede as onderrigtaal aan universiteite gehandhaaf is en steeds aan enkeles gehandhaaf word. Diegene wat musiek, rolprente en boeke in Afrikaans skep, het minstens in Afrikaans skoolgegaan en die meerderheid was ook bevoorreg genoeg om hul universiteitsgraad in Afrikaans te voltooi. Tans hang daardie Afrikaanse blom aan ’n baie dun steeltjie wat onder politieke druk kan knak. Gebeur dit en Afrikaans word as tersiêre onderrigtaal aan Maties en elders afgeskaf, is dit onvermydelik dat die taal ook in skole die kreeftegang sal gaan en in die kielsog hiervan sal die kunsuitinge in die taal ook afplat en later opdroog.

Wat my bring by Breyten Breytenbach. Dat Croucamp hom dit verwerdig om selfs iemand met Breytenbach se moreel-etiese  statuur onder sy skerp pen te laat deurloop, getuig van sy totale onkunde oor waaroor die stryd om die behoud van Afrikaans aan Maties ten diepste gaan. Trouens, sy bewering dat “die letterkundiges van eens wat Afrikaans uit Afrikanerpolitiek wou ontwortel, [...] seker in hul grafte om[draai]” bevestig dié vermoede. Na watter letterkundiges Croucamp verwys, weet nugter, want die meeste letterkundiges wat by sy beskrywing pas, sal beslis nie saamgaan met die afskaffing van Afrikaans aan Maties nie.

Die stryd gaan nié oor “die uitsluiting van die ander” (Croucamp) nie, ook nie oor “vrees vir die voortbestaan [...] van ’n kulturele identiteit” (Els ) nie, en beslis nie oor “mense wat ’n enklave vir hulself wil hou” (Gerber) nie. Waaroor dit gaan, altans vir die meerderheid van diegene wat lief is vir Afrikaans, is die behoud en verdere uitbouing van ’n kosbare geesteskat, ’n taal met ’n ryke verskeidenheid vareïteite wat na aan die hart lê van mense van verskillende kleure omdat hulle dit met moedersmelk ingekry het; ’n taal waarin die volle ervaringswêreld van sy sprekers uiting kan vind; ’n taal waarin mense kan droom en grootse uitinge kan verwoord.

Sonder Afrikaans as taal van tersiêre onderrig sal dié land in sy geheel aansienlik armer wees. Politieke korrektheid kan dié feit nie verdoesel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.