
Dr. Isak Burger
’n Mens sukkel om woorde te vind om jou afgryse oor die bose spiraal van misdaad, veral geweldsmisdaad, in Suid Afrika te beskryf. Geweld teen vroue en kinders, verkragtings, plaasmoorde, vandalistiese betogings, bende- en taxigeweld – noem maar op.
Ek probeer moontlike redes daarvoor soek, want armoede en apartheid kan beslis nie as die hoofrede vir soveel barbaarsheid en wreedheid beskou word nie. Ek besef dat dit ’n klein minderheid van die bevolking is wat hieraan skuldig is van wie talle (onwettige) immigrante is.
Die wreedheid en haat van hierdie koelbloedige moordenaars en misdadigers is ondenkbaar.
Dit is opvallend hoeveel van hierdie misdade gepleeg word deur mense wat op parool is, dikwels ná soortgelyke misdade in die verlede. Dit is mense wat ’n gewetenlose loopbaan van misdaad maak.
Daar is waarskynlik ’n komplekse kombinasie van faktore wat tot hierdie gewelddadige toedrag van sake lei, maar ek word van een saak meer en meer oortuig: Misdadigers het die vrees vir die gevolge van hul misdade verloor. Hiervoor moet die staat die grootste verantwoordelikheid neem.
Paulus sê onomwonde in Romeine 13:3 dat dié wat reg doen, geen rede het om die swaardmag wat aan die regering gegee is, te vrees nie. Vir die kwaaddoener sê hy egter in vers 4: “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen te straf.”
Die oormatige klem op die menseregte van misdadigers het die strafbeginsel deur ’n “korrektiewe” benadering vervang.
Ons strafregstelsel faal onskuldige burgers. Die oormatige klem op die menseregte van misdadigers het die strafbeginsel deur ’n “korrektiewe” benadering vervang.
Dis ’n benadering wat (in Suid-Afrika) grootliks misluk. Ek wonder watter persentasie misdadigers verlaat ons tronke (korrektiewe sentrums) gekorrigeerd en gerehabiliteer en hoeveel is net versterk in hul kwaad.
Hoewel die doodstraf in Suid-Afrika afgeskaf is, meen ek dat daar toenemend meer misdadigers sonder enige verhoor deur boendoe-howe, konfrontasie met die polisie en uit selfverdediging “tereggestel” word omdat misdadigers weens ’n grootliks mislukte strafstelsel nie meer bang is vir die gevolge wanneer hulle die gruwelikste misdade pleeg nie.
Ek is teen polisie-brutaliteit. Selfs sonder die moontlikheid van die doodstraf, moet misdadigers egter weet dat die gevolge van hul dade erge straf inhou. Die vrees daarvoor moet hulle van misdaad weerhou.
Ek dink aan strawwe soos dwangarbeid om ons land se vervalle infrastruktuur, riolering en landbougrond te herstel en te bewerk.
Dit moenie as die miskenning van menseregte en as wraaksug afgemaak word nie. Dis wel skreiend en liefdeloos om onskuldige mense langer aan sulke bose barbaarsheid bloot te stel.
As dit as “onchristelik” beskou word, wat is die “Christelike” alternatief?
- Dr. Burger is ’n voormalige kerkleier en skrywer.