Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gehalteteks gebeur nie sommer net
Jana Luther

Vir Netwerk24 skryf iemand onlangs oor “brabbeltaal” wat taalverskuiwing aanhelp, en oor taal- en spelfoute “van baie Afrikaanse joernaliste wie se werk direk verband hou met foutloos skryf”. As ’n voorbeeld van dié “skande” noem hy ’n onlangse opskrif: “Al sukkel die uie, hou ons aan groei.”

Hieroor drie punte:

Ten eerste. Wanneer word “groei” in stryd met Afrikaans se manier van sê gebruik? Wanneer dit oorganklik gebruik word. Vergelyk: “Uie groei.” In dié sin is “groei” korrek, onoorganklik, soos dit in “keurige” Afrikaans hoort. As “groei” oorganklik gebruik word (“Iemand groei uie”) weerspieël dit die Engelse patroon (“Someone grows onions”). Dan is dit “in stryd met die Afrikaanse idioom”, soos Tom McLachlan in die HAT Taalgids skryf.

Tweedens. As ons aanvaar dat lewende tale verander, en ’n bepaalde uitdrukking of segswyse klink al hoe gereelder in die spreektaal op . . . Tot wanneer toe moet joernaliste en subredakteurs wat foutloos wil skryf, so ’n onidiomatiese, oorgeklankte bousel uit ’n Afrikaanse koerant weghou?

Die antwoord hierop kom nie altyd vinnig en maklik nie.

In dié geval? Maak reg, ja. Soos Fred Pheiffer verlede week skryf: “As ek my vertaler- of taalversorgerhoed dra . . . Met teks doen ’n mens veel meer moeite as met praat.” Maar hou tegelyk dié stelling van ’n onderwyser-taalkundige, Joe McVeigh, dié week op Twitter in gedagte: “Prescriptivists like to think they’re Batman protecting the language . . . But they’re wrong. Language change is Batman. Prescriptivists are the Joker – destined for fail-ure.”

Die sekerste kenmerk van ’n lewende taal is verandering. Wanneer ons voorskryf, laat ons dit dus versigtig doen.

Die sekerste kenmerk van ’n lewende taal is verandering. Wanneer ons voorskryf, laat ons dit dus versigtig doen. Die oudjoernalis Ollie Olwagen maan nie verniet nie: Pasop vir “subitis” (’n ou woord vir ’n sub of taalversorger wat net wil verander omdat dit vir hom of haar lekker is).

Punt drie is die belangrikste. Lees weer die aanstootlike opskrif: “Al sukkel die uie, hou ons aan groei”. Die uie sukkel om te groei, maar ons groei. Word “groei” oorganklik gebruik? Nee. Wat skort met dié opskrif? Niks. Nes daar nie fout is met die diepteartikel wat daarop volg nie.

’n Gehalteteks gebeur nie sommer net nie en by die vasstelling van gehalte is taal- en spelfoute nie al kriteria nie. Tekstipe. Inhoud. Struktuur. Bewoording. Aanbieding. Waar die K3-model van die Nederlandse teksgehaltespesialis Jan Renkema as vertrekpunt dien – onder meer by die opleiding van teksredaksiestudente – is daar vir elk van dié vyf vlakke drie evalueringspunte: korrespondensie, konsekwentheid en korrektheid.

Is daar ooreenstemming tussen teks en struktuur, teks en leser? Is die teks vir die leser gepas? Het die skrywer konsekwent gewerk? Is keuses gemaak, daarby gehou? Ja? Korrigeer dán die res.

Dankie, Cheréne Pienaar, vir ’n gehalteartikel oor positiewe onderwysers wat vir plaasskoolkinders iets uit niets maak, en aan die kopskrywer vir ’n treffende, foutlose opskrif.

Luther is teksredakteur en redakteur van HAT6.

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.