Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gekreukelde oues aard nie in nudiste-eetplek

Ek weet nie of dit net ek is wat hierdie tyd van die jaar so sukkel om aan die gang te kom nie, maar ek twyfel.

Jy weet jy moet werk, maar jy sal enigiets doen om nie te werk nie.

Ek is soos ou Blikkies in die Trompie-stories wat ’n halfdag vat om sy potlode skerp te maak en sy liniaal mooi haaks met sy penneblikkie te rangskik, als net om die aaklige, onvermydelike met ’n paar minute langer uit te stel.

So het dit my byvoorbeeld die afgelope week ’n volle dag gevat om vir my ’n dagboek aan te skaf, want ek is een van daai oues wat nog glo dat ’n man te alle tye ’n sakdoek en ’n dagboek by hom moet hê.

O ja, en ’n knipmes, behalwe as jy vlieg (daar lê al seker tien van my knipmesse in die lughawens se mesbokse).

In elk geval, ek soek nooit ’n fênsie dagboek vol aanhalings deur wyse manne en omslae met goud beslaan nie.

Net een bladsy per dag en ’n opsomming van vakansiedae dat ek kan begin beplan om op ander plekke ook niks te gaan doen nie.

Ek kan myne toe-oog in die ANC-boekwinkel raakvat, maar om tyd te verwyl het ek die regte kleur dagboek eers by die vierde winkel opgespoor.

As jy nou ons hedendaagse mense regtig kaal wil laat voel, vat jy hul selfone weg.

Dik Daan sê hy wonder of daai kalender met naakfoto’s wat die manne van die veeartseny-departement by die UP laas jaar gedruk het om geld in te samel vir droogtehulp ooit verkoop en of hulle ook saam met die mielietjies verskrompel het.

“Ek moet sê, as hulle wou gehad het die kaalender moet verkoop, moes hulle maar eerder die ander helfte van hul klas betrek het.”

En nog so van die kaalperskes gepraat: Oom Johnny sê hy sien dié week dat die O’naturel-restaurant wat laas jaar met groot geskal in Parys geopen is as bestemming vir dié stad se nudistebevolking nou sy deure moet sluit as gevolg van ’n gebrek aan belangstelling.

Overgeset synde, daar het nie genoeg kaalante kom uithang om dit lywensvatbaar te maak nie.

“Ek het van die begin af geweet die ding gaan nie werk in ’n plek soos Parys met al daai gekreukelde pensioentrekkers wat daar gaan aftree nie,” sê hy, duidelik ’n bietjie deurmekaar met die Franse en die Vrystaatse weergawe van dié ou dorpie.

Dik Daan reken die groot probleem was eerder dat hul servette nie brandbestand was nie en dat die kaalante hul klere én ook hul selfone by die voordeur in sluitkassies moes los.

“Kyk, as jy nou ons hedendaagse mense regtig kaal wil laat voel, vat jy hul selfone weg. Die meeste dametjies sal veel eerder drie pênties by sekuriteit los as hul selfone,” sê hy.

Neef Bartel sê jy hoef mos nie Frankryk toe te foeter om te gaan kaal uiteet nie.

“Die restaurante in die Kaap het my op Kersdag en nog drie keer daarna onbeskaamd kaal uitgetrek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.