Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geld is g’n kuur vir wanbestuur

Kan vuisvoos belastingbetalers dan nou nog verder getap word, wonder Dawie met die lees van die voorstel dat munisipaliteite hul eie inkomstebelasting begin hef.

Dit is een van die voorstelle in ’n verslag deur die Finansiële en Fiskale Kommissie, wat probeer het om vas te stel watter nuwe bronne van inkomste platsak munisipaliteite kan help om dienslewering te verbeter.

Volgens die kommissie is dit ’n idee wat wêreldwyd by verskeie plaaslike regerings aanklank vind. Die idee is na berig word om op die rug van bestaande inkomste- of ander belasting te ry en sodoende ekonomiese aktiwiteit wat plaaslik geskied, vir die plaaslike begroting te gebruik.

Ironies genoeg lees Dawie in dieselfde uitgawe van Die Burger (29.07) dat Faith Muthambi, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake, ’n prekie afgesteek het oor wydverspreide wanbestuur by munisipaliteite. Sy het onder meer te velde getrek teen die gebruik van duur konsultante wat dan min verrig om wanfunksionele munisipaliteite reg te ruk.

Net om lesers se geheue te verfris: Muthambi is (ewe ironies) ons eertydse minister van kommunikasie op wie se wagbeurt die SAUK in ’n volslae moeras van wanbestuur verval het en waar die benarde finansiële toestand deels te wyte is aan die rojale gebruik van peperduur “konsultante”.

Ons weet mos nou al lankal die eintlike probleem is swak finansiële bestuur, wat na die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. Kortweg: kaderontplooiing.

Nou: As sélfs Faith (deesdae) kan insien wat die ware probleem by munisipaliteite is, dan moet die idee van ’n munisipale inkomstebelasting tog dadelik in die kiem gesmoor word, of hoe?

Ons weet mos nou al lankal die eintlike probleem is swak finansiële bestuur, wat na die aanstelling van onbevoegde amptenare teruggevoer kan word. Kortweg: kaderontplooiing.

Dís ’n probleem wat verdere belastings allermins kan oplos – dit sal net vererger, omdat jy maar net die bedrag wat uiteindelik gesteel, wanbestuur of verkwis sal word, verder verhoog.

Verlede jaar het Ratings Afrika se verslag die beroerde toestand van plaaslike regering – veral onder die ANC – behoorlik deurtrap.

Die gevolgtrekking was dat ’n algehele ineenstorting van munisipale dienste moontlik is – “met katastrofiese gevolge vir inwoners en ondernemers, wat weer politieke onrus kan aanwakker”.

Luidens die verslag is die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika in ’n finansiële krisis, met min of geen maatreëls om doeltreffende beheer oor begrotings uit te oefen nie.

Dus: Nog meer geld en meer mag vir mense wat kennelik nie in staat is om dit te bestuur nie? Eerder nie!

Om vir sulke munisipaliteite nog meer geld te gee, is soortgelyk daaraan om vir ’n eerstejaarseun ’n kis bier en jou karsleutels te gee en te sê: “Gaan geniet nou jouself, ouboet.”

Die oplossing is mos nou veel eerder om ’n verbod te plaas op kaderontplooiing en bekwame bestuurders op meriete (eerder as op party-affiliasie) by munisipaliteite aan te stel.

En dis nie net Dawie wat so sê nie. Pres. Cyril Ramaphosa weet dit ook, want toe hy vroeër vanjaar “geskok” was oor die haglike toestande en gebrek aan dienslewering ná ’n besoek aan Kimberley, het hy juis gesê kaderontplooiing moet end kry en die regte mense moet op die regte plekke aangestel word.

Wat Dawie verder bekommer is dat die belastingvoorstel kom kort ná die onthulling van ’n “hoogs geheime” dokument van die departement van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Hierin word ’n regeringstelsel soortgelyk aan die nasionale Covid-19-bevelsraad vir munisipale distrikte ná die pandemie in die vooruitsig gestel.

Dus: Nog meer geld en meer mag vir mense wat kennelik nie in staat is om dit te bestuur nie? Eerder nie!

Meer oor:  Belastingbetalers  |  Menings  |  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.