Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geld maak nie altyd alles reg wat krom is nie
Nolan Venter

Die wintersonnetjie is nét besig om sy kop agter die horison in te trek toe ’n tenger armpie op die N2 naby Humansdorp voor my opdoem. Ek slaan rem aan toe ek eers ’n goeie 200 meter verby die bejaarde vrou is. Die rit van Kaapstad af was lank en uitputtend.

Ek het my heelpad voorgeneem om nie vreemdelinge op te laai nie. My gewete kla my egter aan. Dit sal binnekort donker wees en op die res van die pad sal ek bly wonder of die vrou ’n saamrygeleentheid gekry het.

Ek hou langs haar stil nadat ek ’n U-draai gemaak het. “Molo, Tata!” groet sy beleefd in Xhosa. “Umkhulu uThixo (Die Here is groot).” Haar oë helder op as ek in haar eie taal aanspreek.

Terwyl ek haar bagasie in die kattebak laai, ruil ons inligting uit. Haar naam is Nolast. Sy is haar ouers se laaste kind. Omtrent alle Xhosa-name het een of ander betekenis.

Haar selfoon lui toe ek die agterdeur vir haar oopmaak om in te klim. Sy haal dit uit haar linkerbors. Met haar wysvinger druk sy haar een oor toe en draai haar kop skuins om beter te hoor, soos ’n duif. Sy bring die foon van haar oor af tot voor haar mond voor sy deur haar masker praat. Ek wonder altyd waarom sommige mense dit doen.

Haar selfoon lui toe ek die agterdeur vir haar oopmaak om in te klim. Sy haal dit uit haar linkerbors.

“Ndikwele molokazana (Ek is op pad my skoondogter),” sê sy vir die persoon aan die anderkant. Ek voel opeens bly dat ek stilgehou het.

Toe ek agter die stuurwiel inskuif, is daar al ’n redelike mate van vertroue tussen ons. Sy is toevallig ook van my tuisdorp. Kort voor lank gesels ons soos ou kennisse.

Sy vertel my dat sy by haar skoondogter ingeperk was en ook nou van die grasie-geleentheid gebruik maak om terug huis toe te gaan.

Sy woon saam met haar enigste dogter en twee kleinkinders. Haar oudste seun het jare gelede, op ’n baie jong ouderdom, in ’n dam in die woonbuurt verdrink. In die truspieëltjie kan ek opeens die hartseer op haar gesig lees.

’n Roof van bykans 25 jaar se seer word van my hart geruk – my eie seun se verdrinking op negejarige ouderdom. ’n Traan biggel oor my wang en verdwyn in my welige baard, wat ek sedert inperking nog nie geskeer het nie.

Voor ons ons kom kry, breek die damwal van ons jarelange stryd om berusting. Vir ’n goeie paar minute lê die virus weggebêre in ons gedagtes en ontbloot ons ons harte vir mekaar.

Toe ek later voor haar eenvoudige munisipale huisie stilhou, voel ek ligter. Twee jong knapies skarrel uitbundig by die voordeur uit en kom klou aan hul ouma se bene. Nolast haal ’n noot uit haar toegeknoopte sakdoek en hou dit na my toe uit. ’n Brandsiek hond lig sy agterbeen teen my voorwiel. Ek skud my kop waar ek by die kattebak langs haar bagasie staan.

Ek kyk vir oulaas na die wuiwende armpie in my truspieël en sê in my hart vir die Skepper dankie vir die sielsgenoot wat hy in hierdie tyd van die virus op my pad gestuur het.

Geld wat stom is, het ek lankal geleer, maak nie altyd reg wat krom is nie.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Korona  |  Inperking  |  Geld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.