Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geldspoor nou makliker gevolg
Judith February

Die Nasionale Vergadering het verlede Dinsdag die Wetsontwerp oor die Finansiering van Politieke Partye aanvaar, wat ten doel het om skenkings aan partye te reguleer.

Daar was tot nou geen sulke wetgewing in Suid-Afrika nie en individue en maatskappye kon soveel as wat hulle wou in die geheim skenk.

Dít het die deur wyd oop gelaat vir korrupsie en die koop van invloed. In ’n land reeds verdeel deur hoë vlakke van ongelykheid het welvarendes op verskeie wyses beleid probeer beïnvloed en só die stem van armes en gemarginaliseerdes verder uitgedoof.

Ons weet nou dat skenkings aan die ANC een van die grootste oorsake vir korrupsie rondom die wapentransaksie was. Dié verskynsel het sedertdien in verskeie sinistere gedaantes opgeduik – uiteindelik ook in staatskaping.

Die debat oor die finansiering van politieke partye het om en by 1997 begin toe ’n wet aanvaar is wat voorsiening maak vir finansiering uit die staatskas van partye met verteenwoordiging in die parlement.

Om die partye tussen verkiesings te befonds, word ’n 90:10-verdeling gebruik: 90% van die geld word proporsioneel tussen die partye verdeel, en die oorblywende 10% gelykop tussen hulle.

Nogtans meen talle partye dié openbare finansiering is onvoldoende en dat hulle daarom, veral tydens verkiesings, private skenkings móét bly werf.

In 2005 het die Instituut vir Demokrasie in Afrika (Idasa) die vyf grootste politieke partye hof toe geneem om hulle finansieringsbronne ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekend te maak.

Idasa het onder meer aangevoer dat politieke partye openbare organisasies is en dat die publiek dus geregtig is om te weet wie hulle finansier. Die hof het egter teen Idasa bevind.

Die ANC het toe al onderneem om die kwessie na die parlement te neem. Dat die ANC dit nooit gedoen het nie, is ’n jammerlike aanklag teen die party.

Ingevolge die nuwe wetsontwerp sal van politieke partye vereis word om die bedrae en oorsprong van skenkings bo R100 000 per donateur in ’n finansiële jaar bekend te maak. Donateurs moet ook hul skenkings bekend maak.

Dat die ANC dit nooit gedoen het nie, is ’n jammerlike aanklag teen die party.

Die inligting sal deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) versamel en kwartaalliks bekend gemaak word. Dit sal ongetwyfeld tot die administratiewe las van die OVK bydra, maar die OVK is die logiese keuse vir die hantering van sulke inligting.

Die wetsontwerp maak voorts voorsiening vir ’n fonds vir skenkers wat nie geld aan ’n spesifieke politieke party wil skenk nie.

Geld uit dié fonds sal aan partye bewillig word wat verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering en provin­siale wetgewers het en volgens ’n formule wat onder meer die proporsionele verteenwoordiging van die spesifieke party in ag neem.

Die 90:10-verdeling is ook verander na een waar twee derdes van die geld proporsioneel verdeel word en die oorblywende derde gelykop tussen partye.

Daarby sal skenkings van buitelandse regerings en hul agentskappe verbied word. Ander buitelandse entiteite sal steeds toegelaat word om geld aan partye te skenk, mits dit spesifiek aangewend word vir vaardigheids- en beleidsontwikkeling en opleiding.

Oortredings hiervan is strafbaar met boetes en selfs strafregtelike vervolging. Die wetsontwerp is ’n regverdige en goeie begin om ’n netelige kwessie te hanteer, maar dit sal uiteindelik net so doeltreffend soos sy toepassingsmeganismes wees.

Nogtans is dit lofwaardig dat die veelpartykomitee wat die wetsontwerp sedert 2017 ontwikkel het, pertinente kwessies bespreek het en ’n nuttige kompromis bereik het.

Meer oor:  Nasionale Vergadering  |  Anc  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.