Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geleerde mans kan boos wees

Goeie geleerdheid bied aan talle Suid-Afrikaanse kinders die geleentheid om uit swak sosio-ekonomiese omstandighede te ontsnap. Dit kan jou uit armoede lig, ’n dak oor jou en jou gesin se kop sit en dra selfs by tot demokratiese stabiliteit.

Kan ’n graad of ’n diploma jou ook in ’n eerbare man verander wat vroue en kinders respekteer? Dit blyk so, as jy Angie­ Motshekga, minister van basiese onderwys, se redenasie glo.

Die minister het Maandag, met die vrolike maar onkundige ongeërgdheid van ’n loskop tante, kinders meegedeel dat “geleerde mans nie verkrag nie”.

As ’n seun dus getrou sy tafels oefen en sy Engelse grammatika instudeer, gaan hy klaarblyklik ontwikkel in ’n karaktervaste figuur in sy gemeenskap wat verstaan “nee beteken nee”. ’n BA-graad in linguistiek kan hom duidelik inlig dat daar nie ander semantiese betekenisse soos “miskien” of “dalk” in daardie drie letters opgesluit is nie.

’n Paar dae later doen Motshekga die gunstelingdanspassie van politici wat hul mond verbygepraat het – die toldokter-tiekiedraai, waarin sy skerm haar woorde is buite konteks gebruik.

Ek het die videogreep ’n paar keer gekyk en sukkel om Motshekga se “ware” konteks te vind. Wat ek wel sien, is ’n gruwelike veralgemening oor hoe Motshekga dink sekspeste en verkragters lyk.

Dis ’n skandelike oomblik vir ’n minister wie se departement gebuk gaan onder onderwysers wat leerlinge verkrag, teister en hul magsposisies uitbuit. Mans met tersiêre geleerdheid.

“Geleerde mans verkrag nie,” verklaar sy. ’n Duidelike ongemaklike gehoor deel haar mee dis nie die geval nie. “Regtig? Doen hulle?” eggo sy verbaas. Dis ’n skandelike “Haai, Blommie!”-oomblik vir ’n minister wie se departement gebuk gaan onder onderwysers wat leerlinge verkrag, teister en hul magsposisies uitbuit. Mans met tersiêre geleerdheid.

“Ek het gedink hulle is ’n bietjie meer beskaafd om nie sekere goed aan te vang nie. Nou is ek teleurgesteld.

“My teorie is, hoe meer gesofistikeerd jy is, hoe meer geleerd jy is, hoe kleiner is die kans dat jy by verkeerde dinge betrokke gaan raak.”

Dis reg, jong mens. Volgens ons minister van onderwys hou geleerde mans hulle nie op met “verkeerde dinge” nie.

Stel jou Engelse onderwyser ewe skielik belang in jou opstel oor Macbeth en wil dit privaat met jou bespreek? Geen rede tot kommer nie – hy het mos ’n graad en beslis Lady Macbeth eerder as Lolita op die brein.

Jou kanse is groter om deur iemand bekend aan jou verkrag en vermoor te word as om onverhoeds in ’n donker stegie deur ’n “ongeletterde barbaar” betrap te word.

Ons samelewing het ’n gemeenskaplike oervrees vir die sogenaamde “barbare” wat agter ’n bos wegkruip, vroue bespring en hulle oorrompel. Hoewel ek nie die erns van dié soort seksuele geweld enigsins probeer verminder nie, wys Suid-Afrikaanse misdaadstatistieke ons dat seksuele geweldslagoffers dikwels hul verkragters ken.

Jou kanse is groter om deur iemand bekend aan jou verkrag en vermoor te word as om onverhoeds in ’n donker stegie deur ’n “ongeletterde barbaar” betrap te word.

Verkragters is meer dikwels ons eggenote, pa’s, broers, lewensmaats, mentors, onderwysers en geloofsleiers – mense wat dikwels ’n masker van sogenaamde beskaafdheid en geleerdheid opsit. Hulle kom in alle gedaantes – sagmoedige ooms, Olimpiese atlete, kunstige mentors wat jong mense onder hul vlerk neem en deugsame geloofsleiers.

Onderwys mag ’n doepa vir talle maatskaplike euwels wees, maar Motsheka gaan ander oplossings vir seksuele geweld moet vind.

Onderwys mag ’n doepa vir talle maatskaplike euwels wees, maar Motsheka gaan ander oplossings vir seksuele geweld moet vind.

Dit loop hand aan hand met die persepsie van mag en vrouehaat – mans wat glo hulle het mag om mense swakker as hulle seer te maak en uit te buit.

Of mans wat glo hul mag, waarop hulle eeue lank geregtig was, is van hulle weggeneem en dit dan weer deur die gruwelikste dade probeer teruggryp.

Die beste kwalifikasies is nie ’n teenvoeter vir die boosheid nie.

Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Geweld Teen Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.