Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelowiges is geroepe tot ’n dieper vryheid
Reggie Nel

Baie is reeds geskryf oor Vryheidsdag, maar dit voel so asof die dag bloot gekom en vlugtig weer gegaan het. Vir baie het pres. Cyril Ramaphosa se getuienis by die Zondo-kommissie eintlik ’n skadu oor die vreugdevure gegooi. Vir die meeste mense in ons land is daar egter nie veel rede om te praat van vryheid nie.

Ten spyte van verkiesings, trek die meeste mense in ons land swaar te midde van angs oor werkloosheid en geweld, gebore uit die voortslepende onreg van ongelykheid. Vir baie het min verander. Hoe moet ons dus dink oor vryheid as ’n pad vorentoe, eerder as net ’n dag?

Een van die ikone van ons land se soeke na ware belewenis van vryheid is emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Op persoonlike vlak is dit ook ’n groot jaar vir hom – in Oktober word hy 90.

Hy is tot vandag nog een van die stemme wat nie opgehou het om die vergrype van die demokratiese bestel uit te wys nie. Die meeste van ons sal in ons lewe nie naby kom by dit wat hy in sy lewe vermag het nie – en dit met deernis en nederigheid.

Daar is egter ook ’n generasie wat oordeel dat hy gefaal het en dat dit is hoekom sake lyk soos dit lyk.

Soms is die versoeking om te dink dat Tutu as geestelike deesdae net grappies maak en sagte gebedjies prewel. Dis mos tog wat geestelikes doen.

Dis egter ’n vervlakking van die ryke tradisie van openbare getuienis wat hy verteenwoordig. Tutu, word vertel, het in 1976 ’n toespraak gelewer en hom in ’n stadium tot John Vorster, eertydse eerste minister, gerig. Tutu was in daardie tyd die biskop van Johannesburg.

Ek dink nie Tutu beskou homself as ’n siener nie en beslis nie as ’n doemprofeet nie.

“As iets nie drasties en gou gaan gebeur nie, dan is bloedvergieting en geweld ons voorland . . . Mense wat deur wanhoop, onreg en verdrukkings desperaat gemaak word, sal desperate metodes gebruik,” het Tutu gewaarsku.

Daar is nie na hom geluister nie. ’n Paar weke ná die toespraak het die geweld ontvlam wat vandag as die Soweto-opstand van 1976 bekend staan. Volgens sommige berekeninge is tot 600 mense in die dae en weke ná dié onrus dood.

Tutu het die afgelope paar jaar dieselfde waarskuwing aan die ANC-leierskap gerig.

Ek dink nie Tutu beskou homself as ’n siener nie en beslis nie as ’n doemprofeet nie. Hy neem homself nie so ernstig op nie.

Waaroor dit egter hier gaan, is om anders te kyk na die wêreld – hierdie komplekse werklikheid – en te bly glo dit kan anders wees.

Gelowiges soos Tutu word aangevuur deur die Paas-tradisie waar vryheid iets anders beteken as bloot selfhandhawing. Hulle kyk dus anders, en hulle sê en doen dinge wat almal nie sal verstaan of waarop almal nie onmiddellik ag sal slaan nie.

Hulle is tot hierdie vryheid geroepe en dis nie van verbygaande aard of ter wille van politieke gedienstigheid nie.

  • Prof. Nel is dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Menings  |  Vryheidsdag  |  Desmond Tutu  |  Stemme  |  Reggie Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.