Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geluk is ’n kat en ’n drie deur Pieter-Steph
Dr. Lina Spies, wat vroeër vanjaar 81 jaar oud geword het. Foto: Werner Hills

Op 81 is Lina Spies nog aan die skryf. Sy vertel Marguerite van Wyk van die vreugde wat sy vind in woorde en in die prag van ’n drie op Nuweland. En in die distopiese tyd van Covid-19 vind sy troos in haar kat, Mouschi.

Toe ek daar wegry, druk ons mekaar. Boere-styl. Dit was vroeg Maart toe ek aan die deur geklop het van dr. Lina Spies, een van Suid-Afrika se grootste digters. Covid-19 se dinge, glo ons toe, is iets wat in Wuhan gebeur, nie in Suid-Afrika nie.

Ná ons ontmoeting was Spies onderweg na ’n praatjie op die Woordfees. Ek sing op die fees saam met die Libertaskoor in twee optredes. Ná besielende uitvoerings druk almal mekaar uitgelate. My ouers van Hermanus woon dit by. My broer WhatsApp ontstoke uit Johannesburg: “Dink julle dis ’n grap?’’

Die hele landskap het sedertdien verander. Ons nabysyn het gekrimp, maar ons woordeskat het uitgebrei en sluit nou “inperking” in.

Daardie Maandagoggend, ’n sonskyndag by die Agapé-aftreeoord in Stellenbosch, klink die Italiaanse mezzosopraan Cecilia Bartoli kliphard op toe die deur oopgaan.

’n Vriendskap in Vondelpark gesmee

Spies, wat op 6 Maart 81 jaar oud geword het, staan klein voor my. ’n Vrou met baie geleerdheid, gróót pryse. Vir haar eerste bundel, Digby vergenoeg, het sy in 1972 die Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys ontvang. Voor haar aftrede was sy ’n professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ag nee wat, los nou maar eers al die groot geleerdheid,’’ waai sy dit weg. ’n Paar potjies tuinrose, blaartjies effe verlep, staan rond – een op die TV-stel (wat glo nie werk nie).

Sy dra ’n wit broek en hemp en kla ’n bietjie oor dié hare wat die liewe Heer aan haar gegee en die haarkapper te kort gesny het. Seemsleerpantoffels, uitgevoer met skaapvel, lê langs ’n riempie-eetkamerstoel.

Die gesels trek na Nederland. Trots uitgestal is ’n swart-en-wit foto van ’n jong Elisabeth Eybers, een van Spies se muses toe sy in 1969 en 1970 in Nederland vir haar meestersgraad studeer het.

Sy maak vir ons tee met Ideal-melk. Maar eintlik is ek daar vir katstories. Ons probeer haar befaamde kat, Mouschi, vasvat vir ’n foto, maar dié skuil onder ’n kas en weier om uit te kom.

Wat my, medekatbetottelde, by haar besorg het, is Johan Rademan se radiodokumentêr Majesteit, die kat, gegrond op Spies se boek uit 1998 met dieselfde naam en met die subtitel “Verhale en gedigte oor katte”. Maar eers luier­ die gesprek nog by Eybers. Mouschi kruip ieder geval weg. Hy’s nie gewoond aan mense nie, sê sy.

Spies en Eybers het tot Eybers se dood gekorrespondeer. Sy onthou die skerp humorsin, dat jy nie aan haar verkeerde kant moes kom nie. Hul vriendskap is in die hoogsomer gesmee oor koffie in Vondelpark. Eybers teruggetrokke, “maar tog, as sy eers uit haar dóp gekruip het . . .’

Sy wil nog haar memoire skryf, sê Spies.

Katboeke

Spies – met haar “natuurlike uitgesprokenheid” – het met gemak in Nederland aangepas. Sy is steeds so. “Sodat ek nou nog oor sekere dinge my reguit en onomwonde uitspreek, terwyl ander mense swyg.’’

In haar woonplek, besaai met boeke, lê hopies van die Amerikaanse digter Emily Dickinson, oor wie sy gek is en navorsing doen. Sy skryf steeds dikwels essays vir die literêre webwerf Litnet.

Majesteit, die kat, uitgegee deur Queillerie, is uit druk, sê ek. Nee, nee, sy het een. Krap in haar vol boekrak. Oral peul boeke uit. Hopies boeke staan op die vloer, uitgepak tussen breekware en kat-ornamente.

Daar is ’n spul katboeke. Quotable Cats deur Robert Byrne en Teressa­ Skelton, The Silent Miaow­ van Paul Gallico . . .

Sy gee moed op. Majesteit, die kat kry sy nie nou nie. Dis Spies se ode aan katte, met bydraes van 40 skrywers (en 11 kunstenaars) soos Elsa Joubert, Francois Bloemhof, Antjie Krog en Chris Barnard.

Toe red sy Mouschi

Katte is baie slim, meen sy. Hulle troos, hulle is jou bondgenoot, is dapper en getrou, onpeilbaar, maar ook grapjasse.

Sy was haar lewe lank lief vir katte, hoewel haar ouers nie juis van katte gehou het nie. Sy het haar hele volwasse lewe katte gehad, met name soos Jasper, Hansie, Karlien, Snoes, Karolus, Tommie, Toesj, Tonya en nou die 12-jarige Mouschi.

Peter van Pels se kat se naam was Mouschi. Van Pels het saam met Anne Frank en haar gesin in die agterkamer van ’n huis in Amsterdam geskuil teen die Nazi-vervolging van Jode in die Tweede Wêreldoorlog. Frank se naam sou verewig word deur haar dagboekinskrywings, gepubliseer as The Diary of Anne Frank.

Een van Spies se bekendste en vroegste gepubliseerde gedigte is “Vir Anne Frank van het Achterhuis’’. In haar Amsterdam-jare het Spies geweet sy moes dié jong meisie se ervaring in Afrikaans neerpen. Vir haar vertaling van Frank se dagboek, Die agterhuis: Dagboekbriewe 12 Junie 1942 - 1 Augustus 1944, is sy in 2011 vereer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die oorspronklike Mouschi, terloops, het agtergebly nadat die inwoners van die agterkamer deur die Gestapo weggeneem is en het ’n ander tuiste gekry.

Spies het lank met die naam Mouschi rondgeloop en gewis sy moes wag op die regte kat – een wat sy moes red – vir dié naam.

Sy’t Mouschi uiteindelik gered uit die kloue van ’n buurvrou se katboelies. Vandag is Mouschi haar kameraad. Hy slaap by haar en lê bedags op die groot stoel in die biblioteek en spin. Saans purr hy neffens haar wanneer sy werk en na Mozart luister – “my konneksie met die transendente”.

Uit Opperman se laboratorium

Spies is ’n boorling van Harri­smith in die Vrystaat en toe sy drie jaar oud was, het haar pa, ’n onderwyser, teruggekeer Stellenbosch toe om verder te studeer.

Sy sal jok as sy sê sy onthou, uit daardie tyd, die berge en die Eersterivier. Maar sy is nou al weer so lank in die Boland, sy is nie meer ’n Vrystater nie, al het sy jare­ lank vir die Vrystaat se rugbyspan geskree.

Haar pa, sê sy, het naas DJ Opperman en Eybers seker die grootste invloed op haar lewe gehad.

Hy het skoolliedere geskryf en was skoolhoof. Sy onthou hoe hy eenkeer aan haar gesê het hy wens hy was ook ’n digter. Sy – wat meen sy vind die regte woorde op die regte tyd, sê toe: “Pa is ’n gelukkige mens. Gelukkige mense skryf nie gedigte nie. Pa skryf skoolliedere. Pa het kleinkinders. Pa het kinders. Hoekom skryf Pa nie kindergedigte nie?”

Sy gaan haal haar pa se digbundel. Van die gedigte is later getoonset en die liedjies deur kinderkore gesing. Voor in die bundel, in ’n netjiese handskrif die nota: “Met baie liefde en veel dank aan Lina vir aanmoediging en kritiek.’’

Om te dig

Sy was nog op skool toe haar eerste gedigte gepubliseer is.

Op 21 was sy een van die eerstes in Opperman se Letterkundige Laboratorium in Stellenbosch. Ná haar debuutbundel sou sewe ander, niefiksie en prosa volg.

Spies sê sy was amper soos ’n kind in die Opperman-huis en was selfs by ten tyde van sy dood. “Hy was ’n introvert en ongelooflik eerlik.’’

Om te dig is vir haar ’n soort impuls. Iets gryp haar – ’n stuk musiek, ’n koerantberig, iets wat sy raaklees in ’n ander gedig. En van daar ontwikkel dit. Maar sy doen baie navorsing. Soms lees sy ’n hele boek voordat sy haar hand aan ’n gedig waag, soos oor Bartoli – een van haar ikone.

Van die temas wat haar roer, sluit in die natuur, godsdienstige temas, die liefde . . . en natuurlik haar liefde vir katte – hul onafhanklikheid en skoonheid veral, liefderykheid en misterie . . .

Dickinson-sindroom

Enkelskap. Sy sukkel om daaroor te praat. Tog, dis al wat sy ken. Sy mis nie kinders nie. Daar was altyd studente en om met hulle te kon werk, was ’n heerlike konneksie met die jeug. Baie lekkerder as toe sy as jong vrou ’n jaar of twee skool gegee het vir gr. 9- en gr. 10-leerlinge.

Die ouderdom . . . Wie wil oud word? Sy het tot op 80 nie eintlik daaraan gedink nie. Maar van 80 na 81 het daar ’n effense verskuiwing gekom. Haar enkel lol effe. “Nou dan is dit seker ook nou maar die ouderdom.’’

Op 6 Maart, toe sy verjaar het, het ’n vriend wat 50 jaar jonger as sy is, haar uitgeneem vir ete.

“En ek is nie sy mentor nie, ons is op gelyke voet,’’ sê sy. Haar niggies en nefies het haar spesiale vervulling gegee.

Dan dink sy weer: Enkelskap was nie ’n kruis nie. Sy kon fokus op haar digterskap sonder dat sy aan die normale eise van ’n ma en eggenoot moes voldoen.

Sy probeer daagliks poësie lees, skryf nog gereeld gedigte. Nie met die oog op ’n bundel nie. Dít het sy nog nooit gedoen nie. Sy skryf – en wanneer sy genoeg gedigte het, sorteer sy dit volgens temas vir ’n bundel.

Sy wil haar memoire skryf en sê doodluiters dit sal nou vinnig moet gebeur.

Sy is dankbaar dat sy nou – in daardie fase van haar lewe waarin baie vroue dikwels sukkel om hul alleenwees te verwerk – nog haar passies kan beoefen.

Nie dat sy so baie kook of onthaal soos vroeër nie. “Ek het lui geword.”

Miskien omdat sy nou ook moet stry om nie in ’n Dickinson-sindroom te verval waar sy haar wil onttrek aan die lewe nie, reken sy.

Maar wanneer sy kook, dan hou sy van boerekos. Pampoen, skaapboud, gebakte aartappels.

“Ek dink waarna ek streef, so met die ouer word, is om so aan te gaan met die lewe dat ek nie dink aan die dood nie.’’

Spies gee ’n aanhaling in Nederlands en sê losweg vertaal beteken dit: “Alleenlik kan jy die vrees vir die dood en van die groot onbekende besweer deur so voluit as moontlik te lewe met mense wat jonger is as jy.”

By die groetslag maak sy verskoning omdat Mouschi nie wou poseer vir ’n foto nie. “Jy sal maar weer moet kom,” nooi sy.

En dis toe dat sy – in daardie laaste spesiale dae voor die werklikheid van Covid-19 – my ’n hartlike boeredrukkie gee.

Sy’t jare lank ’n seisoenkaartjie vir Nuweland gehad en skree steeds hard vir die Stormers. As Herschel Jantjies, ’n ou Stellenbosser, goed vaar, dan raak sy so bly.

En toe Pieter-Steph du Toit ’n wendrie teen die All Blacks druk, het die trane vryelik gevloei. Want, sê Spies, sy huil wanneer sy bly is.

Sy kan nie verstaan as mans kla hulle het nie seuns wat saam met hulle rugby kan kyk nie. Haar pa het haar en haar twee susters rugby toe geneem. Al drie dogters is mal oor rugby.

Sy is Carellina Pieternella Spies gedoop, maar het lankal haar naam op haar identiteitsdokument en paspoort verander.

Spies raak nou nog gek as daar op byvoorbeeld literêre webwerwe na haar as CP Spies verwys word. Haar pa het maar toegegee aan die doopname wat haar ma en ouma vir haar gekies het, maar sy het ’n hekel daaraan.

“Jy kom nooit los daarvan nie,” sê sy.

Haar pa het haar wel ondersteun in haar besluit om die swaar name af te skud. Want, sê Spies, hy het geweet sy is hardkoppig en eiewys.

Ek leef alleen:

daarom knaag ek soms

soos ’n grotbewoner

op ’n been.

Nogtans vra ek op my ete, Heer,

u seën.

– Lina Spies

  • Van Wyk is ’n vryskutjoernalis en katliefhebber van Kaapstad.
Meer oor:  Lina Spies  |  Gedigte  |  Digkuns  |  Geluk  |  Katte  |  Profiel  |  Onderhoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.