Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelukkig het ek nie miljoene om te verloor

Twee oumanne sit dié week moedeloos, kop onderstebo, op ’n parkbankie met ’n swart hond neffens hulle.

Later sug die een: “Kan jy glo ek is so ongelukkig, ek het nou rumatiek gekry op 75.” “Dis nog niks”, brom die ander oukêrel, “ek het Steinhoff gekry op 90!”

Sjoe, vriende, partykeer is ek ook maar diep dankbaar dat ek net ’n doodgemiddelde, middeljarige, middelklas-Afrikaner met ’n dik middel en ’n breë middelpaadjie is. Ja, in die middel, Cyril, maar anders as daai klas van manne, het ek genadiglik nie miljarde om te verloor nie. Trouens, toe ek op skool was (daar êrens tussen Van Riebeeck en die Kroektas) het ons nie eens van miljarde geleer nie, want daar wás nie miljarde van enigiets behalwe sterre nie. So, gelukkig is al plek waar ek regtig baie kan verloor, hier om my middel.

Blouwillem

Maar wie moet nou in die toekoms die boekhouers dophou en húlle boeke laat klop? Dit lyk my die trappe van vergelyking in ons regstelsel gaan nou wees hof, appélhof, konstitisionele hof en dan Steinhoff. Ek is ’n ou wat altyd by die tweedehandse boekwinkeltjies rondsnuffel en by die huis (wat reeds drie geslagte se boeke berg) aankom met nóg ’n niksseggende boekie soos 1234 Facts to Leave You Speechless. In die kleinste plekkie in die huis lees ek toe gister van ’n skelm Italianer, ene Giuseppe Trellini, wat in 1969 in Milaan gevonnis is nadat hy gerasperde houtsambreelstele as gerasperde parmesankaas aan kliënte verkwansel het. Toe wonder ek waarom Giuseppe nou juis sambreelstele en nie sommer enige gewone gelerige houtjies gerasper het nie. Seker maar om hom self te cover. Wel, of ’n sambreel genoeg was om hom te red, is onwaarskynlik.

Die jaar se nuus was meesal neerdrukkend met hier en daar ’n ligpunt. Staatskaping, skoolkaping, korrupsie, nóg korrupsie, Kroektas, Bokloesings en droogte in die Kaap (afgewissel met mooiweer en matig elders). Maar gelukkig was daar ook die stukkies lekker en interessante nuus. So, lees ek onlangs van O’Naturel, ’n kaalbasrestaurant in Parys (nie die een in die Vrystaat nie) waar jy poedelnakendkaal kan sit en eet.

Nou ja, ek is vanjaar ’n paar keer in ’n re­staurant kaal uitgetrek, en veral as ek skaapvleis bestel het, maar waar op die liewe ondermaanse bêre jy jou beursie as jy ná so ’n eetplek toe gaan? En wat’s vir nagereg? Dalk ingelegde kaalgatperskes en kaalstert (ag, ek bedoel custard)?

En wat van die ontwerper in Los Angeles wat ’n toilet ter waarde van R1,4 miljoen uit 24
Louis Vuitton-handsakke gemaak het?! Ja, ou Markus, voor dié week het ek gedog dáái’s nou vir jou ’n kleinhuisie vol geld. Min het ek geweet. Markus, en oor die kaal restaurant: Die Franse het ’n spreuk wat lui “Il y a une coquille dans potage” (oftewel, jou suidelike dele hang in die sop).

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.