Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelukkige Kerstyd, geseënde Nuwejaar
Piet Matipa

Om Kersfees saam met jou geliefdes te oorleef, moet jy ’n fenomenale akteur wees, veral wanneer jy iets in die twintig is.

Dit is amper soos om konstant jou maag in te hou om jou boepie te verdoesel.

Jy kies vir jou ’n persoonlikheid.

As jy Suur Ben is, word jy Beleefde Benjamin, en Partytjie-Patricia word Preutse Patricia, ’n kind oor wie jy kan spog.

Ek kan (uit navorsing) my net voorstel hoe dit is om ’n 20-jarige in ’n Afrikaanse gesin te wees.

Daai een tannie wat jy net in die feestyd sien, gaan jou soos gewoonlik vra of daar al ’n nooi/kêrel in jou lewe is – die “een”.

Jy gaan beleef antwoord: “Ek het nog nie die regte persoon ontmoet nie.”

Wat jy nie vir haar gaan sê nie, is dat jy so wild soos ’n pad met potholes is en dat jy in die bondel vry asof jy op ’n skoolkamp is.

Sy gaan jou van haar Koos vertel wat nou die dag getrou het.

Jou gesig neem aan die gesprek deel met die regte gesigsuitdrukkings; jou verstand beleef vir ’n paar minute load shedding.

Jy is lief vir jou neefs en niggies, maar jy kompeteer konstant met hulle – hulle dink jy is besig om geselsies te maak, maar wat jy eintlik doen, is om jou CV op ’n innoverende manier vir hulle op te sê.

Brandewyn en Coke is soos brandstof vir jou ooms se politieke passie.

Hulle hark jou elke jaar nader en spoel hul mond uit oor hoe sleg dit met die land gaan.

Jy knik en maak die regte geluide.

Wat jy nie vir hulle sê nie, is dat jy nie eens weet wie die adjunkpresident is nie.

Die enigste politiek wat jy ken, is van die series wat jy kyk.

Jy moet maak asof jy nog kan tafel dek.

Voordat jy die mes neersit, wonder jy of dit aan die regterkant of linkerkant kom, want wanneer jy by jou woonstel is, gryp jy ’n vurk uit die wasbak, spoel dit vinnig af en gaan sit voor die tiewie.

Jou permanente antwoord op alles is “ja”, gevolg deur ’n glimlag of ’n laggie, al het jy geen idee wat jou ouma pas gesê het nie.

Jy drink beheers, want jou familie hoef nie te weet wie en wat jy is wanneer jy gekettie is nie.

Die kuierplekke is al wat die voorreg het om daardie persoonlikheid te sien.

So, geniet jul Kersfees, Afrikaners.

Ek dring daarop aan.

Ek besef dat Nuwejaar die woord “geniet” en “gelukkige” ronddra asof niemand anders dit kan of mag gebruik nie, maar vanjaar gee ek dit vir Krismis.

Gelukkige Kersfees.

“Geseënde” kan vanjaar om Nuwejaar se nek hang.

2016 het ons die duur les geleer dat ons baie meer “geseënde Nuwejaar” moet sê.

Dankie dat julle vanjaar my rubrieke verdra het. ’n Vet sjokolade-soen vir elkeen van julle.

Meer oor:  Familie  |  Rubriek  |  Kerstyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.