Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelukkige verjaardag, liewe internet

Die internet is vanjaar 30 jaar oud. Maar digitale telefonie sal nooit die persoonlike kliëntediens van die handsentrales van weleer kan vervang nie, skryf Rhynie Greeff.

Rhynie GreeffFoto: Verskaf

Tien jaar gelede in Maart 2009 was ek in Genève by CERN (die Europese organisasie vir kernnavorsing) se Groot Hadronversneller.

Dit is ’n sirkelvormige tonnel van 27 km en die wêreld se grootste sub-atomiese versneller vir botsings van protone en ione (groot woorde vir vrek klein elektries gelaaide goetertjies wat soos Usain Boltjies teen die spoed van lig hol).

Ek is nie ’n Higgs-boson nie, want ek kan deur ’n vertrek met 200 mans stap soos ’n warm mes deur botter.

CERN was toe nog op soek na hoe ons heelal se vaste goed soos sonne, planete, spoedkameras, Gatsometers en boetekaartjies ontstaan het. Die oerknal (Big Bang) was 13,8 biljoen jaar gelede ’n kosmiese sop. So, hoe het ons aarde en al die sterrestelsels daaruit ontstaan? Die Groot Hadronversneller het uiteindelik bewys gevind van die sogenaamde Higgs-bosondeeltjie wat klein goetertjies aangetrek het en vaste massa uit die oerknalsop geskep het.

’n Higgs-boson? Ek is nie ’n Higgs-boson nie, want ek kan deur ’n vertrek met 200 mans stap soos ’n warm mes deur botter. Daarteenoor sal ’n mooi meisie wat slegs parfuum en hoëhakskoene dra by haar binnekoms deur 200 mans toegepak word. Die vertrek sal swaar beweeg of tot stilstand kom. Dit, geagte leser, is die naakte waarheid in die wetenskap van hoe ons aarde gebore is.

Daar staan ek toe in Maart 2009 by CERN en ontdek nog ’n geboorte toe ek kyk na die oudmodiese rekenaar waarop sir Tim Berners-Lee 20 jaar vantevore in Maart 1989 die internet ontwerp het. Daar was wel tegniese deurbrake voor hom, maar syne was die eerste wêreldwye web wat kort daarna deur CERN gratis aan die wêreld geskenk is.

Sir Tim Berners-Lee en sy rekenaar 30 jaar gelede.Foto: CERN

Plaastelefone

Vandag, in Maart 2019, is Berners-Lee se baba 30 jaar oud en baie prakties, want ons stuur blitsig grappe aan mekaar en volg sekonde tot sekonde lewensbelangrike digitale nuus oor die voorkeure van die Kardashians, Bobby en Karlien.

Met die internet het digitale telefonie gekom. As ’n hulpvaardige onbekende jou vandag bel met die nuus dat jou bankrekening gekaap is en jy haar sekere inligting moet gee sodat sy dit kan oplos, praat jy en die Samaritaan eintlik net in ’n spul syfers, nulle en ene, die binêre kode. As jy vir die hulpvaardige redder ná die tyd die woord “dankie” SMS, stuur jy eintlik 01000100 01000001 01001110 01001011 01001001 01000101.

Dis ’n bietjie anders as outydse plaastelefone waar baie huise gekoppel was aan een lyn, elke huis sy eie luitoon gehad het en waar jy kon inluister na ander mense se gesprekke. My vrou vertel van tannie Griet wat heeldag ingeluister het na gesprekke van omliggende plase. Jy het geweet sy luister in, want ’n groot klok het langs haar getiek-tok. Toe my vrou se pa eendag vir die persoon aan die ander kant sê dat tannie Griet al weer inluister, kom sy blitsig oor die lyn terug met: “Moenie nonsens praat nie!”

Die oorspronklike plaastelefoon waarop tannie Griet gesê het sy luister nie in nie. Foto: Rhynie Greeff

Nommer asseblief!

Toe ek in die topbestuur van Telkom was, het ons die laaste handsentrales uitgefaseer. Die nommer-asseblief-mense was destyds die hart van die sosiale netwerk tussen mense. As jy byvoorbeeld inbel en vra om deurgeskakel te word na Ben Bloubul sou tannie Sus by die sentrale sommer vir jou sê: “Nee, Ben is op pad na die bankbestuurder op die dorp, want sy rekening het gekalf.”

Die man het egter ’n liefdesprobleem gehad en op sy eerste aand besluit hy toe om ’n einde te maak aan sy wrede wêreld van onbeantwoorde liefde tussen beantwoorde oproepe.

In die negentigerjare moes Telkom se topbestuur dan en wan streekbesoeke doen. So beland ek op ’n klein Vrystaatse dorpie waar ’n tannie Sus die nommer-asseblief-tannie was en gewerk het op ’n handsentrale wat gelyk het soos ’n klein orrel.

Tannie Sus het tot laat gewerk, maar toe besluit Telkom om veiligheidsredes dat ’n man die aandsessie moes doen. Die man het egter ’n liefdesprobleem gehad en op sy eerste aand besluit hy toe om ’n einde te maak aan sy wrede wêreld van onbeantwoorde liefde tussen beantwoorde oproepe. Hy klim op die ou Ericsson-handsentraletjie, bind die kabels uit die plafon om sy nek en spring.

’n Outydse handsentrale. Foto: Wikipedia

Tannie Sus probeer juis op daardie oomblik om iemand te bel, maar sy kom nie deur by die sentrale nie. Ontevrede met die swak diens van die nuweling stap sy toe met mening af na die sentrale. Daar vind sy die kêrel met die seer hart op die vloer, springlewendig, rooi in die gesig en spartelend in vasgedraaide kabels. Die kabels het los op die plafon gelê met speling wat net lank genoeg was om hom ná sy sprong by die nek skadeloos vas te draai. Hy het nie baie seergekry nie behalwe in sy eer. Hy kon nie self loskom nie. En die skakelbord was besig.

“Idioot, is jy van jou kop af?” vra tannie Sus. “Kan jy nie sien hoe mense wil praat nie?”

Sy ignoreer die kreunende man en gaan sit voor haar stelsel: “Nommer asseblief? Ja, ek konnekteer jou, Sannie. Nommer asseblief? Goed, jy’s deur, Doep. Nommer asseblief!”

Eers nadat sy almal verbind het, draai sy om en help die verstrengelde man uit sy penarie.

Dit bly vir my altyd ’n goeie voorbeeld van persoonlike kliëntediens. Iets wat vervaag het in die nuwe digitale wêreld wat saam met die internet gekom het. As jy nou bel, antwoord ’n masjien jou dikwels. Masjiene bel jou sommer ook. Om die waarheid te sê, masjiene bel masjiene. Gister het ’n masjienstem van die DA my ongevraagd gebel. Regtig.

En tog is die internet seker die belangrikste uitvindsel sedert die bevinding van prof. Eric Warrant van die Lund-Universiteit in Swede dat die miskruier van Afrika die melkweg se sterre vir oriëntasie benut om misbolle reguit te rol. Ook regtig. En ek moet bieg, ek het dit op die internet uitgevind. Dankie, sir Tim.

’n Skermgreep van die herskepte bladsy van die wêreld se eerste webwerf. Foto: CERN

Ons almal se werkplek en pretpark

Sir Tim, daar is soveel waardevolle webwerwe vandag op jou internet.

Een voorbeeld is Wintersexpress.com. Nee, dit het niks met ’n drukkery vir interaktiewe winterspeletjies te doen nie, maar wel met die publikasie van die dorpie Winters in Kalifornië. Dan is daar Therapistlocator.net wat niks te doen het met Jack the Ripper nie, maar wel terapeute wat lid is van die AAMFT (American Association for Marriage and Family Therapy). Gepraat van familie, Childrenswear.co.uk het geen #!X@*! nie. Die firma Viagrafix is nie in hardeware betrokke nie, maar wel in sagteware-opleiding en gelukkig het die vaderlike regstelling op Viagrafix.com verdwyn toe Learn2.com hulle oorgeneem het.

Sir Tim, ek is seker jy het met jou voorstel vir ’n wêreldwye web nooit gedink dit gaan ’n vermaaklikheidsplatform word nie, maar dis vandag ons almal se werkplek en pretpark.

Liewe internet, lekker verjaar, ou maat, lekker verjaar!

* Rhynie Greeff is ’n strategiese konsultant en voormalige diplomaat. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Rhynie Greeff  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.