Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelyke Kanse is ware verligtes
Rhoda Kadalie.

Daar is honderde nieregeringsorganisasies wat lewensvaardigheidsprogramme aan swart jeugdiges bied om te vergoed vir die gebrek aan vaardighede wat deur die hoë uitvalkoers aan skole en universiteite meegebring word.

Die jeugdiges wat hierdie diverse programme voltooi, is welsprekend, vol selfvertroue en gereed om loopbaangerigte kursusse aan hoëronderriginstellings aan te pak.

Baie min van hierdie inisiatiewe lok bruin jeugdiges. Ek het tydens ’n onlangse byeenkoms opgelet hoe min bruin jeugdiges aan vaardigheidsontwikkelingsprogramme op die Kaapse Vlakte deelneem. Die swart kinders het poësie voorgedra, rapmusiek gekomponeer en as beginner-foto- en -videograwe geskitter. Die een jong bruin student het verhoogvrees gehad en was veel minder welsprekend as die swart kinders omdat van haar verwag is om Engels te praat, terwyl Afrikaans so duidelik haar moedertaal was.

Hierdie is die jeugdiges wat deur verengelste universiteite in die steek gelaat word. Bruin Afrikaans-moedertaalsprekers het nêrens om heen te gaan nie en hulle ontkies hulself vir verdere studies selfs voor hulle by universiteite of kolleges aansoek doen. Of hulle gaan universiteit toe met die wete dat hul kanse swak is.

Dit is hoekom die Gelyke Kanse-beweging belangrik is en die stryd om die herinstelling van Afrikaans as die primêre onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch (US) nie afgelag moet word nie. As dit verloor word, sal dit nie net diepgaande implikasies vir Afrikaans as ’n taal van leer en wetenskap hê nie, maar ook derduisende studente die kans ontneem om tersiêre onderrig in hul moedertaal te ontvang. Dit is ten diepste ’n stryd om die oorlewing van die taal self.

Hierdie stryd word deur ’n paar onweerlegbare feite gekenmerk. Ten eerste het die pleitbesorgers vir die onvoorwaardelike herinstelling van Afrikaans as primêre onderrigtaal, gelyk aan Engels, die stryd reeds loshande gewen. Daar is immers ’n grondwetlike reg op moedertaalonderrig, ook op tersiêre vlak. Afrikaans is die meerderheidstaal in die Wes-Kaap en die US het ’n bewese vermoë om onderrig in daardie taal te bied. Die ander drie nabygeleë universiteite onderrig net in Engels. Die transformasiedoelwit wat die US ter ondersteuning van die uitfasering van Afrikaans voorhou, word trouens ten beste gedien deur betekenisvolle geleenthede aan die Afrikaanssprekende bruin meerderheid van die Wes-Kaap te bied. Ongelukkig is argumente ten gunste van die uitfasering van Afrikaans so gemanipuleer om pleitbesorgers vir die behoud daarvan as regs, verkramp of met ’n hunkering na die dae van wit bevoorregting uit te beeld, dat die voorstanders van die US se nuwe taalbeleid hulle tot alte bekende ad hominem-argumente gewend het. In dieselfde asem doen die voorstanders van die US se nuwe taalbeleid hulle voor as progressiewes wat transformasie omarm. Moenie vergeet nie: Afrikaans was ook die taal van talle onderdruktes en leiers van die stryd teen apartheid. Dit is dus geensins verrassend nie dat sommige van Gelyke Kanse se mede-applikante in die hofaansoek om die US se nuwe taalbeleid te laat hersien, bruin studente aan die US is. Die dramatis personae aan die hoof van Gelyke Kanse, ’n beweging wat moedertaalonderrig aan Afrikaanse tersiêre instellings wil behou, moet as die verligtes beskou word. Dié wat Afrikaans uitfaseer, bekend as die “Stellenbosch-kliek”, is die kortsigtiges en verkramptes wat hul taal versaak in ’n rampspoedige poging om mense te behaag wat nie kán of wíl behaag word nie.

  • Kadalie is ’n menseregteaktivis.
Meer oor:  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.