Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gelykheid nie met gelyke kanse te verwar
Erik Holm.
Erik Holm

So 30 jaar gelede was die wêreld se politiek eenvoudig. In alle lande was die keuse min of meer tussen links en regs. Op sommige plekke het die linkses regeer, op ander die regses, maar meestal iets in die middel.

Die linkses was liberaal, sosialisties, kosmopolities, isokraties (egalitêr), omgewingsbewus en pasifisties. Die regses was konserwatief, kapitalisties, nasionalisties, meritokraties (elitisties), omgewingsonverskillig en militaristies. Maar hierdie polariteit het feitlik oral verval. Dit lyk my met toenemende internasionale kommunikasie en interafhanklikheid konsentreer die twee pole nou eerder om nasionalisme teenoor internasionalisme. Donald Trump, Brexit en die opkomende “regse” partye in Europa veg nou om die nasionalistiese opsie. Die Ooste, veral China, ontwikkel intussen die internasionale ideologie.

By ons het die ou linkse party (die Progressiewes) geëindig in die DA, wat allesbehalwe links is volgens die ou definisie. Die EFF is die naaste aan die ou ekstreem regses, is militant en verkondig hiperkonserwatiewe Afrikawaardes. Tegelyk is hulle ekstreem sosialisties.

Alle ander partye het ’n kombinasie van linkse en regse idees.

Dié laat ons miskien geen ander opsie as die termietkolonie nie, waar alle werkers werklik identiese klone moet wees.

Van die ou regs-linkse ideologie het blykbaar een linkse ideologie gewen en algemene dogma in die politiek geword – die idee van gelykheid (gegrond op Jean-Jacques Rousseau se égalité) soos vervat in die menseregte- en een-mens-een-stem-dogma. Die rede is nie dat hierdie dwaalleer enige basis in die werklikheid het nie, maar bloot die invloed van hiperliberale akademici wêreldwyd en die ongebreidelde aanwas van mense. Dié laat ons miskien geen ander opsie as die termietkolonie nie, waar alle werkers werklik identiese klone moet wees.

Die ywer waarmee hierdie idee verkondig word, is verbasend. Gelykheid nie net tussen individue nie (tog ’n ooglopend belaglike stelling), maar tussen geslagte, ouderdomsgroepe, volkere, rasse en selfs spesies (as ’n mens na die diereregte-fanatici luister).

Op die fanaties liberale CNN is onlangs ’n boek deur ’n neuroloog gevier wat vasstel daar is geen verskil in die anatomie en onderdele van die manlike en vroulike brein nie. Goeie hygen! Daar is ook geen anatomiese verskille tussen ’n hond- en jakkalsbrein nie. Hulle dink nogtans verskillend! (As ’n mens genoeg na die haat op CNN kyk, raak ’n mens skoon lief vir Trump – iets wat sy eie ma waarskynlik nie regkry nie.)

Wat dié natuurvreemde gelykheidsidee traksie gee, is die verwarring van gelykheid met gelyke kanse. Gelyke kanse is ’n baie goeie ding. Dit maak die speelveld gelyk en is veral produktief in opvoeding en regspraak. Maar die doel is juis om al die goeies en begaafdes te identifiseer en ’n optimale staanplek te gee. Om daarna weer te sê almal is gelyk, ongeag die uitkoms, is absurd.

Laat my dink aan ’n plakkaat wat ek eenkeer in ’n studenteprotesoptog gesien het: “Pass one, pass all.”.

Meer oor:  Erik Holm  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.