Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Genade en Grasie

Sy is een van Suider-Afrika se grandes dames en – saam met die Mount Nelson in Kaapstad, die Polana in Maputo, die Victoria Falls-hotel in Zimbabwe, en die Westcliff in Johannesburg – deel van ’n groepie elite-erfenishotelle.

Mount Grace is ’n mengsel tussen ’n Blixeneske fantasievlug, “ ’n plaas in Afrika, op die Ngong-voetheuwels” (in Mount Grace se geval is dit die Magaliesberge) en die informele gasvryheid en sorgeloosheid van Kellerman’s Mountain House in Dirty Dancing. Die hotel, sowat ’n uur en ’n half se ry van Pretoria en Johannesburg, was ’n gunsteling-wegbreekplek vir stadsjapies om hul batterye oor naweke te herlaai. Mense het hier verloof geraak, saam met hul families uitgespan en wittebrood gehou . . .

Sy het ’n brand in 2006 en ’n ekonomiese resessie oorleef, maar Covid-19 het vanjaar ook sy tentakels in dié geliefde bestemming ingeslaan.

In Junie vanjaar het Marriott International laat weet in die lig van die regering se reisbeperkings is dit nie meer vir hulle finansieel volhoubaar om die hotel langer te bestuur nie. Ná Marriott se onttrekking het Tsogo Sun wel tot dié ikoniese hotel se redding gekom, hoewel daar nog nie duidelikheid is oor hul planne met die eiendom nie.

Ouwêreldse gasvryheid

Ek was gelukkig genoeg om die hotel in 2013 te besoek in opdrag van ’n reistydskrif en was mateloos beïndruk. Ek onthou die luilekker plesier om langs die swembad te lê, jenewer-kelkie in die hand en te kyk hoe blomkoolwolke hulself oor die Hoëveld stapel in afwagting op ’n laatmiddag-somerdonderstorm.

Die ander ding wat uitstaan, is die mineraalryke dryfpoel, ’n “Dooie See” in die kleine, binne ’n klipkoepelgebou wat soos ’n antieke tempel lyk. Die louwarm water is brak, en terwyl jy jou sorge daarin wegdryf, sypel ’n versnit van Keltiese dreunsang en walvisroepe uit versteekte luidsprekers. Vir daardie halfuur het dit gevoel asof ek in vrugwater dobber, binne die skoot van my moeder.

“Die Mount Grace se ouwêreldse sjarme is een van sy geliefkoosde kenmerke,” vertel Taryn Arnott-Van Jaarsveld, ’n vryskutjoernalis van Johannesburg en een van die hotel se gereelde gaste.

“Ek dink terug aan die genot van ’n spel kroukie op die groot grasperke en middae wat ruik soos vars gesnyde gras. Die diens was altyd uitsonderlik – jy kon langs die swembad lê en daar was altyd iemand om aan jou vars, spierwit handdoeke te voorsien. Ek onthou ’n koppie Earl Grey-tee laatmiddag in die ou biblioteek . . .”

Donnay Torr, voormalige Taalgenoot-redakteur, het verloof geraak by die hotel.

“Ek is so lief vir die Mount Grace . . . Ek was so beïndruk met die rose op die bed, die botteltjie Moët et Chandon-sjampanje, die vriendelike mense; ek het heerlik bederf gevoel. Ek het dit ook nie eens geweet nie, maar die hotel het ons gratis opgegradeer toe hulle uitvind my man gaan die groot vraag vra.

“Die voëlkyk hier was ook uitstekend! Ons was die vreemde paartjie wat oral met ons verkykers rondgeloop het. Sedertdien was ons so drie of vier keer terug vir spesiale geleenthede.”

Van kuiergat na kerkkamp

Voor sy die Mount Grace was, was sy eers die Thatchstone Inn, een van Suid-Afrika se eerste sogenaamde “landelike” vakansieoorde en ’n gewilde wittebroodbestemming vir Transvaalse pasgetroudes.

In die 1970’s het die hotel so ’n bietjie van ’n gure karakterverwisseling ondergaan: Dit is herdoop na The Rockberg Hotel, ’n kuiergat en ontmoetingsplek vir klandestiene romantiese rendezvous. Die drankraad het die hotel in die 1980’s gesluit ná verskeie oortredings.

In 1981 beleef die eiendom as’t ware ’n Damaskus-ervaring, dit word deur ’n Christelike maatskappy oorgeneem en The Rockberg, voormalige drinkhool, herleef as El Hanan – Hebreeus vir “God se genade” – ’n Christelike kampeerterrein.

Een van die aandeelhouers van El Hanan was Chippy Brand, wat in 1982 die hele eiendom oorgekoop het. El Hanan is daarna weer herdoop na die Mount Grace – die eerste van die sogenaamde Three Graces, saam met die Cape Grace en The Grace in Rosebank wat in die 1990’s en vroeë 2000’s internasionaal opslae in die toerismebedryf gemaak het.

Brand was ’n siviele ingenieur wat verkies het om paaie en brûe te bou. Maar hy was ook ’n entrepreneur, het die gasvryheidsbedryf verstaan en teen 2000 was hy en sy vrou die eienaars van drie van Afrika se gesogste hotelle.

Genade onbeskryflik groot

In 1983 begin die hotel handel dryf as die Mount Grace. Sy keer terug na haar oorsprong as ’n landelike wegbreek, waar stadsjapies kan uitspan. Die hotel was ’n kitssukses in die dae voor Trip­advisor. Die woord het gou versprei van die hotel se uitsonderlike diens en pasgemaakte gasvryheid.

Brand het ook hoë standaarde aan sy werknemers gestel.

“Gaste wou weet dat die man in die voorportaal hul naam ken, hul vriend is, vertroud is met die wel en wee van hul lewens en bereid is om na hul mening te luister,” skryf hy in sy outobiografie, Branded by Grace.

Brand en sy vrou, Cynthia, het as eienaars saam die hotel bestuur, en later is hul kinders en dié se gades ook by die familiebesigheid betrek.

In die vroeër jare het Brand grappenderwys na Mount Grace as Fawlty Towers verwys, ’n duur stokperdjie wat uiteindelik sy lewensroeping geword het. Sy suksesresep was eenvoudig: uitsonderlike gasvryheid deur nederige vrygewigheid wat hy die “Grace Memorandum” genoem het.

Werknemers is soos familie behandel en gaste met barmhartige nederigheid en vrygewigheid. Die hotel het ook bekendheid verwerf vir sy klassieke musiekkonserte, een van Brand se groot liefdes.


Toekomsplanne

Die Brand-familie het die hotel in 2007 verkoop, waarna dit hande verwissel het na Hospitality Property Fund. Deur die jare is dit deur African Pride, die Protea- en die Marriott-groep bestuur.

Ou gaste het egter begin sien dat daardie “Brand”- faktor al hoe dowwer gloei. Op die reiswebtuiste Tripadvisor is daar gekla oor swak diens en dat die hotel nie meer dieselfde is sedert die Brands onttrek het nie.

Tsogo Sun is positief oor die toekoms van die grande dame van Magaliesburg.

“Die Mount Grace in Magaliesburg is The Grace se susterhotel, wat ons in 2015 oorgekoop en opgeknap het. Magaliesburg is ’n pragtige gebied en beskik oor groot toerismepotensiaal, vir sowel plaaslike as oorsese reisigers. 

“Haar nabyheid aan Johannesburg maak die hotel ook ideaal vir konferensies, troues en kort romantiese wegbreke,” meen Marcel von Aulock, Tsogo Sun se uitvoerende hoof.

Foto:

Die hotelgroep het dit by The Grace reggekry om weer nuwe lewe in ’n voormalige Brand-eiendom te blaas.

Daar is gebou op die Brand-handelsmerk van uitsonderlike, persoonlike diens, die grondslag van die gasvryheidsbedryf, maar dit is ook ’n meer kontemporêre kinkel gegee, sodat dit kan meeding met enige kosmopolitiese hotel in wêreldstede soos New York, Amsterdam en Londen.

Hoe die Mount Grace post-Covid-19 gaan lyk, sal ons nog moet sien. Maar ten minste troos dit om te weet daar is ’n reddingsboei na die hotel gegooi.

En wie weet, dalk is dit die begin van ’n hele nuwe hoofstuk vir dié grande dame.

Aanvullende bronne: Branded by Grace, eyesonafrica.net

Meer oor:  Carla Lewis  |  Toekoms  |  Hotels  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.