Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Genade nodig in sterf-gesprekke
Retha Fick

Die Christelike Kerk in Suid-Afrika staan voor ’n nuwe vraagstuk wat eeue oue oortuigings binne dié geloofstradisie uitdaag.

Die kwessie van genadedood gaan heel moontlik binnekort nie meer slegs die onderwerp van akademiese gesprekke in teologieklasse of -studiegroepe wees nie. Die hofsaak oor die wettiging van aktiewe genadedood in die hooggeregshof in Johannesburg sal die debat ook in godsdiensgroeperings op die spits dryf.

Kerkleiers moet gereed wees om daardie debat in die kerk te rig, maar ook om aan lidmate die nodige begeleiding te bied, sou die hofuitspraak ten gunste van die respondente wees.

Dieter Harck het motorneuronsiekte en dr. Sue Walter beenmurgkanker. Hulle beroep hulle op die reg op selfbeskikking wat in die Grondwet vervat is en vra dat die wet wat die toepassing van genadedood deur ’n dokter verbied, ongrondwetlik verklaar en gewysig word.

Aktiewe genadedood, waar ’n dokter ’n pasiënt bystaan in selfdood deur intensioneel die middele wat sy dood veroorsaak te verskaf en toe te dien, is reeds wettig in Nederland, België, Kanada, Switserland en Nieu-Seeland. Selfs in Spanje, met sy sterk Rooms-Katolieke erfenis, is die wysigingswetsontwerp om genadedood toe te laat in Desember goedgekeur.

Aktiewe genadedood is reeds wettig in Nederland, België, Kanada, Switserland en Nieu-Seeland.

Aktiewe genadedood gaan daaroor om aan mense wat terminaal siek is en voortdurend onuithoudbare pyn verduur, sonder enige moontlikheid van beterskap, of mense wat uitermatig gestremd is en geen lewensgehalte meer het nie, die geleentheid te bied om te sterf.

Selfs ’n oppervlakkige beoordeling dui teenstrydighede met meer as een Christelike oortuiging. Christene glo dat God oor lewe en dood beskik en dat die gelowige se lewe in God se hand is. Die Bybel leer dat lewe heilig is en so hanteer moet word. Voorts lê die waarde van ’n mens daarin dat hy aan God behoort – ongeag sy emosionele of fisieke toestand. Selfs in die lewe wat oënskynlik, uit ’n menslike oogpunt, weens fisieke en emosionele aftakeling geen bydrae meer kan lewer nie, is daar dus betekenis en waarde opgesluit.

Oor lyding glo die Christen dat God, wat die mens oneindig liefhet, op ’n besondere manier teenwoordig is by die mens wat ly. Dit is dus juis in lyding waarin die gelowige besondere genade ontvang en waartydens God homself soms selfs op bonatuurlike maniere openbaar. Lyding is dus nie iets waarvan die gelowige moet wegdeins nie, maar waarin hy kan verwag dat God teenwoordig sal wees en hom op ’n besondere maniere sal onderskraag.

Christene dink juis nou, gedurende die Vastyd, na oor die lyding van Christus, wat aan die kruis deur God verlaat is sodat die gelowige nooit deur God verlaat kan word nie. Samevattend is die tydsberekening van die uiteindelike verlossing van aardse lyding deur die dood, ook in die geval van terminale siekte, dus God se besluit.

Een van die vrae waarvoor geestelike leiers nou te staan sal kom, sou genadedood in Suid-Afrika gewettig word, en sou ’n lidmaat aandui dat genadedood sy begeerte is, is of die onaantasbaarheid van lewe absoluut is. Is daar unieke situasies waarin daar wel ’n saak ten gunste van genadedood uit te maak is? Word genade nie uiteindelik juis betoon deur by die lyding van ’n terminaal siek pasiënt in te gryp en sy lewe te help beëindig nie?

Die kwessie van genadedood, sou dit in Suid-Afrika gewettig word, het die potensiaal om geloofsgemeenskappe en families te verdeel. Die verantwoordelikheid om dit met groot omsigtigheid te hanteer en met deernis en wysheid leiding te gee, berus by kerkleiers.

Mag hulle daarvoor ook besondere genade ontvang.

  • Fick is nasionale inhoudsredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.
Meer oor:  Godsdiens  |  Gesondheid  |  Geloof  |  Genadedood  |  Siekte  |  Sterfte  |  Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.