Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Generaals se korrupsie-siekte
Johann Maarman

Sedert die koms van demokrasie het Suid-Afrika vyf nasionale polisiekommissarisse gehad. Vier swart, een wit.

Van die vyf is een tronk toe, twee afgedank en een word nou deur die polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek. Die enigste een wat nie in die pad gesteek is, tronk toe is of deur Opod-ondersoek is nie, is George Fivaz­. Terloops, hy is wit.

Die afgelope week is die vraag op sosiale media gevra: Beteken dit nou dat swart polisiehoofde korrup is? En beteken dit nou as die vraag gevra word dat ’n mens geteer en geveer word met die rassistiese kwas?

Hoe het die polisie in hierdie moeras beland dat al sy swart nasionale polisiehoofde beklad word met korrupsie en diefstal?

Jackie Selebi is deur Thabo Mbeki met uitgesoek om Fivaz op te volg, maar sy gulsigheid het tot sy ondergang gelei. Die man wat die morele kompas van die polisie moes wees, is ingesluk deur sy gierigheid vir luuksheid. En daarvoor moes hy tronk toe.

Die volgende drie opvolgers was Bheki Cele, Riah Phiyega en Khomotso Phahlane. Ironies is dié drie polisiegeneraals se aanstellingsbriewe deur pres. Jacob Zuma onderteken.

Cele het nie lank gehou nie, want hy is betrek by ’n skandaal oor huurkontrakte vir geboue en is deur Zuma in die pad gesteek.

Of ons dit nou wil ontken of nie, maar onder Zuma en sy gabbas is Suid-Afrika baie na aan ’n mislukte staat, leeg geplunder deur ANC-kaders in die naam van regstelling.

Phiyega het ook ná die Marikana-slagting haar afdankingsbriefie gekry en die moontlikheid bestaan nog dat sy dieselfde paadjie as Selebi kan loop – tronk toe.

Nou sit ons met Phalane, wat liewer as “Generaal Motors” bekend kan staan. Hy het luukse motors vir hom en sy vrou gekoop. Die paaiemente op die luukse karre kan nie net met ’n generaal se salaris betaal word nie. Daar word lont geruik en Phalane keer nou verwoed dat Opod hom ook voor die hof bring. Dit lyk asof die oranje tronkpakkie ook sy voorland kan

wees.

Ons gewone Suid-Afrikaners hoef glad nie verbaas te wees oor die generaals se korrupsiesiekte nie. Hul opperbevelhebber het self ’n blinde kol wat korrupsie betref. Watter voorbeeld kan hy immers vir hulle wees? Watter sedepreek kan hy vir sy polisiegeneraals lewer as die smet van korrupsie aan homself kleef? Zuma het nou al oor en oor bewys dat hy ’n selektiewe moraliteit oor korrupsie het. Een stel reëls vir hom en dié om hom en ’n ander stel vir die res. In allemanstaal: Zuma is toondoof vir korrupsie. Hy is geen kruisvaarder teen korrupsie nie.

Of ons dit nou wil ontken of nie, maar onder Zuma en sy gabbas is Suid-Afrika baie na aan ’n mislukte staat, leeg geplunder deur ANC-kaders in die naam van regstelling.

Dit verklaar hoekom die ANC hom nou nog nie kon omvorm tot ’n moderne politieke party nie. In ’n moderne party is verdienste en harde werk die roete na die boonste sporte. Nie velkleur, etnisiteit en baantjies vir boeties nie.

Die ANC is steeds gemarineer in ’n kultuur dat die wêreld hom iets skuld, want hulle was die onderdruktes. En as voorheen onderdruktes mag hulle sonder om te knik of te bloos die reëls oortree en buig soos dit hulle pas.

  • Die wêreld se voorste bankiers vat nie met ’n tang aan presidente wat hulself verryk nie. Die ANC se laventelhaan en Zuma-kohort, Malusi Gigaba, gaan nie die internasionale gemeenskap paai met dat die demokrasie nog in stand is nie. Feit is endemiese korrupsie het in Zuma se wagbeurt al hoe erger geword. Skrik wakker en ruik die koffie, ANC!
Meer oor:  Johann Maarman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.