Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gered van Plêstiekengels
Jana Luther

‘Ek is van ’n dialek beroof.” Dit is op Sixth Tone, ’n webblad wat uitsoekartikels uit die Chinese media in Engels vertaal, die opskrif van ’n meningstuk deur die taalkundige Zhang Yashu.

Sy vertel: Die enigste taal wat ek vlot kan praat, is Mandaryns, amptelike taal van die hedendaagse China. Tog fassineer die taaldiversiteit in my familie my van kleins af. My pa, uit die ooste van die land, praat Wu; my ma Xiang, ’n taal inheems in die Hunan-provinsie. As kind woon ek ’n ruk by my ma se ouers, groenteboere op die platteland. Daar, saam met neefs en niggies, is dit pret om Ouma en Oupa na te praat, soos hulle te probeer klink, maar volwassenes ontmoedig ons.

Die grootmense sê die oumense se dialek is “tuhua”, “taal van die grond”. Ek verstaan dit nie mooi nie; tog hoor ek die “aardsheid” aan hulle praat, soos die groente wat ons eet, heilsaam, vars uit die grond – ongewas, ongepoleer.

As taalkundige weet Zhang vandag haar grootouers se dialek was nog diep in Ou Middel-Chinees gewortel, ’n duisend jaar oue taal waarvan baie kenmerke uit die hedendaagse Mandaryns verdwyn het.

Die kragte wat samelewings voortstu, verander hoe ons leef en ook hoe ons praat.

In die tyd bekend as “die Groot Sprong vorentoe”, in die 1950’s, verruil baie mense die platteland vir werk by nuwe yster- en staalondernemings in die stad. Mense van Hunan en verder stroom daarheen. Zhang se ma word groot in dié smeltkroes, waar politieke onrus natuurlike taalverandering versnel. Vandag dryf die onderwys en alledaagse besluite dit aan.

In Hunan, skryf Zhang, praat baie jong ouers deesdae Mandaryns met hul kinders – Mandaryns met ’n swaar Xiang-aksent, wat dikwels Plastiekmandaryns genoem word. Anders as mense van haar generasie, wat Plastiekmandaryns net op skool gepraat het, praat vandag se kinders dit ook tuis, want Mandaryns is vir Chinees wat Engels vir ander tale is: Die taal van mag en vooruitgang.

Die kragte wat samelewings voortstu, verander hoe ons leef en ook hoe ons praat. Dit lyk asof die meeste mense hulle nie daaraan steur nie. Hulle verander hul taal en identiteit so maklik soos hul klere.

Want wat vergeet word, is meer as ’n dialek: Dis ’n manier van wees.

Maar taalliefhebbers soos Zhang betreur die verlies aan diversiteit: “Dat toekomstige geslagte nie die vreugde sal ervaar wat ek by my oupa en ouma gehad het nie, maak my hartseer; dat hoe ons ouers en grootouers geklink het, vergeet sal word. Want wat vergeet word, is meer as ’n dialek: Dis ’n manier van wees.”

Aan die Plêstiekengels wat ons hier in die Kaap in, as huistaalsprekers van gestandaardiseerde Afrikaans en van Kaaps, om vergader- en koffietafels praat; daaraan het ek gedink.

Toe kom die aankondiging van die Drietalige woordeboek van Kaaps, ’n beskrywende korpusprojek wat by dwkaaps.co.za die eerste woordeboek van Kaaps gaan ontwikkel. Gaan kyk! Geluk, en dankie, en voorspoed, prof. Quentin Williams van die Universiteit van Wes-Kaapland en die DWK-span.

Ons wat soos Zhang Yashu voel, is verheug.

Meer oor:  Jana Luther  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.