Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geregtigheid help vorm aan ’n samelewing
Donald Katts

Die Covid-19-pandemie het nie net die broosheid van ons mense uitgelig nie, maar ook die vele ongelykhede, onregverdighede en ongeregtighede in ons samelewing.

En met die Kersfeesvieringe wat getuig van vrede en vreugde nog vars in ons geheue, laat dit die woede vir die ongeregtigheid wat vele moes verduur en nog gaan verduur, opnuut opvlam.

Geregtigheid en regverdigheid is volgens die Amerikaanse teoloog Scot McKnight die elemente wat help bou aan ’n kultuur van goedheid.

Geregtigheid gaan juis daaroor om God se wil te openbaar en te doen wat reg is. Dit veronderstel daarom dat ons weet wat reg is en dat ons die regte ding doen.

Waar hierdie waarde, óf in die geloofsgemeenskappe óf in ons openbare instellings en selfs in ons private lewe, uitgeskuif word, of verwaarloos word, is die gevaar daar dat ons godsdienstige en openbare instellings, asook ons eie mensheid, vergiftig kan word.

Dan sal meer en meer dade van ongeregtigheid en onregverdigheid gepleeg word en sal ons mense van die onreg word.

Ons kan dit nie bekostig nie en moet daarteen stry en waak. Volgens McKnight behoort ons nie net geregtigheid te soek of altyd die regte ding te doen nie, maar moet ons ook aan die een kant kan onderskei tussen lojaliteit wat blindelings aan die kerk, politieke party en selfs leiers van instellings geopenbaar word en aan die ander kant, liefde vir geregtigheid of waar mense oorgehaal is tot die doen van die regte ding.

Leiers wat begaan is oor mag, sê dikwels diegene wat hulle aanspreeklik probeer hou is dislojaal, omdat hulle lojaliteit van hul volgelinge verwag.

Ons moet daagliks strewe na geregtigheid, hetsy sosiaal, maatskaplik, polities, godsdienstig of ekonomies.

Sommige leiers is weer meer getrou aan die tradisie, geskiedenis of dit waarvoor die instelling bekend geword het as om geregtigheid te vestig as ’n integrale kenmerk van die instelling.

Ons moet daagliks strewe na geregtigheid, hetsy sosiaal, maatskaplik, polities, godsdienstig of ekonomies.

Met die ontwikkeling van Covid-19-entstowwe begin ons nou praat van entstof-geregtigheid of entstof-regverdigheid – bedoelende dat ons die mees ekonomiese en beskikbare weg sal volg om die entstof by almal, ongeag wie ons is of waar ons woon, in die kortste moontlike tyd te kry.

Met die vele ongeregtighede en onregverdighede wat daagliks hul kop uitsteek, laat ons, soos die profeet Sefanja ons in hoofstuk 2:3 oproep, strewe na geregtigheid en dit koester as die een deug wat ons in die nuwe jaar wil uitleef.

Dit is die één karaktertrek wat ons samelewing en land op die weg van vrede, verdraagsaamheid en menswaardigheid sal help plaas. Dit sal ons mense weer hoop en moed gee om teen enige vorme van ongeregtigheid en onregverdighede op te staan.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Geregtigheid  |  Optrede  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.