Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geregtigheid kom ook die armstes toe

Die koronapandemie het nie net wêreldwyd vrees by mense veroorsaak nie, en nog minder het dit net ekonomiese agteruitgang vir baie bewerk. Buiten dit is veral die maatskaplike ongelykhede of ongeregtighede uitgelig – die huisloses en straatbewoners is sekerlik die diepste deur die inperkings getref.

Baie gesprekke en konferensies is al intussen hieroor gehou, en die vraag is wat ons as geloofsgemeenskappe en individue hieromtrent kan doen. Wat meer kan ons doen as om net tydelike huisvesting, kospakkies of klere te voorsien?

Dit alles help en is nodig, maar veel meer sal gereed gekry moet word sodat die lewe van veral die huisloses en straatbewoners sosiale geregtigheid reflekteer.

Maatskaplike geregtigheid beteken dat almal gelyke regte geniet, soos menswaardigheid, toegang tot water, sanitasie en ’n plek om te bly. Dit behels die gelyke verspreiding en benutting van bronne en bates wat die lewe van mense direk en indirek verbeter en die gehalte van hul bestaan verhoog. Een van die belangrikste aspekte van maatskaplike geregtigheid is die stem van die huisloses en straatbewoners wat gehoor moet word.

Dikwels praat ons oor hulle, nie met hulle nie, en neem ons besluite sonder hulle – nie omdat hulle afwesig is nie, maar omdat hulle uit die stelsel en plekke van besluitneming uitgesluit is. En selfs erger, dat hulle vreemdelinge vir die besluitmakers is.

Gelykheid is belangrik en reg, maar in ons stryd om ’n regverdige, gelyke en menswaardige samelewing is dit noodsaaklik dat ons billik en onpartydig in ons benadering moet wees, juis omdat billikheid die uitwerking van diskriminasie in ag neem en daarom dan soek na ’n gelyke uitkoms: die vestiging van maatskaplike geregtigheid vir persoon en gemeenskap. Ons Grondwet verleen ons die reg en moedig ons aan om te bly werk vir maatskaplike geregtigheid. Dit gee vir ons die visie van so ’n gemeenskap.

Maatskaplike geregtigheid beteken wel dat elke burger darem die kans het om te kan veg vir die lewe waaroor hy of sy droom.

Ja, maatskaplike geregtigheid waarborg nie dat ons gemeenskappe perfek of dat elke burger gelukkig sal wees nie. Dit beteken wel dat elke burger darem die kans het om te kan veg vir die lewe waaroor hy of sy droom – ’n lewe van menswaardigheid, veiligheid, gelykheid en toegang tot die bates en bronne wat só ’n lewe en gemeenskap moontlik kan help maak.

Ons kan en moet die maatskaplike strukture, beleide en selfs wetgewing krities analiseer en dit uitwys wat maatskaplike geregtigheid van individue en gemeenskappe weerhou.

Ons moet aanhou strewe na dit wat maatskaplike geregtigheid bevorder en daarom saam met veral die huisloses en straatbewoners, maar ook die nasionale en provinsiale regering en alle rolspelers werk om hierdie visie te help realiseer.

Immers is dit wat ons beloof is en waarvoor mense stem. Soos Jesus in Mattheus 26: 11 sê: “Die armes het julle altyd by julle.”

  • Dr. Katts is voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Geregtigheid  |  Drome  |  Welsyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.