
Prof. Gerhard van Huyssteen
As jy nog nie weet van Varsgebek (varsgebek.org) nie, duur die sonsverduistering by jou dalk ’n bietjie langer.
Maar moenie komkommer nie: Die oudste selfoon vang ook sein.
R10 000; ’n HAT, ’n WAT, en ’n AWS; nog boeke ter waarde van R2 500; ’n skoolbesoek deur een van Suid-Afrika se topskrywers om jou skool te help met fondsinsameling; ’n wegbreeknaweek ter waarde van R5 000; ’n tabletrekenaar; en ’n VivAPlus-lidmaatskap.
Dit is die pryse wat die algehele wenner se skool kan wen. Daar is ook pryse vir die skool wat die meeste visuele uitbeeldings van idiome of woorde instuur.
En vet weeklikse pryse vir leerlinge.
Die groot louere? ’n Reuse- Atterbury Trust-studiebeurs ter waarde van R150 000 vir ’n gr. 11- of gr. 12-leerling.
Hier is ’n handvol van my gunstelinginskrywings vir Augustus:
- As jy ’n hoender wil vang, moet jy wag tot dit donker is [gesegde]: Wag vir die regte geleentheid om sukses te behaal. (Ria van Wyk)
- haaswakker b.nw. (~) [Karoo]: opmerksaam; weetgierig, leergraag, bv. Dié Fatima is darem werklik haaswakker. (Salóna Jacobs)
- hoog veertien wees [idioom]: Dronk wees, bv. Sareltjie was gisteraand weer hoog veertien (Gerda Uys)
- kanonwyn s.nw. (~e): sjampanje. bv. Bestel vir ons drie bottels kanonwyn. (Trudie Boverhoff)
- kleingespeen s.nw. (slegs ekv.) [Karoo]: kleinste of jongste lid van ’n groep, soos kinders of lammers, bv. Roep gou vir kleingespeen. Vang kleingespeen laat ons haar kan merk. (Salóna Jacobs)
- Met ’n budjietong praat [idioom]: dronk wees, bv. Dis nou eers tienuur en Sareltjie praat al met ’n budjietong. (Elize Kruger)
- ’n Klein koppie soos ’n hysbakknoppie [vergelyking]: Gesê van iemand met ’n buitengewone klein kop (Liané van den Bergh)
- Op jou voortande loop [idioom]: Dronk wees, bv. Sareltjie loop weer op sy voortande. (Elza Smal)
- selfdegesigkinders s.nw. (slegs mv.): identiese tweeling, bv. Mpo en Tebogo is mos selfdegesigkinders – ’n mens weet nooit wie is wie nie. (Elzabe Brown)
- So getrek soos ’n pot tee [vergelyking]: dronk wees, bv. Nee jong, jy sal niks met Sareltjie kan uitrig nie – hy’s weer so getrek soos ’n pot tee. (Monique Krüger)
- So kalm soos ’n dagga- walm [vergelyking]: ontspanne, onbekommerd, onbesorg, vredig, bv. Moenie stres nie, ou Sareltjie is so kalm soos ’n daggawalm. (Annamarie van Zyl)
- Soos ’n uitgespande donkiekar lê [idioom]: ontspanne rondlê, bv. Jy lê ook die hele dag hier rond soos ’n uitgespande donkiekar. (Corné van der Vyver)
- spaghettinek s.nw. (~ke): dronk persoon, bv. Sareltjie is ’n regte ou spaghettinek. (Elize Kruger)
- toontrek ww. (het toongetrek) [Karoo]: vinnig stap, bv. Ons sal vandag moet toontrek as ons alles wil klaar kry. (Salóna Jacobs)
- varke aanjaag [idioom]: dronk wees, bv. Sareltjie het van vanoggend vroeg af al varke aangejaag (Gerda Uys)
- hoepol s.nw. (~le): iemand wat gedurig raad vra, maar altyd die teenoorgestelde doen; ook: konsultreur, vraagploeg, vranus [Eng.: askhole] (Francois Fourie)
- Varsgebek is ’n inisiatief van verskeie woordeboekmakers (die WAT, HAT en die Taalkommissie wat die AWS saamstel), tegnologievennote (VivA en CTexT aan die Noordwes-Universiteit) en mediavennote (Netwerk24, RSG, kykNET, die ATKV en Afrikaans.com), terwyl die Atterbury Trust dit finansieel ondersteun.
Gerhard van Huyssteen werk vir die Virtuele Instituut van Afrikaans.
gerhard@viva-afrikaans.org