Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gerhard van Huyssteen: Ons taal is veel meer as veelkantig
Gerhard van Huyssteen

Sê-vra kollega Milanie: “Afrikaans het mos 13 dialekte?” toe ons oor die veelkantig- en kleurvolheid van Afrikaans gesels.

In die sosiolinguistiek (variasietaalkunde) word die sistematiese verskeidenheid in tale bestudeer, insonderheid die sogenaamde lekte (variëteite) van ’n taal. Die term “lek” is ’n truvorming van die woord “dialek” en slaan terug op die Griekse “legein”, wat “om te praat” beteken. Ons gebruik deserdae “lek” as oorkoepelende term om weg te kom van die negatiewe konnotasies van “dialek” (wat in die verlede as minderwaardig teenoor die standaardtaal gestel is).

Onder die sambreelterm “lek” onderskei ons verskillende vorme van ’n taal: chronolekte, etnolekte, regiolekte, geolekte en sosiolekte.

Chronolekte verwys na historiese variëteite en word tradisioneel verdeel in Kaapse Afrikaans, Oranjerivierafrikaans en Oosgrensafrikaans. Ander sluit Dorslandafrikaans, Voortrekkerafrikaans (waaronder Van der Merwe-Afrikaans in die noordweste van Namibië), Vroeë Afrikaans en Nieuafrikaans in.

Etnolekte het betrekking op die variëteit van ’n taal wat met spesifieke bevolkingsgroepe ­geassosieer word, soos byvoorbeeld Swartafrikaans.

Tradisioneel is regiolekte (variëteite in ’n groter geografiese gebied) en geolekte (variëteite in ’n kleiner geografiese gebied) dialekte genoem. As Milanie dan in die populêre omgang verwys na die dialekte van Afrikaans, verwys sy waarskynlik eintlik na regio- of geolekte.

Op grond van die sosiolinguis Frank Hendricks se aanvanklike verdeling onderskei ek ses Afrikaanse regiolekte: Suidwestelike Afrikaans; Noordwestelike Afrikaans; Noordoostelike Afrikaans; Krooafrikaans; Oos-Kaapafrikaans; en Vrystaatafrikaans.

Onder eersgenoemde drie kan ’n verskeidenheid geolekte geïdentifiseer word. Onder Suidwestelike Afrikaans kry ons Kaaps, Swartlands, Boelands, Overbergafrikaans, Weskusafrikaans, Sandveldafrikaans en Klein-Karooafrikaans. Onder Noordwestelike Afrikaans val Boesmanlands, Griekwa-afrikaans, Namakwalands, Richterveldafrikaans, Rehobothafrikaans, Riemvasmaakafrikaans en Oorlams. En onder Noordoostelike Afrikaans kry ons Bosveldafrikaans, Laeveldafrikaans, Johannesburgafrikaans en Tronsvôls.

Dus, 17 geolekte plus drie afsonderlike regiolekte gee ons minstens 20 geografiese variëteite van Afrikaans wat al wetenskaplik ondersoek is. Hierbenewens moet ons ook kennis dra van buitelandse geolekte, soos die Afrikaans van die boere in Argentinië en Angola.

Dan is daar nog die sosiolekte van Afrikaans – daardie variëteite wat op grond van maatskaplike faktore, soos beroep (Regsafrikaans, Mynwerkersafrikaans), godsdiens (Kanselafrikaans, Moesliemafrikaans), gebruiksdomein (Rugbyafrikaans, SMS-afrikaans), ouderdom (Tienerafrikaans), sosiale groep (Zefrikaans, Flaaitaal) en so meer onderskei kan word.

“Veelkantig” en “kleurvol” is in hierdie lig gesien eintlik beskeie byvoeglike naamwoorde om die verskeidenheid van Afrikaans te beskryf.

  • Gerhard van Huyssteen werk vir die Virtuele Instituut van Afrikaans.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.