Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gerhard van Huyssteen: Uitspraak kan jou lelik in klem sit
Prof. Gerhard van Huyssteen

Woordklemtoon is ’n komplekse verskynsel wat van ’n duiselingwekkende aantal faktore afhang.

Waar, o waar lê die klemtoon in Afrikaanse woorde?

Sê ons redekawel of redekawel? Standaard of standaard? Hospitaal of hospitaal?

Op skool het iemand my geleer dat ’n mens asseblieftoggie net nie die Engelse patroon moet volg nie – dus eerder hospitaal, want die Engelse sê hospital.

Magdaleen Kruger van RSG-faam en haar battery taalkundige grofgeskut moet weekliks bontstaan om die venynige e-posse en SMS’e van luisteraars wat in diepe depressies verval oor een of ander omroeper wat onderwys in plaas van onderwys gesê het, te beantwoord. Of medikus in plaas van medikus. Of waatlemoen in plaas van waatlemoen.

Die Groot Kanon van die Afrikaanse fonologie, prof. Daan Wissing, het by die onlangse Afrikaansegrammatikaslypskool in Johannesburg fassinerende nuwe feite en teorieë aangebied wat lig op die onderwerp werp.

Woordklemtoon is ’n komplekse verskynsel wat van ’n duiselingwekkende aantal faktore afhang. Daar word algemeen geglo dat woorde van Germaanse afkoms (tameletjie) anders werk as woorde wat ons uit klassieke tale (universiteit), Maleis (rabbedoe) en ander tale geleen het.

Die aantal sillabes speel ’n rol, net soos die tipe vokaal en aantal konsonante wat in ’n sillabe voorkom. Ook speel morfologie en woordsoorte ’n belangrike rol.

Samestellings het gewoonlik die klem op die linkerkantste deel, byvoorbeeld iets in ’n boek opsoek, teenoor op soek wees na iets, terwyl sommige morfeme klemtoon na hulle aantrek, byvoorbeeld verskillende sporte vereis dat jy sportief moet wees.

En dan is daar nog betekenis wat ook ’n rol speel: Dink maar aan die verskil tussen kanon en kanon, of tussen roman en roman.

Geen wonder fonoloë sê ’n mens moenie van klemtoon­reëls praat nie, maar eerder van patrone, beginsels en tendense.

In Protogermaans (Afrikaans se oer-oer-oervorm) was die klemtoon na alle wete altyd op die eerste sillabe van ’n woord, soos vandag nog meestal steeds in Yslands (Afrikaans se kleinniggie).

Metterjare het die klempatrone in die Germaanse tale verskuif. In Nederlands en Engels val die klem gewoonlik op een van die laaste drie sillabes van ’n woord, byvoorbeeld die ­Engelse alibi, opinion en lemonade. In langer woorde is die laaste sillabe selfs klemtoonsku.

Tot onlangs is geglo dat dieselfde ook Afrikaans geld, maar Wissing wys hoe Afrikaans se patroon besig is om nog verder te verskuif om eintlik net klemtoon op een van die laaste twee sillabes te verkies.

Waar die Engelse alibi sê, sê ons alibi; die Hollanders sê standaard, ons sê standaard.

Ook in Nederlands: redekavelen, carnaval en kandelaar; teenoor die Afrikaanse redekawel, karnaval en kandelaar.

Selfs saamgestelde plekname is besig om dié patroon in Afrikaans aan te neem: Plettenbergbaai, Onderstepoort, Krugersdorp, Vanderbijlpark, en so meer, soos ook letternaamwoorde met meer as twee sillabes, byvoorbeeld RGN, WNNR, VSA en SABS.

En hierdie klemverskuiwing het niks met Engelse invloed te doen nie. Ons sien eintlik maar net hier ’n proses in aksie wat dalk al honderde jare gelede begin het.

Voor jy dus volgende keer iemand wat onderwys sê, wil kielhaal, dink maar twee keer: Dié persoon is eintlik maar net aan die voorpunt van Afrikaans se groei en vooruitgang.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.