Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geskiedenis deur die oë van ons mense

Ons kan tog nie steeds in 2018 vasklou aan die geskiedenis soos dit van die skepe gesien is nie, skryf Danny Titus.

’n Toneel uit die rolprent “Krotoa”. Foto: Argief

Die verslag van die ministeriële taakspan oor geskiedenis op skool het heelwat reaksies ontlok.

Suid-Afrika se diverse kulture en tale, en natuurlik geskiedenisse, het beslis ’n paadjie om te stap om reg te laat geskied aan almal.

Die taakspan stel dit dat die geskiedenis nie net gaan oor die verlede nie, maar hoe daar gekyk word na die verlede. Daar sal veral gekyk moet word na Afrika in die prekoloniale tydperk; pleks daarvan dat Afrika in die geskiedenisboeke gemarginaliseer word, moet daar eerder gekyk word na Afrika as ’n vasteland met ’n ryke verlede. Dr. Jackie Grobler van Pretoria ondersteun die gedagte van die taakspan hoewel hy vrae het oor die uitvoerbaarheid daarvan.

“Reg aangebied,” sê hy, “is geskiedenis ’n manier om jong mense dieper insig te gee oor die land en wêreld waarin hulle leef, om hulle te leer om verskillende en dikwels teenstrydige standpunte op te weeg en om ingeligte menings en standpunte in te neem – nie net oor dit wat in die verlede gebeur het nie, maar ook oor dit wat op die oomblik in die land en in die wêreld gebeur.”

Dit bly my verbaas hoe bepaalde historiese feite verswyg word en wanneer dit eindelik opgediep word deur ander historici of belangstellendes dit ’n mens tussen die oë tref.

Hy vertel dan, ook verrassend vir my, hoe sy pa beswaar gemaak het teen die Engelse wat hul uitnemendheid aan Afrikanerkinders opgedwing het.

Dan – presies soos my onderwysers onder apartheidonderwys aan ons vertel het, dit is wat die teksboeke sê, maar hierdie is die waarheid – het sy oupa aan sy pa gesê, leer maar dit wat hulle sê, ek sal jou tuis die waarheid leer.

Dit bly my verbaas hoe bepaalde historiese feite verswyg word en wanneer dit eindelik opgediep word deur ander historici of belangstellendes dit ’n mens tussen die oë tref. Is dit dalk waarheen die ministeriële taakspan ons stuur? Gaan ons iewers ietwat van ’n balans in ons Suid-Afrikaanse geskiedenis kry?

Ek het al geskryf oor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ’n studie onderneem het om te kyk na dit wat vir hom wanbalanse in die huidige Suid-Afrikaanse struggle-geskiedenis is.

“Dan skryf ons ons eie geskiedenis”, stel die Akademie dit, en noem hul “eie geskiedenis” die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Daar is soveel uit ons geskiedenis gesny. Enkele voorbeelde wat opkom, is die rol van die Khoi-mense in die totstandkoming van Afrikaans, die rol van Krotoa, van Doman Nomoa en veral Autshumao wat vir baie steeds Herrie die Strandloper is.

Hulle verander toe die eerste uitgawe van die geskiedenisboek, sluit ’n hoofstuk oor bruinmense en een oor Indiërmense in en vertaal dit in Engels.

Dr. Willa Boezak se Naelstringlesings trek my aandag toe hy vertel van die Haerlem wat in 1647 aan die Kaap gestrand het.

Die bemanning was vir ’n jaar in die geselskap van die plaaslike Khoi-Khoi en skryf toe ook so in hul Remonstrantie in 1648 aan die VOC: dat alles wat tot dusver geglo is van die inheemse mense gewoon nie waar is nie.

“Ons is met gasvryheid ontvang vir die hele jaar.”

Die verhaal is verlede jaar vir my bevestig deur die Rijksmuseum se publikasie Goede Hoop: Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600.

Daar is soveel uit ons geskiedenis gesny. Enkele voorbeelde wat opkom, is die rol van die Khoi-mense in die totstandkoming van Afrikaans, die rol van Krotoa, van Doman Nomoa en veral Autshumao wat vir baie steeds Herrie die Strandloper is.

Danny Titus

Ons kan tog nie steeds in 2018 vasklou aan die geskiedenis soos dit van die skepe gesien is nie. Genadendal vier hierdie jaar sy 280ste bestaansjaar. Hulle vier die bydrae tot die Christendom van destyds deur Verhettige Tikkuie, oftewel Moeder Lena, wat haar Nuwe Testament wat sy van die Morawiër Georg Schmidt ontvang het vir jare opgepas het.

Die ossewa van die sendeling Latrobe wat in 1806 gemaak is, word afgestof vir die geleentheid. Latrobe wat in 1815- 1816 skryf van Genadendal Dutch wat hy ervaar het as ’n vroeë vorm van Afrikaans.

Benigna Johannes van Groenekloof (vandag Mamre) wie se lewe die onderwerp was van die eerste Afrikaanse boekies wat op die Duitse drukpers op Genadendal gedruk is.

Die lysie kan nogal lank raak en bied uitstekende geleenthede vir historici wat nie skryf met vergiftigde penne nie.

Die verhaal van Sarah Baartman is ook duidelik ’n deel van geskiedenis wat weer onder die vergrootglas geplaas moet word.

Die lysie kan nogal lank raak en bied uitstekende geleenthede vir historici wat nie skryf met vergiftigde penne nie.

Bruin- en swartmense se betrokkenheid by die Groot Trek word ook langsamerhand erken. En dis waaroor dit gaan, erkenning vir die skeefgetrekte geskiedenis, maar ook geleenthede om voort te gaan met die skryf van die eie geskiedenis.

Miskien is dit die pad wat die ministeriële taakspan aandui: Kom ons kyk na ons geskiedenis deur die oë van die mense van die land, soos Doman Nomoa, Autshumao, Krotoa.

* Dr. Titus is die uitvoerende hoof: korporatiewe aangeleenthede by die ATKV.

Meer oor:  Krotoa  |  Danny Titus  |  Geskiedenis  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.