Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geskiedenis het nuanses nodig
Leopold Scholtz

Die oorwinnaar skryf die geskiedenis, word gesê. ’n Mens kan byvoeg: Wanneer dit gebeur, verval die beskrywing in louter propaganda.

Die afgelope week of twee is die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog op 1 September 1939 (80 jaar gelede) uitvoerig in Europa herdenk. Politici het lang toesprake gehou oor reg teenoor verkeerd, vryheid teenoor verslawing, demokrasie teenoor diktatuur.

Maar die geskiedenis is soos die lewe – nooit eenvoudig nie. Dis vol onverwagte nuanses en wendings, onduidelikhede en onmoontlike keuses.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het Adolf Hitler se Nazi-Duitsland Pole sonder waarskuwing en sonder regverdiging binnegeval. Waarna Brittanje en Frankryk oorlog teen Duitsland verklaar het. Dit maak van Duitsland die boosdoener en Brittanje en Frankryk die goeie ouens, reg?

Dié stelling is nie heeltemal verkeerd nie, maar dis totaal eensydig en ongenuanseerd. Die genuanseerde waarheid is baie ingewikkelder as dié eenvoudige swart-wit-stelling.

’n Week voor die inval het Hitler se minister van buitelandse sake, Joachim von Ribbentrop, ’n nie-aanvalsverdrag met Rusland gesluit.

’n Week voor die inval het Hitler se minister van buitelandse sake, Joachim von Ribbentrop, ’n nie-aanvalsverdrag met Rusland gesluit. Die twee lande het ooreengekom om mekaar nie aan te val nie en neutraal te bly indien enigeen van hulle in ’n konflik met ’n derde moondheid betrokke raak.

Maar daar was meer. In ’n geheime protokol tot die verdrag het die twee ooreengekom om Pole tussen hulle te verdeel en om Rusland toe te laat om die drie Baltiese republiekies (Estland, Letland en Litaue) te annekseer.

Vir Hitler was die voordeel dat hy dus nie oor sy skouer hoef te gekyk het toe hy weswaarts na die Lae Lande en Frankryk geslaan het nie. Vir Stalin was dit dat hy sy invloedsfeer weswaarts kon uitbrei. Dis interessant dat Hitler en Stalin, ideologiese aartsvyande, mekaar so kon vind. Ribbentrop het trouens vanuit Moskou laat weet dat hy hom tussen die kommuniste “soos tussen ou partygenote gevoel het” – waaruit blyk dat die twee pole wat mentaliteit betref taamlik na aan mekaar was.

Nou kan ’n mens vra: Waarom het Brittanje en Frankryk dan oorlog teen Duitsland verklaar, maar nie teen Rusland nie?

Die nie-aanvalsverdrag het praktiese gevolge gekry toe Rusland Pole op 17 September 1939 ingeval en die oostelike helfte van die land geannekseer het. Nou kan ’n mens vra: Waarom het Brittanje en Frankryk dan oorlog teen Duitsland verklaar, maar nie teen Rusland nie? Maak dit hul aanspraak om die goeie ouens te wees dan nie ongeldig nie? Daar is inderdaad iets voor te sê, maar in die harde wêreld van die internasionale politiek moet moraliteit dikwels – meestal – tweede viool speel.

Die Britte en Franse het om geografiese redes bitter min moontlikheid gehad om oorlog teen Rusland te voer. Bowendien sou dit Duitsland en Rusland in ’n enkele groot bondgenootskap teen die Westerse demokrasieë verenig het – en dit was vir Londen en Parys begryplikerwys ’n brug te ver.

Hulle het hul hande al klaar vol gehad met die stryd teen die Duitsers. In 1940 het die Wehrmacht oor Nederland, België en Frankryk gerol en die Britse magte by Duinkerken stert tussen die bene terug oor die Kanaal laat vlug. Nee, ’n bykomende oorlog teen Stalin was geen praktiese moontlikheid nie.

Maar deur Hitler se onbesonne inval van Rusland in Junie 1941 is laasgenoemde saam met Brittanje, en later Amerika ook, in ’n enkele bondgenootskap ingedwing. En toe het Stalin in die oorwinnaars se geskiedskrywing (altans die Russe s’n) een van die goeie ouens geword.

Gelukkig laat die liberale demokrasie voldoende vryheid vir onafhanklike historici om die nodige nuanses aan te bring. Die narratief wat jy deesdae van Westerse historici hoor, is behoorlik genuanseerd.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Oorlog  |  Duitsland  |  Rusland  |  Nie-Invalsverdrag  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.