Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geskiedenis só ‘gekanselleer’
Alida Kok

Die proses om openbare standbeelde, simbole en monumente uit die apartheid- en koloniale era na temaparke te verskuif, is deur pres. Cyril Ramaphosa en die kabinet goedgekeur.

’n Oudit van standbeelde, simbole en monumente sal gedoen word en die uitslag daarvan “sal die identifisering van voorgestelde kulturele nasiebouparke lei”, volgens Phumla Williams, woordvoerder van die kabinet.

Die standbeeldoudit is aanbeveel deur ’n ministeriële komitee wat, in pas met die internasionale tydsgees van cancel culture of sensuur, na die “vraagstuk van apartheid en koloniale openbare standbeelde” kyk. Die oudit sal aanstootlikheid meetbaar maak deur te bepaal of standbeelde, simbole en monumente kwetsend genoeg is om dit na “kulturele nasiebouparke” te verskuif.

Die ANC as regerende party moet sekerlik tans, onder meer weens die omvang van Covid-19-korrupsie, sy minste steun in 26 jaar beleef. Die algemene Suid-Afrikaner wat nie ’n welsyntoelaag ontvang nie, vertrou die ANC nie. Korrupsie in die regerende party het die band tussen die party en die mense skade berokken.

Net so het die afwesigheid van standbeelde ná hul verskuiwing ook kragtige simboliek.

Ondanks dié lae vertrouensvlakke het die besluit om openbare standbeelde wat ten gunste van apartheid en kolonialisme geag word, na temaparke te verskuif, die poten­siaal om direk te spreek met ’n spesifieke politieke geheue by mense.

Die simboliese krag van so ’n verskuiwing sal so geweldig wees dat dit ’n bydrae sal lewer om die band tussen die party en die mense op ’n verwronge wyse te herstel. Terselfdertyd sal die ANC toegang verkry tot dieselfde borrelende woede en frustrasie onder mense wat die EFF graag tap om steun te kry.

Hedvig Turai, ’n kunshistorikus en -kritikus van Boedapest, skryf wanneer politici dit regkry om openbare standbeelde wat aan voormalige owerhede herinner, na temaparke te verskuif, ’n nuwe simboliese mag (wat gepaardgaan met ’n nuwe politieke orde) baie sterk in ’n samelewing aangevoel word. Die teenwoordigheid van standbeelde en monumente het simboliese waarde. Net so het die afwesigheid daarvan ná hul verskuiwing ook kragtige simboliek.

Van die beste verwysings wat ons het van temaparke vir standbeelde wat opgerig is weens besluite wat van bo af geneem is – en seker ook die voorbeelde waarop die regering sy idee modelleer – is Grútaspark in Litaue en Szoborpark in Hongarye.

Dié parke huisves komiese versamelings van standbeelde, simbole en monumente uit die Sowjet-era.

Dié parke huisves komiese versamelings van standbeelde, simbole en monumente uit die Sowjet-era. Szoborpark is in die buitewyke van Boedapest in ’n semi-industriële niemandsland wat beskryf word as “ ’n plek sonder ’n gees”. Grútaspark, wat uitgelê is om ’n goelag na te boots, is in ’n woud. Dit staan onder plaaslike mense ook as “Stalin se Wêreld” bekend en het ’n mallemeule, restaurant en klein dieretuin.

Deur die oprigting van dié temaparke word gepoog om ikonoklasme, sensuur en vandalisme van ou beelde en monumente te vermy, maar terselfdertyd trek ’n nuwe politieke orde ’n streep op die ou Sowjet-regime deur die beelde, kuns en monumente wat die Sowjetunie verheerlik het, op ’n komiese wyse in afgeleë “kampe” te plaas.

Anders as die voormalige Sowjet-satellietstate, bevat die Suid-Afrikaanse samelewing minderheidsgroepe vir wie sogenaamde apartheids- en koloniale beelde, simbole en monumente beteke­nis­volle verwysings na hul afkoms en geskiedenis is. Minderheidsgroepe moenie die kragtige simboliek van die verwydering daarvan onderskat nie en moenie wag dat ’n ANC-regering historiese bewyse van groepe se afkoms in ’n komiese niemandsland plaas nie.

Minderhede moet hul teenwoordigheid in die openbaar self beheer..

Meer oor:  Alida Kok  |  Verskuiwing  |  Standbeelde  |  Politiek  |  Temapark  |  Politieke Mag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.