Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geslag is ook ’n faktor in geweld
Amanda Gouws

Chris Jones and Jurie van den Heever se artikel (22.05) oor die grammatika van geweld is belangrik omdat dit poog om die oorsprong van geweld by die mens te verklaar.

Hulle onderskei tussen reaktiewe en pro-aktiewe geweld en redeneer dat navorsers sukkel om rasionele verklarings vir geweld te vind. Hulle gee ons egter ’n baie geslagsblinde begrip van geweld, want om geweld te verstaan moet ons kyk na wie die geweld pleeg.

Selfs in die jagter-vergaarder-tydperk was die veg-of-vlug-instink reeds daar. Dit het mense gehelp om te oorleef. Die vraag is hoekom ons nou in moderne samelewings meer gewelddadig is as ooit tevore.

As ons op ’n biologiese vlak kyk na onlangse navorsing oor die neurale netwerke in die brein, dan het vroue meer netwerke tussen die twee breinlobbe as mans, wat meer netwerke in die lobbe het. Dié verskil veroorsaak dat vroue meer gefokus is op sosialisering en empatie. Maar voordat ons dink dat biologie ons lot is, moet ons ook die groot invloed van omgewing op ons gedrag in ag neem. Waarop dit neerkom, is dat geweld aangeleer word in albei geslagte.

Baie vroue wat van moord aangekla word, was in ’n gewelddadige verhouding en het die man uit selfverdediging vermoor.

In Albert Bandura se bekende 1961-eksperiment met Bobo-poppe het volwassenes die poppe voor voorskoolse kinders aangerand. Wanneer die kinders daarna die poppe gekry het om mee te speel, het hulle dit ook geslaan. Daar is kritiek op die studie, maar dit bevestig dat kinders wat in ’n gewelddadige omgewing grootword, heel moontlik later gewelddadig sal wees. Kinders leer om hul probleme met geweld op te los. Seuns leer om te slaan en meisies leer om slagoffers te wees.

’n Geslagsontleding van seksuele geweld wys dat 90% van verkragtingslagoffers globaal vroue is, maar 99% van mans is oortreders (hulle verkrag ook ander mans).

Dit is moeilik om ’n globale skatting vir tronkbevolkings te kry, maar in die VSA is dit 94% mans en 6% vroue. In Afrika suid van die Sahara is daar vir elke 30 mans een vrou in ’n tronk. Baie vroue wat van moord aangekla word, was in ’n gewelddadige verhouding en het die man uit selfverdediging vermoor.

Daar is ’n groot stuk literatuur oor oorlog en vrede wat wys dat vroue minder geneig is om oorlog te ondersteun en groter voorstanders van vrede is as mans. Dit beeld vroue uit as vredeliewend, maar daar is baie empiriese bewyse hiervoor.

Daar is ’n groot stuk literatuur oor oorlog en vrede wat wys dat vroue minder geneig is om oorlog te ondersteun en groter voorstanders van vrede is as mans.

Prof. Louise du Toit van die Universiteit Stellenbosch se departement van filosofie wat verklarings vir seksuele geweld in Suid-Afrika ondersoek het, wys uit dat dié verklarings nie geslag in ag neem nie. Daar is die redenasie dat politieke geweld (onder apartheid) mense blootgestel het aan geweld en dat die geweld ná die oorgang voortduur. Maar hoekom is mans gewelddadig as vroue ook aan die geweld blootgestel is?

Nog ’n verklaring is dat sosiale uitsluiting en armoede tot geweld lei, maar hoekom neem die geweld die vorm van verkragting aan? Vroue is ook arm.

Mans en vroue word van geboorte af aan die reëls van patriargie blootgestel en daarin gesosialiseer. Jones en Van den Heever redeneer dat geweld lank voor hierdie sosialisering bestaan het. Dit is wel die geval, maar die sosialisering wat een groep dominant maak, maak die pro-aktiewe uitoefening van geweld net soveel meer moontlik.

Waaroor navorsing dit eens het, is dat kinders wat in ’n liefdevolle omgewing grootword en wat ouers het wat na hulle omsien, veel minder aggressie later in hul lewe toon. Daar is dus ’n verhouding tussen nature en nurture.

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement van politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Oorlog  |  Geslag  |  Geweld  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.