Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gesoek: Kuur vir ras-virus in SA
Johann Maarman

Ons, my en jou, dierbare laslappieland is met ’n dodeliker virus as die Covid-19-virus besmet. As dit nie in remissie gedwing word nie, sal die liggaam van Suid-Afrika se demokrasie uitteer en sterf.

Die virus se lang naam is “polarisasie van gemeenskappe in Suid-Afrika”. Kort titel: Rassehaat.

Die laaste paar weke het die land en die wêreld gesien hoe dié virus gemeenskappe in Suid-Afrika besmet en siek gemaak het. Eers was dit in Senekal en nou bietjie dag in Brackenfell in die noordelike voorstede van Kaapstad. Dis om van siek te word. En dit maak ’n mens depressief hoe die rassevuur aangeblaas word.

Ons moet maar eerlik wees: Al wen die Springbok-rugbyspan of die Protea- krieketspan hoeveel Wêreldbekers, is dit nie die kuur of teenmiddel vir nasiebou nie. Dit werk soos ’n inspuiting – net vir ’n kort rukkie doeltreffend en sodra dit uitgetrek het, sit ons maar weer met dieselfde kwale en pyn.

Maar toe ruk die EFF op by die skool. Vuiste word gelig teen die “wit gevaar” en toe gebeur wat ons nou al weet sal gebeur: iemand verloor meer as ’n rooi beret.

Maar laat ek praat oor wat naaste aan die huis is – in my geval dus die onaangename episode wat in Brackenfell afgespeel het. Soos tonele uit die apartheidsera, wit mans wat verbete veg teen ’n “swart gevaar”. Verset aan swart kant versus wit onversetlikheid. Ou gevoelens van vernedering, uitsluiting wat na bo borrel.

EFF-lede wat verwilder word, iemand wat ’n vroulike EFF-lid twee keer met ’n stok slaan en skree dat die EFF nie kaart en transport het om by dié skool te kom betoog nie. Dit het so ’n wollerige apartheid-nasmaak in die mond gelaat.

En dit het my terstond laat dink aan die woorde van die skrywer en dramaturg Bertolt Brecht, wat gesê het: “The human race tends to remember the abuses to which it has been subjected rather than the endearments. What’s left of kisses? Wounds, however, leave scars.”

Miskien moes die ouers wat die matriekafskeid gereël het, dit in ag geneem het dat iemand aanstoot sou neem dat hulle nie welkom was nie. En in ’n land wat nog gery word deur sy swart-wit verlede, dat dit ’n kleurkwessie sou word by ’n skool wat lankal nie meer die domein van wit leerlinge alleen is nie. Dalk kon die ouers dit onder mekaar uitgepraat het? Dalk het hulle?

Rougeit teen rougeit bars los. Alle moermeters op 100. Testosteroon in die lug. Sterk mannetjies, bors teen bors. Boelie teen boelie.

Maar toe ruk die EFF op by die skool. Vuiste word gelig teen die “wit gevaar” en toe gebeur wat ons nou al weet sal gebeur: iemand verloor meer as ’n rooi beret. Rougeit teen rougeit bars los. Alle moermeters op 100. Testosteroon in die lug. Sterk mannetjies, bors teen bors. Boelie teen boelie. Soos by Senekal, ook by Brackenfell. Maar anders as by Senekal, waar die wedersydse politiekery die gemoedere bly stook het, was dit by Brackenfell burgers teen ’n politieke party met aspirasies om te regeer, maar wat die redelikheid by die voor- en agterdeur uitgevee het.

Maar is dit regtig nodig dat die EFF opdaag vir elke partytjie wat net ruik na ras en kleur? Opportuniste. Meesters van wat Brecht noem “organized confusion” en “planned caprice”. En al hoe meer sien ons dit afspeel: die verdrukte wat die verdrukker word. Dat dié wat respek en mooi saamspeel vir hulself eis, self nie respek betoon of mooi kan saamspeel nie.

Elke keer wanner die EFF (of enige ander politieke party) op ’n wa spring om te teer op die swakhede van mense, die letsels rou skaaf met hul intimidasie en boelietaktieke, die haat tussen swart en wit aanblaas, dan dink ek aan die woorde van Brecht:

“All the gang of those who rule us

Hope our quarrels never stop

Helping them to split and fool us

So they can remain on top.”

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Brackenfell  |  Boelies  |  Rassehaat  |  Eff  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.