Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gesoek: Normale SA samelewing
Foto: Getty Images

In die hoogbloei van apartheid het ’n mens meermale van die protes teen die abnormaliteit en die versugting na normaliteit in die Suid-Afrikaanse samelewing verneem.

Veral wanneer probeer is om byvoorbeeld sportspanne meer verteenwoordigend te maak, het die kreet verrys: “No normal sport in an abnormal society.”

Die abnormaliteit van apartheid was veral geleë in die verpolitisering van hopeloos te veel besluite wat gewone mense ten opsigte van alledaagse situasies moes neem.

Besluite soos na watter skool en universiteit om jou kind te stuur, waar jy woon, (meesal ook) waar jy gaan werk, by watter winkels jy koop, waar jy jou hare laat sny, of jy ’n fliek of teaterstuk gaan kyk, of jy kan werk vir bevordering, of jy ’n onder­neming kan begin, watter soort onder­neming jy kan begin – dit was keer op keer politieke besluite.

Apartheid was so destruktief omdat dit die gewone, alledaagse lewe van mense op hierdie manier verpolitiseer het.

Een van die ergste voorbeelde hiervan was die feit dat die apartheidsregime jou werklik selfs perke gestel het op wat jy in winkels in die swart gebiede op jou rakke mog aanhou.

Een van die redes hiervoor was die vergesigte van dr. Connie Mulder – amper-amper John Vorster se opvolger, was dit nie vir die Inligtingskandaal nie.

Tot die aantal items wat swart mense in Soweto by ’n kruidenierswinkel kon koop, was die uitkoms van ’n politieke besluit!

Mulder was die man wat in die vroeë 1970’s met groot stelligheid verklaar het dat 1978 die groot “omdraaijaar” sou wees – dié jaar wanneer die ontploffende getal swart mense wat na stede stroom het, sou ophou en en masse sou begin terugkeer na die lushof van hul “tuislande”.

Om werklikheid aan dié hersenskim te laat kleef, moes gesorg word dat die “townships” allesbehalwe aantreklike plekke sou wees wat “die groot omdraai” sou keer.

Gevolglik is bitter min gedoen om die swart buurte aantreklik te maak. Een gevolg van dié kolossale ideologiese program van sosiale ingenieurswese was om die getal items op die rakke van kruidenierswinkels te beperk – en wel tot iets soos 29 (of ’n verwante verspotte getal).

Tot die aantal items wat swart mense in Soweto by ’n kruidenierswinkel kon koop, was die uitkoms van ’n politieke besluit!

Genadiglik leef ons deesdae in ’n ander wêreld. Die dinge wat ek hier bo genoem het, is grootliks nie meer die gevolg van politieke besluite nie. Dit be­teken egter nie dat ons samelewing “genormaliseer” is nie. Allesbehalwe.

Ons besluite in die alledaagse lewe deesdae is nie meer meesal polities gedrewe nie, maar wel feitlik deurgaans misdaadvoorkomend.

Alles wat ons deesdae doen om “normaal” te probeer lewe, het te make met die voorkoming van misdaad en geweld.

Fortuine word aan veiligheidsmaatreëls by huise en ondernemings bestee.

Prof. Anton van Niekerk

Die eerste vereiste as jy ’n nuwe motor wil verseker, is ’n opsporingstoestel.

Strate in middelklasbuurte lyk al hoe meer na tronke soos die lewe in die huis ingekerker word deur afskuwelike traliewerk.

Die roete van vroulike Maties om saans te gaan toets skryf, word bepaal deur of persoonlike beskerming beskikbaar is.

Die nuutste aanbeveling is dat jy dit nie langer moet waag om op Tafelberg te gaan stap sonder ’n span veiligheidswagte nie!

Al my genoemde voorbeelde het boonop ’n veronderstelde middelklaskonteks. Ons praat dan nog nie eens van die uitsiglose situasie in laerinkomste- en informele woongebiede nie.

’n “Normale” samelewing? Alles­behalwe.

Ons het met pres. Cyril Rama­phosa se staatsrede verneem van die drome wat hy droom. Ek dink die meeste Suid-Afrikaners droom oor normaliteit – normaliteit vir die eerste keer. Wanneer, indien ooit, gaan ons dit sien?

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Drome  |  Gemeenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.