Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Getransformeer soos wat dit vir my saak maak
Gerhard van Huyssteen

Pankoppe, gryskoppe, krulkoppe, kroeskoppe, kaalkoppe. Lang hare, kort hare, takhare. Rastalokke, blondinevlegsels, brunetkapsels, gemmerkat­kuiwe. Melkbaarde, hipsterbaarde en hardebaarde.

Dis die aansig wat ek die afgelope week van agter uit ’n saal in Buffelspoort had. Ek woon vir die eerste keer in my lewe die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se algemene jaarvergadering as waarnemer by. Ek moet ver agter sit sonder stem en stemreg, maar ek mag kýk.

Wat ek sien, is pankoppe en kie: ’n getransformeerde (of dan ten minste transformerende) organisasie. Goed, goed, die byna 300 stemgeregtigdes (waarvan 71 onder 18 jaar oud is), is nou nie hééltemal verteenwoordigend van die Afrikaanse demografie nie – in elk geval nie op die manier waarop ons regering demografiese verteenwoordiging wil meet en in werking stel nie.

Maar dis getransformeerd op maniere wat vir my saak maak. Op die oog af is daar nie skeiding tussen bruin, swart en wit nie – almal drink deurmekruis koffie en lag saam. G’n niks se eenkant groepies nie. En as daar onderstrominge en kwaaigeite is, is dit omdat mense oor ander goed as velkleur kwaai en dwars is. As iemand ’n prys moet kry, of sy/haar sê moet sê of ’n werk moet doen, geskied dit sonder aansien des velkleurs. Kan jy dit doen? Wil jy dit doen? Doen dit dan!

Ek hoop meer (Afrikaanse) organisasies kan in die toekoms so lyk en so werk.

Die afgelope agt jaar het die formidabele Japie Gouws aan stuur van sake by die ATKV gestaan. Hy’s ’n syfertjiesman, ’n sakepersoon wat veronderstel is om meer te weet van debiteure en krediteure as die spelling van dié twee woorde.

Maar daarin lê juis sy krag: Hy is sakeman én taalman: ’n saketaalman eerder as ’n taalsakeman; ’n leier wat die Afrikaanse landskap verstaan en bestuur soos wat dit van ’n sensitiewe strateeg verwag
kan word.

Ek het maar in my bakkebaard gegrom en ’n weerbarstige krul van voorkop af weggevee.

Persoonlik het ek direkte ervaring van sy sakeneus gehad. Met die totstandkoming van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het hy ’n deurslaggewende rol gespeel – nie net om alle rolspelers om tafels te kry nie, maar ook om kritiese en kritieke vrae te stel: Waar is die risikoplan? Hoe gaan VivA volhoubaar wees? Wie besit die intellek­tuelegoedereregte? Wie gaan die ouditeure wees? Het jy die King III-verslag gelees?

Ek het maar in my bakkebaard gegrom en ’n weerbarstige krul van voorkop af weggevee. Maar in die proses het ek baie by dié saketaalman geleer. Dat taal- en kultuursake nie net met passie en entoe­siasme bestuur moet word nie, maar ook met ’n deeglike sakebegronding.

Wanneer afskeid geneem word van ’n af- en/of uittredende persoon, klink dit dikwels soos ’n begrafnisbrief. Ons praat in die verlede tyd en onthou die goeie. Ons kies om nie die kwaadoomblikke te onthou nie. En dis goed so.

Mag Japie ook onthou word as ’n leier wat bygedra het om ’n Trots Suid-Afrikaanse organisasie soos die ATKV die ­nuwe millennium in te neem. Ek kan maar net hoop dat ek eendag sommige van die ietse wat ek by hom geleer het ook suksesvol kan toepas.

Op Japie se lewendebegrafnisbrief pryk sy nou reeds ikoniese rieldansfoto waar hy ingenome en ingetoë glimlaggend middellugs sweef.

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Taal  |  Transformasie  |  Japie Gouws
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.