Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Getuie by die doop van ’n blinknuwe dag

Wat sal gebeur as ek kon hoor wat ’n boom sê?

Esté Gross

Sal hy murmureer of miskien spin as ek sy growwe stam streel?

En as ’n vink eendag verby my sou vlieg en raad vra, sal ek erken dat ek eintlik by hóm wil kers opsteek oor hoe hy so kan uithou en aanhou om sy nes oor en oor te bou.

Dit is dagbreek en ek sit onder die lukwart en pieker hieroor. Die luidrugtige voëlgesang het my na buite gelok en soos ’n oorvol emmer in my kamervenster ingespoel.

Ek is nou geroep as getuie by die doop van die nuwe dag.

Een voëltjie, hoog bo die takke, sit vermakerig sy hoogste noot in, ’n ander een ryg ’n paar staccato’s uit en ’n mossie swiep verby en verf fermatas in die lug.

En ek? Ek luister, maar wat werklik gesê word, bly verborge vir my mensore.

Ek is ín die natuur, maar voel soos ’n buitestander, ’n toeris in my eie tuin.

Die mens moet nog baie doen as ons die natuur se vertroue wil wen om sy geheime met ons te deel.

Dalk is dit vir ons eie beswil om nie als te kan hoor en te verstaan nie…

Dalk is dit vir ons eie beswil om nie als te kan hoor en te verstaan nie…

Dink maar aan arme Klausner in Roald Dahl se kortverhaal “The Soundmachine”.

Klausner, ’n man wat ’n obsessie het met klank, bou ’n klankmasjien sodat hy na die frekwensies wat onhoorbaar is vir die menslike oor, kan luister.

Hiermee kon hy skielik hoor hoe die rose gil as sy buurvrou hulle met ’n snoeiskêr knip – en hoe ’n boom hartstogtelik huil toe Klausner hom met ’n byl kap.

Klausner vra sy vriend dr. Scott om te bevestig of dit wat hy hoor, wáár is en vra hom om ook te luister.

Dit bly tot op die einde onduidelik of die dokter wel die geween van die boom kon hoor en of hy maar eerder besluit het om dit te ontken . . .

Want, as jy dit selfs net eenmaal sou hoor, sal jy nie onaangeraak en wreed met die natuur kan omgaan nie.

In die dokumênter The Octopus Teacher knoop ’n rolprentmaker ’n vriendskap met ’n seekat aan.

Daar vorm ’n band tussen die land- en seebewoner, en die seekat word ’n uitgebrande mens se leermeester.

Maar dit het die duiker tyd geneem om die skugter seekat se vertroue te wen.

Die dag stap aan en ek staan amper op om huis se kant toe te keer.

En skielik, bo my kop op ’n nabye tak, kom sit ’n janfrederik, so naby dat ek sy oranje veredos kan sien en sy stert wat ritmies op en af wip terwyl hy uit volle bors sing.

Ek roer nie. Sit doodstil.

“Probeer jy dalk iets vir my sê?” fluister ek sag.

Miskien, hoop ek, sal ek jou verstaan – as ek net so ’n klein bietjie langer sit.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Esté Gross  |  Gehoor  |  Dag  |  Doop  |  Praat  |  Diere  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.