Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Geweld is nie die antwoord

Iets in die land is besig om los te breek. Dis asof die moraliteit wat ons as samelewing bind, al hoe swakker word.

Raymond Willemse
Raymond Willemse

Mense raak by die dag meer gemeen en haatlik teenoor ander wie se kultuur, ras of politieke oortuiging van hulle s’n verskil.

Kyk jy wat sekere mense kwytraak, is dit moeilik om te glo dat hulle deel is van ’n gemeenskap van (meestal) wetsgehoorsame burgers. Verlede jaar het dit vir ’n rukkie gelyk asof ons bymekaargekom en saamgestaan het in ons stryd teen die virus en mekaar ook begin vind het. Dit was van korte duur.

Sommige verlekker hulle in ander se leed. Toe ’n bebloede Solly Msimanga, die DA se Gautengse leier, verlede week deur ’n man aangerand is, was daar diegene wat geen empatie – ondanks dit wat tot die bakleiery aanleiding gegee het – getoon het nie. Mense het op sosiale media die aanvaller aangehits om sommer met ’n paar ander politici, onder andere Mmusi Maimane, hoofaktivis in die One South Africa Movement en oudleier van die DA, en Fikile Mbalula, minister van vervoer, ook af te reken.

Misdadigers se minagting van reg en orde word ’n nasionale sportsoort.

Misdadigers se minagting van reg en orde word ’n nasionale sportsoort. Openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging word ’n aanvaarbare manier om jou ontevredenheid uit te spreek.

Onlangs het inwoners van die Vrystaatse dorp Winburg die strate ingevaar toe dit bekend geword het dat pres. Cyril Ramaphosa nie meer hul dorp op Vryheidsdag gaan besoek nie. Geweld het uitgebreek en oproeriges het skade aan eiendomme aangerig.

Dis ook betreurenswaardig om te aanskou hoe geweld deesdae deursypel na howe. Howe is veronderstel om instellings te wees waar die wet geïnterpreteer en toegepas word sodat reg en geregtigheid kan geskied. Maar onder ons is daar diegene wat skade aan howe aanrig omdat hulle nie respek het vir die belangrike rol wat dié instellings in ons land vertolk nie.

Ons enigste wapen teen dié kwessies behoort ons stemreg te wees – nie die uitrol van brandende buitebande, die beskadiging van eiendom of die gooi van klippe nie.

Dan is daar ook dié met ’n selektiewe geheue en histeriese blindheid oor kwessies waaroor hulle andersins blou moord sal skree. Vir ’n party wat glo voorstanders van nierassigheid is, hang die ANC se onderrok darem ver uit.

Angus McKenzie, ’n DA-raadslid van die Kaapstad-metro, is na bewering ’n afgryslike rassistiese term deur die ANC-parlementslid Faiez Jacobs toegesnou.

Angus McKenzie, ’n DA-raadslid van die Kaapstad-metro, is na bewering ’n afgryslike rassistiese term deur die ANC-parlementslid Faiez Jacobs toegesnou.

McKenzie beweer Jacobs het op ’n rassistiese manier na hom verwys in ’n openbare WhatsApp-groep en het daarom ’n klag by die polisiekantoor teen Jacobs ingedien.

Pleks daarvan om Jacobs weens sy beweerde onvanpaste uitlatings oor die kole te haal, het Ronalda Nalumango, die ANC se Wes-Kaapse saamroeper, McKenzie se klagte as ligsinnig en ’n foefie afgemaak.

Was die skoen aan die ander voet, het sake beslis anders gelyk en sou die klag nie so ligtelik opgeneem word nie.

Die Menseregtekommissie, gewoonlik voor in die koor met sulke voorvalle, is ook tjoepstil. Was die skoen aan die ander voet, sou iemand waarskynlik reeds geëis het dat McKenzie bedank, maar die reëls van gelykheid word blykbaar selektief toegepas.

Ons moet kennis neem van dit wat in ons gemeenskap gebeur. Daar is mense wat nie meer glo in die waarheid of in etiese optrede nie.

Geweld was nog nooit ’n antwoord nie en ons mag nooit geweld verheerlik nie. Doen ons dit, dryf dit net ’n groter wig in tussen mense van verskillende rasse en kulture.

  • Willemse is ’n redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Rassisme  |  Aanvalle  |  Apartheid  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.